WTF? Rudi Cronjé van Ashtray Electric gesels met Annie Klopper

  • 0

Ek het in 2009 laas bietjie met Ashtray Electric gesels, dieselfde jaar wat hulle die MK Award vir Beste Nuweling verower het. Met groot ywer het ek hierdie week hul jongste EP, getiteld WTF, beluister – en nie net omdat dit gratis op die web beskikbaar is nie. Ek was nuuskierig om te hoor watter progressie daar sedert hul vorige vollengte Measured in Falls (2011) plaasgevind het. Dis veral die vinnige “Go” en besonder mooi “Looper” wat my byval. Toe hark ek vir Rudi Cronjé, kitaarspeler vir die groep, nader vir ’n paar vrae.

Julle het pas ’n nuwe EP genaamd WTF vrygestel. WTF, Rudi, hoekom was julle vir so lank stil?

Ná die vorige vollengte-album, Measured in Falls, en die SAMA- en MK-sukses wat daarmee saamgegaan het, dink ek ons het bietjie verdwaal. Ons het bitter baie in MIF ingesit en het so ’n tydjie nodig gehad om ons koppe weer skoon te kry en reg te maak vir WTF. Die naam het ons een middag oor ’n paar biere getref. Net daar en dan het ons besluit om die hele ding self te doen.

Die EP kan gratis afgelaai word by www.ashtrayelectric.co.za. WTF, waarom die besluit om dit gratis in die kuberruim beskikbaar te stel? (Ek sal hierna ophou met die WTF references; dis net te maklik …)

Hoekom nie? Ons het nou al twee vollengte-albums op die tradisionele manier uitgebring en ons het gevoel dit is tyd vir iets anders. Wat ons rêrig nie verwag het nie, was die onmiddellike terugvoer. Gewoonlik vat dit mos ’n paar dae vir die albums om die winkels se rakke te sien, maar met WTF was dit nie tien minute nie, toe kan die mense daarna luister. Soos die Engelsman sê: instant gratification.


Die omslag van die album WTF

Is hierdie vyf songs die eerste stap na ’n nuwe vollengte-album, of wat lê voor?

Daar is nog niks sulke goed bespreek nie. Dink ons sal seker eers weer bietjie verdwaal voor ons sulke keuses maak.

Ek hoor duidelike variasie tussen die liedjies. Behalwe vir die kenmerkende ballades is daar byvoorbeeld iets van ekstra-harde rock in “Go” en ’n eksperimentele gevoel in “Looper”. Was julle benadering tot liedjieskryf met hierdie EP anders as met julle laaste vrystelling?

Dis nie veel anders as hoe ons dit gewoonlik doen nie. Die idees vir die liedjies kom van allerhande plekke af, soos gewoonlik. Die verskil is dalk dat ons geen ander mense betrokke gehad het nie en wat jy hoor, is presies wat ons wou gehad het.

Wat ís die storie agter die pragtige “Looper”, waar André praat, met sy hakkel, eerder as sing?

Ek dink die meeste mense weet nou al dat André verskriklik hakkel as hy nie sing nie. Daar word ’n paar keer in van ons vorige albums daarna verwys. Ek dink hierdie keer het hy totaal en al vrede gemaak daarmee. Toe ons dit nou die aand vir die eerste keer uitvoer, was dit ’n groot mylpaal vir hom gewees.

Wanneer julle aan nuwe materiaal werk, word julle beïnvloed deur nuwe tendense in die musiekbedryf of speel persoonlike musikale groei ’n groter rol?

Ek dink nie ons was al ooit hier gewees om die tendense te volg nie. Dis altyd belangriker vir ons om persoonlik te groei.


Foto: Adriaan Louw

Drie jaar gelede het ek en jy gesels kort ná die vrystelling van Bellville Rock City. Baie mense het julle daardeur vir die eerste keer leer ken, maar baie water het intussen onderdeur die brug geloop. Dink jy in retrospek BRC het julle (en die ander bands daarby betrokke) in ’n sekere “boksie” geplaas waaruit bietjie weggebreek moes word, of was daardie samewerking uit en uit voordelig?

Jy’s doodreg. Daar het al baie water onderdeur die brug geloop. Dit het ons vir seker in ’n boks saam gesit. Daardie samekwerking op daai spesifieke tyd was baie voordelig, maar soos dit maar met die meeste verhoudings gaan, het dit alles tot ’n einde gekom … vir sekeres van ons. Die hele BRC-ding is glad nie so offisieel soos wat dit voorkom/voorgekom het nie. Ons was maar net almal daai tyd besig om musiek te maak wat mense na wou luister.

So waar kan ons julle volgende sien optree of ’n video’tjie kyk?

Woodlands College, Johannesburg, die 29ste September. Ons is ook bitter opgewonde, want ons speel vir die eerste keer die 30ste September in Pretoria by Park Acoustics. Dan is ons by die Visrivier-kanomarathon die 5de Oktober. Daar is nog n paar shows in die pyplyn … Video’s? Daar sal vir seker een of twee kom van hierdie EP af.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top