Wmj?

  • 0

"Wmj?" kom die e-pos deurgesnel.
Ek dink by myself: "Wat de hel
bedoel sy?
Wmj? Wmj? Wat rook sy?"

Ek ken nie BBM-taal
Facebook-taal
MXit-taal
of internet-taal.

Ek hou van woorde
en letters
en leestekens
op die regte plekke.

"Wmj?" kom die e-pos deurgesnel.
Ek dink by myself: "Wat de hel
bedoel sy?
Wmj? Wmj? Wat rook sy?"

Heeldag en aldag probeer ek hierdie boodskap ontsyfer.
Met woordeboeke en ensiklopedieë onder my neus:
Niks! Wat kan "wmj?" beteken, wat kan dit wees?
Hoe moet ek dit uitspreek, hoe moet ek dit lees?

Een uur later:
"Het jy jou e-mail gekry?"
"Ja."
"Is jy kwaad vir my, hoekom vertel jy my nie wmj nie?"

Ek wend my na Google.
Ek wend my na BBM en MXit.
Ek skryf vir almal: "Wmj?"
Almal skryf terug: "Niks."

Ek voel toe veilig om uiteindelik
die aanvanklike e-pos te antwoord.
Ek skryf: "Niks."
Sy skryf: "O, so jy doen niks."

Ek antwoord hierdie keer:
"Nee, ek werk."
Sy skryf:  
"Nou, was dit so moeilik om my te vertel Wat Maak Jy?"

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top