Willemien & is "deels Willemien, deels Philomène"

  • 0

Die Pretoriaanse sanger/liedjieskrywer Willemien & stuur ’n paar nuwe projekte van stapel in die nabye toekoms. Sy beantwoord ’n paar vrae.

Jy het pas ’n eerste musiekvideo vir jou projek Willemien & uitgereik, vir die snit “Ewewig”. As ek so deur die foto’s op jou Facebook-blad blaai, lyk dit of jy ’n besonderse passie vir digkuns het. Watter rol het dit gespeel in die skep van hierdie lied? Wat kom vir jou eerste, musiek of liriek? 

Ek dink nog altyd: as jy self skryf en komponeer, moet jy lees en luister. Maar sjoe, dis taait. Ek sou sê 50/50. Die lirieke moet die musiek ondersteun en ook andersom. Maar wanneer ek liedjies skryf, beïnvloed die daaglikse lewe se doen en late my die meeste.

In die geval van “Ewewig” het ek in 2008 een Desembervakansie by die see weer gedink aan die ewewig-fisikareël wat ons in skeinat op skool geleer het. Ek en my pa geniet dit om te roei en op ’n dag het ons onsself tussen die strome bevind, maar ons kon nie vorentoe of agtertoe beweeg in die kajakke nie. Toe ons, na ’n groot gesukkel, weer op die land aankom, het die ewewig/stagnasie-gevoel my bygebly en het ek toe “Ewewig” se lirieke begin skryf. Dit was ook die tyd toe baie mense gepraat het oor die boek Tipping point deur Malcolm Gladwell. Die konsep het aangesluit by die liedjie se storie, so toe vind ek uit wat die Afrikaanse vertaling is van tipping point – dis glo mespunt.

Ek het eers in 2012 die liedjie opgeneem, want ek het gevoel die song vra vir ’n groter klank. So toe maak ek kontak met Peach van Pletzen and he worked his magic!

Wat wel interessant is, is dat ek hierdie jaar op Marlene van Niekerk se gedig “Tangaroa” afgekom het in haar nuutste digbundel, Kaar, wat op ’n manier by “Ewewig” aansluit.

Nog iets wat ’n mens opmerk in die foto-albums, is talle klassieke instrumente op verhoë waar jy optree. Ek skat dis veilig om te aanvaar dat jy óf ’n agtergrond in klassieke musiek óf ’n groot affiniteit daarvoor het. Hoe beskou jy die verhouding tussen dit wat voortgebring word deur klassieke instrumente/benaderings en die ietwat meer elektroniese inslag (wat die “begeleiding” vir die klavier betref) van Willemien &?

Ek het kitaarlesse op skool geneem by Abri Jordaan en ek het na skool klavier begin speel. Ek kry steeds klavierles by Liesl du Plessis. Maar ek vind dit baie stimulerend om saam met mense te werk wat ’n meer gevestigde klassieke agtergrond het, want hulle weet beslis baie meer as ek van musiekteorie! Partykeer kom ’n liedjie se storie beter oor as dit deur ’n klassieke instrument vertel word en ander kere is elektroniese klanke gepas.

Jou webwerf is in beide Afrikaans/Engels en Frans beskikbaar – verstaan ek reg dat jy ’n Franse alter ego genaamd Philomène het? Wanneer verskyn sy, en wat doen sy dan?

Ek is deels Willemien, deels Philomène. Daarom my website se naam philomien.co.za. Ek is nog altyd verlief op taal en musiek. Aan die een kant is ek trots Afrikaans en ek skryf meestal Afrikaanse musiek. Aan die ander kant is my day job om ’n Frans-dosent te wees by Tukkies, waar ek myself Philomène gedoop het. Ek is ook nou besig om my meesters klaar te maak. My meesters handel oor ’n program wat ek vir die tweedejaarstudente ontwikkel wat gebaseer is op Wes-Afrika se Franssprekende musiek en kreatiewe skryfkuns. Ek het in 2012 ’n kans gevat deur die musikale Franse studente te vra of hulle saam met my Franse liedjies wil skryf. En voilà, Philomène & ses étudiants (Philomène & haar studente) is terselfdertyd as Willemien & gebore.

Ek en die studente het al twee liedjies opgeneem met behulp van die Franse ambassade. Ons het ook die naweek by die Fête de la francophonie opgetree in Johannesburg, wat ’n wonderlike ervaring was.

Jy’t genoem dat jy eers deel was van Aanklank, maar nou aanbeweeg het na die projek Willemien &, waarin jy met verskillende kunstenaars wil saamwerk vir elke snit. Wat het die skuif teweeggebring en wat wil jy met Willemien & bereik wat jy nie sou kon met Aanklank nie?

Ek en my regterhand-vriendin Sanet Stegmann, wat eintlik soos ’n sussie vir my is, moes op ’n kol besluit wat Aanklank se langtermynplanne is. Sanet is ’n baie begaafde interieur-argitek wat baie besig gehou word by Tonic design, waar sy werk.

Met Willemien & gee die “&” my die moontlikheid om steeds saam met Sanet te werk, maar dit gee my ook die geleentheid om met ’n groter verskeidenheid kunstenaars in aanraking te kom. Ek en Sanet beplan wel ’n collab in die nabye toekoms.

Watter kunstenaars sou jy ideaal mee nog wou saamwerk vir Willemien &, en waarom?

Daar is ’n hele klompie op my wenslys (wat ek gereeld bywerk). Wat lekker is van die “&” is dat die mense saam met wie ek sou kon werk, enigiets van ’n musikant tot ’n digter tot ’n illustreerder kan wees.

In Pretoria dink ek aan Bittereinder. Ek geniet hul weldeurdagte lirieke, hul visuele aanslag en hul unieke klank. Ek sal ook nie omgee om Willemien & aan die Kaapse treintjie vas te haak nie. Mense soos Fred den Hertog, Pierre Greef, Louwtjie Rothman, enigeen van die Fokof crowd! Wat vroulike kunstenaars aanbetref, kyk ek baie op na Luna Paige en Laurinda Hofmeyr.

Dan natuurlik sal iemand soos Chris Chameleon regtig ideaal wees! Kom ons hoop daar is ’n paar van hulle wat LitNet lees …

Jy’s ’n Pretorianer, sien ek. Dis interessant – ’n ruk terug het dit gevoel of daar niks interessants uit Pretoria kom nie, maar deesdae is daar ontsettend baie wat daar gebore word in die musikale gemeenskap. Hoe voel jy oor die geleenthede wat Pretoria bied in hierdie opsig – hoe is die scene? En ook die groter Suid-Afrika – hoe voel jy oor die betreding van die toneel met die soort musiek wat jy maak?

Op dié stadium is my een voet in Johannesburg en my ander voet in Pretoria. Alhoewel ek aanklank vind by die multikulturele leefwyse in Johannesburg, is ek baie dankbaar ek behou kontak met die musikale gemeenskap in Pretoria.

Ek is mal daaroor om teater toe te gaan in Pretoria, want daar is ’n sense of community. En die Afrikaanse produksies word oor die algemeen baie goed ondersteun, wat nie die geval is in Johannesburg nie, maar wat ook verstaanbaar is.

Die tipe mense in Suid-Afrika wat ek dink my musiek sal waardeer, is mense wat Nouveau-flieks gaan kyk; mense wat op ’n Saterdagoggend uitsien na die koerantbylaag By; mense wat Afrikaanse digbundels in elke klein Afrikaanse dorpie uitsnuffel; mense wat die Woordfees se program copy & paste for future reference, al kan hulle dit nie altyd bywoon nie omdat hulle in Gauteng bly; mense wat nie bang is om te luister na klanke en woorde wat op hul eie avonture gaan nie; mense wat hulle verbeelding gebruik om hul woede uit te druk, hulself te troos, maar ook om hulself te laat lag.

Of daar derduisende van hierdie mense is, weet ek wel nie. Maar gee dit om?

Ek merk ook op jy deel ’n van met die filmmaker Adam Heyns, en hy het die video vir “Ewewig” vervaardig – wat is die verbintenis daar, en beteken dit daar is ’n langtermyn-samewerking in die pyplyn?

Adam Heyns is my liewe, boheemse boetie. Ons is baie na aan mekaar en ons het al ’n paar keer in die verlede saamgewerk. “Ewewig” was nogals intens,want ons het amper régtig saam verdrink toe ons in die see afgeneem het! EPIC!

Ten spyte van ons gesamentlike near death experience is dit onafwendbaar dat ons in die toekoms weer saam sal werk. Loer ’n bietjie na sy website, glitchworks.co.za, because it does.

Die Afrikaanse musiekbedryf is natuurlik self ’n wilde perd om te verstaan. Hoe beskou jy dit wat in Afrikaanse musiek gebeur op die oomblik en hoe wil jy hê moet dit oor vyf jaar lyk?

Ek ervaar dat die jonger generasie se off-beat Afrikaanse bands net uit ouens bestaan. Waar is die girls?! Ek hoop ek & & & hou aan om daai gaatjie te vul.


Foto: Inge van Rensburg

Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Willemien &?

In die nabye toekoms gaan ek nog ’n musiekvideo vrystel: “Son trek soutwater”. Ek het saam met ’n baie progressive harpspeler gewerk, Jude van der Wat. Peach van Pletzen het ook soos met “Ewewig” die post-production en mix van hierdie liedjie gedoen. Nadine Minnaar is in beheer van die produksie-ontwerp, Maaike Bakker doen die illustrasie en Whosannah Photography skiet die video.

Dan beplan ek ook om hierdie jaar nog saam met Sanet, Kabaal Klankbaan en Pieter Bezuidenhout te werk. Dit alles met die doel om stadig maar seker genoeg songs aanmekaar te snoer vir ’n vollengte album. Die album sal seker aan die begin van 2015 klaar wees.

Wat is die sin van die lewe?

Vra vir Abel Pienaar of Christof Heyns, my twee spirituele ghoeroes! Alhoewel hulle sê hulle werk nog aan dáái een …

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top