Wie is die naakte Boer? 'n Heteronormatiewe, manlike perspektief

  • 1

LitNet het in die verlede akademies ondersoek ingestel na die lyflike en 'n seminaar hieroor gereël: Die Lyf-miniseminaar. Maar sedertdien het ook ander materiaal oor hierdie onderwerp verskyn. Die akademiese artikel “ek het ’n liggaam, daarom is ek”: Outobiografiese elemente in Antjie Krog se Verweerskrif behandel die lyflike en die persoonlike aard daarvan in die skryfwerk van Antjie Krog. Ondersoeke na seksualiteit het elders op LitNet verskyn, soos hierdie essay na aanleiding van 'n fliek. Die laaste bousteen tot hierdie webseminaar se vraagstuk het uit 'n onverwagse oord gekom: 'n Gesprek met die redakteur van die tydskrif Playboy SA wat vrae laat ontstaan het oor die Afrikaner, wat so graag erotiese materiaal lees, se verhouding met die lyf.

Wie is die naakte Boer?

Leon de Kock, die skrywer van Bad Sex, ondersoek die kwessie.

Ondanks die grootskaalse vrymaking van denke en spraak in Suid-Afrika sedert 1994 bly dit moeilik om oor seks te skryf en films daaroor te maak.1 Selfs poësie oor die lyf, en oor lyflikheid, kan maklik gemengde reaksie ontlok, soos gebeur het met Antjie Krog se Verweerskrif (2006).2

Toe ek begin om ’n roman te skryf met die uiteindelike titel Bad Sex (2011), moes ek geweet het dit sou ’n riskante onderneming wees – jy gaan óf gebuk gaan onder swak grappe, óf jy gaan grotendeels geïgnoreer word. Om ernstige diskussie oor net die titel te stimuleer, moes ek self inklim – in ’n onderhoud op LitNet met Bibi Slippers3 – en pertinent daarop wys dat die frase bad sex minstens vyf lae van betekenis dra.

Die groter probleem lê egter in die algemene leser se “horison van verwagtinge” as dit by die seks-tameletjie kom. In ’n roman, of ’n fliek, is die algemene verwagting dat seks óf “kunstig” oorgedra sal word, óf polities ingespan sal word (in ’n sekere mate die geval met Skoonheid), of “sexy” sal wees is ter wille van ... wel ... seks – en dan is dit óf erotika óf pornografie.

Wat ek besef het by die skryf van Bad Sex, is dat daar min ruimte in die Suid-Afrikaanse letterkunde vir seks as ’n gewone verskynsel bestaan, soos wat dit inderdaad vir die meeste mense tog is. Seks is, soos inkopies doen, vermaak reël, die hond oppas, kosmaak, lees ens, tog ’n alledaagse verskynsel (of behoort te wees), iets wat op verskeie vlakke by elke volwasse mens se daaglikse lewe ’n invloed uitoefen.

Maar kyk watter opslae het Marita van der Vyver se Griet skryf ‘n sprokie in die vroeë negentigs gemaak. Dit is immers ’n boek wat bloot ’n vrou se ervaringe op ’n eerlike, reguit wyse blootlê. Griet gaan nie oor seks nie, maar oor álles in ’n volronde vrouelewe, insluitend seks.

Maar om oor seks te skryf buite die kuns-, porno- en politieke kategorieë is moeilik, want dit word verkeerdelik gemeet aan die seksinhoud ten koste van die algehele inhoud. Verwagtinge rondom die voorstelling van seks bly gevoelig.

Dit is nogal ’n leemte in ons letterkunde, en daarom sal ek voortgaan om fiksie te skryf oor seks – nie seks om seks se onthalwe nie, maar juis seks as daardie gevoelige ruimte waarin van die mees beslissende menslike interaksies steeds gebeur.

Nie net is seks ’n uiters bepalende faktor in menslike verhoudinge nie, maar die voorstelling daarvan kan ook baie snaaks wees. Gaan lees weer Philip Roth se skreeusnaakse masturbasie-roman, Portnoy’s Complaint.

Seks as onderwerp kan ook verwoestend wees. Lees byvoorbeeld Eben Venter se Ek stamel, ek sterwe. As dit waar is dat mense seksbehep is – lees bietjie weer vir Freud, om nie van die Kinsey-verslae te praat nie – dan moet dit ook waar wees dat seks ’n goeie tema is om oor te skryf. Én belangrik.

Seks is natuurlik ook baie polities, veral in hierdie tydvak van “gender wars”. Vir ’n man om oor (heteroseksuele) seks te skryf is gevaarlik, want mans word dikwels – en in baie gevalle met reg – agterdogtig bejeën wat betref die patriargale aannames wat in die meeste mans sosiaal ingeprent is.

Selfs om ‘n “goeie” man te wees – een wat die lesse van die feminisme geleer het en sy lyf nou “sensitief” hou – is ’n moeilike proposisie, want hy word óf as ‘n  “wimp” beskou (ja, selfs deur vroue), óf hy word steeds met agterdog bejeën. Can a leopard ever change his spots? Die algemene gevoel onder feministies-aangedrewe vroue is: nee, wat.

Daar is natuurlik ook die postfeminisme, met figure soos die skrywer en akademikus Camille Paglia, wat groot onmin veroorsaak deur byvoorbeeld pornografie te verheerlik en die styfkous-feministe woes aan te val.

As jy ’n straight man is en jy wil seker maak jy spring die patriargie vry, sal dit miskien help om te gaan lees oor “hegemoniese manlikheid”– in hierdie verband is die werk van RW Connell, veral in sy boek Masculinities, deurslaggewend.4

Jy sal ook bietjie wil lees, en leer, oor die belangrike konsep “heteronormatiwiteit” (“heteronormativity"), wat deesdae al hoe meer gebruik word, alhoewel min mense die term terugherlei na die man wat eerste daaroor geskryf het, Michael Warner. Warner se Fear of a Queer Planet: Queer Politics and Social Theory (1993) is die moeite werd om te lees. Lauren Berlant, ook ’n Amerikaanse akademikus wat op hierdie gebied werk, se The Queen of America Goes to Washington City: Essays on Sex and Citizenship (1997) is baie leesbaar. Gesamentlik skryf hierdie twee outeurs ’n artikel in die top-joernaal Critical Inquiry met die lekker titel “Sex in Public”.5

Vir my bly dit egter ’n probleem dat manlike heteroseksualiteit hoofsaaklik binne die bestek van heteronormatiwiteit, of dergelike paradigmas, op die keper beskou word. Wat ek wil sien, is ’n vorm van antiheteronormatiwiteit vir straight mans waarin sulke mans nie noodwendig gender-boewe is nie. Moet ’n mens noodwendig queer theory gebruik om straight te wees op ’n manier wat nie outoritêr en onderdrukkend is nie? Met ander woorde, moet alle kritiek op heteroseksuele manlikheid voortspring uit ruimtes buite heteroseksuele seksualiteit? Kan dit dan nie ook van binne kom nie? Is die gedagte van ’n eties gesonde heteroseksuele manlikheid totaal onmoontlik? Tog sekerlik nie.

Heteronormatiwiteit is inderdaad lelik – en ek wys dit duidelik uit in die verloop van die verhaal in Bad Sex – maar vir my bly die vraag: Bestaan daar ruimte vir ’n gesonde, skeptiese blik op seksuele betrekkinge tussen mans en vroue wat heteroseksueel, manlik én opreg is? Selfs trots en oproerig. En wat moontlik ’n kritiese, satiries-komiese blik op vrouens – sowel as mans – werp?

Ek is geruime tyd reeds besig om hierdie ruimte oop te skryf. En ek sal nie maklik ophou nie.

 

 


1 Sien byvoorbeeld Christi van der Westhuizen se bespreking van die fliek Skoonheid by Sien byvoorbeeld Christi van der Westhuizen se bespreking van die fliek Skoonheid – “hegemoniese manlikheid” bly ’n turksvy in die Suid-Afrikaanse samelewing.

3 Onderhoud met Bibi Slippers.

4 RW Connell, Masculinities (2005) (2de uitgawe). Berkeley: University of California Press. Sien ook RW Connell en JW Messerschmidt (2005): “Hegemonic Masculinity: Rethinking the Concept”, Gender Society, Vol 19.

5 Critical Inquiry 24 (2)1998, ble 547-66. Sien ook Warner, Michael (red) (1993), Fear of a Queer Planet: Queer Politics and Social Theory. Minneapolis: University of Minnesota P; Berlant, Lauren Gail. 1997. The Queen of America Goes to Washington City: Essays on Sex and Citizenship, Durham: Duke University Press.

  • 1

Kommentaar

  • Naas Ferreira

    Baie goeie artikel. Die debat oor die naakte Boer knoop ’n hele klomp mense se panties. Dis seker hoekom niemand tot dusver op jou artikel gereageer het nie. Is almal bang om oor seks te praat? "Heteronormatiwiteit" word nou ’n gonswoord om almal in ’n blik te druk. Ek is jammer maar ek klim nie in die blik nie of word daar ingedruk nie nie.

    Seks vir my is nie net seks nie. Dis ’n versmelting van liggame en siele, of dit nou in porn, erotika of letterkunde beskryf word. Gay, lesbies, biseksueel of trans ... maak nie saak nie. Dit moet ondersoek word om die juk van die kerklike etiek af te skud. Hou aan skryf. 

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top