Waar is ons bruin akteurs?

  • 3

Waar is ons bruin akteurs?

Rohan Magerman

Gesoek: bruin akteurs. Nee, ek verwys nie hier na 'n geadverteerde werksgeleentheid in 'n koerant of op die internet nie. Dink eerder aan 'n plakkaat teen 'n lamppaal: “Gesoek: bruin akteurs”. Want dit lyk of bruin akteurs vermis is ons land.

Nie lank gelede nie verskyn 'n artikel in die Kaapse poniekoerant Die Son waarin die akteur Ruben Engel gal braak oor hoedat bruin sterre steeds gemarginaliseer is in die Suid-Afrikaanse film- en televisiebedryf. Boonop word bruin gemeenskappe dan in hierdie media hoofsaaklik op 'n negatiewe wyse uitgebeeld, volgens Engel. Hiérdie onderwerp is niks nuuts nie, maar wat die betrokke akteur se opmerking noemenswaardig maak, is dat dit gepubliseer word tydens die 20ste herdenking van 'n demokratiese Suid-Afrika en drie maande voordat die land se vyfde algemene verkiesing plaasvind. Dit is gewoonlik in sulke tye dat rassekwessies opnuut sy kop uitsteek. Te oordeel aan die vele SMS'e wat die koerant tans van sy lesers ontvang, is die posisie van bruines nou opnuut onder bespreking.

Ruben Engel

Reeds maande voordat die verkiesing plaasvind, reik politieke partye uit na bruin gemeenskappe met beloftes van behuising, sanitasie, beter infrastruktuur, en meer werksgeleenthede, om 'n paar op te noem.

Hierdie vooruitsigte wat mens elke vier jaar na die afloop van elke verkiesing hoor, is gewoonlik van toepassing op die bruin en swart werkersklas – die doodgewone mens op die Kaapse Vlakte met 'n doodgewone werk.

Maar wat van bruin akteurs? Hulle moet tog ook stem, en watter moontlike geleenthede wag daar op hulle agterna? Iets soos "'n sterker teenwoordigheid in die vermaaklikheidsbedryf" sou beslis 'n goeie aansporing wees wanneer bruin akteurs 'n kruisie langs die politieke party van hul keuse se naam trek. Of tel dit ook maar onder "meer werksgeleenthede”? Engel beweer dat wit vervaardigers in die Kaap bruin akteurs uitsluit, terwyl die swart vervaardigers in Johannesburg dieselfde doen. Dan moet baie bruin akteurs hul eie geleenthede skep, wat nie maklik is nie. Die kunste word juis in vandag se ekonomiese klimaat beskou as 'n nienoodsaaklikheid; tog is dit vir baie hul brood en botter.

Maar is so 'n aanspraak – dat bruin akteurs steeds geïgnoreer word – korrek? Kom ons rig gou 'n vergrootglas op van Suid-Afrika se bekendste sepies en begin sommer met Generations en Muvhango as eerste gevallestudie. Generations was op 'n stadium die sepie met die meeste kykers landwyd en is steeds vandag baie gewild. Ek weet selfs van 'n paar bruin mense wat getroue aanhangers daarvan is. Saam met Muvhango het hulle ons egter oor die afgelope paar jaar gewys dat bruin televisiekarakters dieselfde lotgeval as die dinosouriërs kry: hulle is so te sê al 'n uitgesterfte spesie. Ek het al mense hoor vra: "Hoe is dit moontlik dat die hoofkarakters se paaie nie eens met 'n bruin kroegman of skoonmaker kruis nie?"

Dan is daar 7de Laan, nóg 'n groot gunsteling onder die bruin volk. Alhoewel dié program soms te voorspelbaar en te veel belaai is met toevallighede, verdien dit 'n duim-op vir die insluiting van bruin karakters – in permanente én gasverskynings. Daar is egter al kritiek uitgespreek dat die bruin karakters te "wit" klink en leef. So byvoorbeeld merk 'n rubriekskrywer in 'n vorige uitgawe van Die Son op dat gewone bruin mense in die werklike lewe nie gaan visvang en kamp vir ontspanning nie (soos wat 7de Laan ons al laat glo het), maar eerder in die agterplaas saam met vriende sit en lang biere drink.

Tot nou onlangs het e-tv se sepie Scandal sewe bruin karakters gehad, maar party bruin aanhangers van die sepie was ontevrede omdat die meeste van hulle te Kaaps klink. Dit skep by sommige die indruk dat as jy 'n bruin karakter is, word jy gestereotipeer met die sogenaamde "gammat"-aksent. Niemand sal egter stop om te dink die rede hoekom die karakters só klink, is dat die akteurs inderwaarheid van die Kaap is.

Op die fliekfront lyk dinge nie veel beter nie. Die enigste "bruin" fliek waaraan ek kan dink, is Dollars and White Pipes en die onlangse Four Corners.

Ek verstaan dus hoekom ons mense kla dat die meeste TV-programme net te "swart" of te "wit" is. Daar is al probeer om die ewewig te herstel. Ek onthou die satiriese verskeidenheidsprogram Colour TV op SABC2 wat deur bruines vir bruines geskep is met uitsluitlik bruin akteurs in die rolverdeling. Dan was daar ook die werklikheidsprogram Huis van Davids op kykNET, wat gefokus op die lewe van die musikale Davids-gesin van die Weskusdorpie Atlantis. Albei hierdie programme is na die eerste seisoen gekanselleer. Blankes en swartes wou nie die programme kyk nie. Bruines wou nie die programme kyk nie, want dis nie hoe hulle uitgebeeld wil word nie, en/of die programme was vervelig. En so word bruin mense die verraaiers van hul eie televisieprogramme.

Nathan Trantraal

My probleem in hierdie debat, wat maar net nie tot rus kom nie, is dat ons bruin mense nooit tevrede skyn te wees nie. Hulle kla van te min bruin akteurs op televisie, maar dan mor hulle agterna oor hoe hulle voorgestel word. Wanneer hul taal en kultuur lewensgetrou in die media uitgebeeld word, sê mense soos Nathan Trantraal dat daar van bruines 'n bespotting gemaak word.

Veronderstel 'n televisieprogram of fliek word gemaak wat wegdoen met die stereotipes van bruin wees. Sê nou byvoorbeeld 'n fiktiewe drama oor die lewe van 'n ryk bruin familie êrens in Seepunt of Kampsbaai, wat slegs Engels as huistaal praat en sonder 'n sweempie Kaaps. Die produksie sal 'n flop wees. Eerstens sal die poging om van etikette weg te beweeg te opvallend wees. Ons weet om 'n cliché te vermy is juis 'n cliché. Tweedens sal dit die gevaar loop om bruin kykers te vervreem. Ek bedoel, watter persoon op die Kaapse Vlakte sal hulself kan vereenselwig met die coconut-gesinnetjie dóér in die rykmansbuurt? Mense wil wegbreek van hul daaglikse realiteite, ja, maar dis juis daardie stories wat so na aan die werklike lewe lê waarmee hulle kan identifiseer. Soos die toneelstuk My Naam is Ellen Pakkies en die fliek Dollars and White Pipes, wat albei op ware gebeure gegrond is, en aktuele kwessies soos bendegeweld en dwelmverslawing aanspreek.

In hierdie tydperk waarin mense hulself gereed maak om te stem, word daar daagliks gevra wat gaan politieke partye doen omtrent die bendegeweld op die Kaapse Vlakte. Mense is moeg om hierdie geweld in die werklike lewe en op film te aanskou. Maar intussen is regisseur Ian Gabriel se fliek Four Corners, wat handel oor die bendelewe in die Kaap, ingedien as Suid-Afrika se inskrywing vir Beste Buitelandse Film vir 2014 se Oscar-toekennings.

Ons bruines behoort trots te wees dat ons unieke taal en kultuur internasionale gehore bereik.

Die gebrek aan bruin akteurs/karakters op film en televisie is dalk 'n negatief. Maar stereotipes is nie noodwendig 'n slegte ding nie.

  • 3

Kommentaar

  • Ek is al so Moeg vir dié gesanik en argument! Niks wat hier in dié artikel gesê word is nuut nie. Sommige van ONS het nie net gekla nie maar daadwerklik iets aan die saak gedoen. As die eerste Bruin regisseur wat deur die SAUK aangestel was in 1989 het ek ‘n program destyds gehad “Met Ander Woorde” wat op TV1 uitgesaai was. Die naam word daaruit ontleen dat ons anders praat en soms ‘n ander leksikon gebruik as die ánder Afrikaanssprekendes. Ons praatie soes hulle nie! Dié program, so suksesvol soos wat hy was, is deur die wit bestuur van die SAUK vermoor omdat ek op baie magtige tone getrap het om destyds die reeks op televisie te kry. The powers that be, die oues, het my dit nooit vergewe nie want ek het oor hulle koppe gegaan en met Quinton Green, die eerste Engelse CEO van die SAUK, gaan praat. En ... omdat ek my mandaat vervul het om Bruin Programme te maak het Quinton daarop aangedring dat my program “Met Ander Woorde” uitgesaai MOET word. Die klomp bestuurders, veral Cor Nortjé, het my dit nie vergewe nie en my verplaas Televisie Nuus Produksies (TNP) toe. My program is toe nooit hernu nie. In 1992 was ek was op strike met MWASA – Media Workers Association of South Africa en dit was ook vir die bestuurders ‘n probleem want ek was die enigste Bruin ou by Auckland Park op strike – met ‘n van soos Wilson het hulle dit NIE verwag nie. Ek het met die Comrades getoi-toi laat die biesies bewe voor die SAUK op wat ons later Freedom Square gedoop het en selfs ‘n kortverhaal in die bundel, Kruis en Dwars deur Jeanette Ferreira oor my ervaring daaroor publiseer. Nie net gekla nie! Met die herstrukturering van die SAUK in 1997 is ek egter nie swart genoeg vir die Comrades nie ek, die hardwerkenste regisseurs by GMSA – Goeie More Suid-Afrika, word gefire! Want ... Retrenchment is presies dit. Hulle fire jou en maak net laat jy daarvoor uitsien want hulle doen dit kastig sagkuns! My swart kollegas het almal vir hulle wickets gekeer en in die houtwerk verdwyn soos kokkerotte as jy die lig aansit! “Colour TV” het probeer en die enigste probleem wat ek daarmee gehad het was dat dit te Kaaps was. Daar moes destyds met die vervaardiger saam gestaan gewees het toe die nuwe base die program NIE hernu vir ‘n tweede reeks nie. Waar was diés wie nou so kla! Wat artikel skrywe en onderhoude doen? Want sien – Die vervaardigers het ‘n briljante konsep gehad wat ons almal moes gehelp het. Dit sou met ‘n tweede reeks anders daar uitgesien het. Maar wat het die Bruinmense gedoen? Laat God’s water maar oor God’s akkers loop. Niemand het Bernie ondersteun nie. Kom ek sê julle waarmee is ek NOU besig is. Ons, na ek dit inisieer het, so pas met die HUB van die Staatsteater gaan praat. Ons wou weet, 20-jaar na bevryding, waarom is dit net die Gebrande Toast en die Milky Bars se produskies wat te sien is in die Staatsteater? Die Bruin Brood en Kerrie word heeltemal geïgnoreer! Is dit ‘n te kort aan belangstelling, middele of talent? Ons beplan ‘n Kunste Le Gothla, Imbizo, Summit of Konferensie as jy wil! Want die Staatsteater vervul nie sy mandaat as jy kyk na sy Missie en sy Vissie. Ons kla nie net nie! Ek skryf tans ‘n Sepie! Klaar my biografieë van al my karakters geskryf en Episode 1 in Storie formaat. Ek sit tans die dialoog in die karakter se monde. MAW ek sit nou die vleis aan dié episode! Jy sien ek is KULLID! Dit sê ek kom van gemengde oorsprong! Ek is Afrikaans-sprekend. Afrikaans is nie die taal van die onderdrukker nie maar die taal wat by ons gesteel is! Dit beteken nie dat omdat jy dit afgeskryf het kan jy nou maak asof dit joune alleen is nie. Ons erken ruiterlik dat die taal deur die Afrikaners ontwikkel is tot wêreldtaal! Al die bewyse is daar dat ons die grootste bydra gemaak het tot die nuwe taal wat deur ons voorouers gevorm is omdat hulle die vermoeë moes ontwikkel het om met die kosmopolitaanse nedersetting te kon komunikeer. En omdat Nederland destyds ons koloniale Baas was is die taal grotendeels uit Nedrerlands gevorm! Ons voorouers was inderdaad verantwoordelik vir die geboorte van die taal want bine hom die naam van die kontinent dra! Ons gaan altyd die rosyntjies op die wit- of swartbrood wees as ons nie die Land gewoont maak aan ‘n Hele Bruin Brood nie. Ek is Bruin Brood!

    Anthony  SPEEDO Wilson

  • MAUREEN WESSELS

    Ek probeer nou al seker vir 10 jaar om 'n Afrikaanse sitkom die lig te laat sien. Jy e-mail al wat 'n regisseur is en vra vir verwysings of net iemand wat die tyd sal afknyp of afstaan om jou script deur te gaan, maar sonder sukses. Is daar iemand wat my in hierdie verband kan help? Ek is 'n onderwyseres asook 'n skrywer wat graag my werk die lig wil laat sien. As dit nie goed genoeg is nie, sal ek dit so aanvaar, maar help my net dat dit gelees kom.

  • Die probleem met sekere bruin mense, soos hierbo, wat gedurig sanik dat die Afrikaner sy taal "gesteel" het en dat hy self nie op die verhoog uiting daaraan kan gee nie is voorbeelde van die "losers" onder hulle.
    Vandag is daar vele bruin mense in sleutelposisies in die gemeenskap, asook akteurs op die TV kassie wat daar gekom het, nie deur jammergatte vir hulself te wees nie, maar juis omdat hulle self hulle skouers aan die wiel gesit het, en hulle eie branders gemaak om te kom waar hulle is!
    Trevor Noah is 'n voorbeeld daarvan wat sy sukses onder swartes, blankes en bruines ten toon stel.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top