Vuurwerke voor in die Jag

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Die arme mnr Crockart van Salisbury in die destydse Rhodesië: hy ry nog so ewe rustig een aand in sy Jaguar in Queenswoodweg toe hy 'n ding oorkom wat g'n man graag wil oorkom nie. Vroulief hier langs hom wil 'n sigaret aansteek, maar pleks dat sy die Jag se sigaretaansteker gebruik, trek sy 'n vuurhoutjie. Die vuurhoutjie se brandende kop breek af, spat weg en beland tussen mnr Crockart se bene. Verbysterd van skok lig hy sy agterstewe van die sitplek af en soek-soek met sy oë na die vuurhoutjiekop, wat intussen gelukkig vanself doodgegaan het.

Toe hy weer voor hom kyk, sien hy dat die Jag nou aan die verkeerde kant van Queenswoodweg is – reg in die pad van 'n aankomende voertuig. Al hoe hy 'n botsing kon vermy, was om verder na regs te swaai en met skreeuende remme en rokende bande skuiling te gaan soek in die breë ingangspad van 'n vulstasie.

Die bestuurder van die ander motor het gelukkig kop gehou, na regs geswaai en sy motor in 'n vlakkerige slootjie tot stilstand gebring.

Die skade was gering, maar mnr Crockart is nietemin in die landdroshof aangekla van nalatige bestuur, skuldig bevind, en tot 30 Rhodesiese dollar of 15 dae gevangenisstraf – nogal met dwangarbeid! – gevonnis.

Hierteen het mnr Crockart geappelleer. Sy saak was dat hy hom in 'n skielike noodtoestand bevind het, en dat sy optrede onder die omstandighede nie onredelik was nie.

Op 23 Maart 1973 – dis ook al 41 jaar gelede - het waarnemende appèlregter Lewis sy uitspraak gelewer.1 Die regter het beslis dat die skielike noodtoestand wat deur die brandende vuurhoutjiekop veroorsaak is, nie voldoende verskoning vir mnr Crockart was dat hy toegelaat het dat sy motor na die verkeerde kant van die pad oorgegaan het nie. Hy was immers bewus van die aankomende motor nog voordat die noodtoestand ontstaan het, en die regter was van mening dat hy deur die uitoefening van redelike sorg en vaardigheid die onverwagse omstandighede die hoof sou kon gebied en sy motor op koers sou kon gehou het. Die landdros se skuldigbevinding is dus gehandhaaf, maar die regter was van mening dat die vonnis nie in verhouding was met die geringe aard van die misdryf nie. Hy het mnr Crockart gewaarsku en ontslaan.

Jy mag dalk dink, jitte, maar dié regter was – met sy handhawing van die skuldigbevinding – darem stréng met mnr Crockart! Dan het jy nog nie gehoor van S v Lombard2 nie. Mev Lombard is aangekla van nalatige bestuur nadat sy in Zeerust oor 'n stopstraat gery het en teen 'n ander voertuig gebots het. Haar verweer was dat 'n perdeby net voor sy by die betrokke kruising gekom het, by haar motor se venster ingevlieg het. Soos elke normale mens het sy seker maar gekoes en met die hande na die indringer gewaai, waarna die perdeby haar op die linkeroog gesteek het. Sy is nietemin aan nalatige bestuur skuldig bevind. Een van die hof se oorwegings was dat sy, volgens die getuienis, net voor die voorval onredelik vinnig gery het.

Ons howe het al male sonder tal beslis dat die bestuur van 'n motorvoertuig 'n groot mate van vaardigheid en konsentrasie verg. Om 'n motor te bestuur is 'n inherent gevaarlike aksie. 'n Regter het dit al by geleentheid só gestel: "Die bestuurder van 'n ... voertuig kan nie toelaat dat hy van stryk gebring word deur enige hindernis of irritasie nie en moet selfs onder moeilike omstandighede nie sy kop verloor nie.3 'n Mens sou kon byvoeg: nie eers met 'n brandende vuurhoutjie tussen jou bene nie!

En vir die jonger LitNetters: Salisbury is nou oom Bob se hoofstad, Harare. En ek wed jou: Queenswoodweg het ook al ‘n minder-koloniaal-klinkende naam gekry ...

1 S v Crockart  1972(2) SA 496 (R,AD)

2 1964(4) SA 346 (T)

3 S v Smit  1963(4) SA 824

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

                                                    
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top