Vuurklip deur Marié Heese

  • 0

Titel: Vuurklip
Skrywer: Marié Heese
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798163767

 

Koop Vuurklip by Kalahari.com.

 

 

“Kom ons speel dis alles moontlik. Dan vertel ek vir jou ’n storie.” Só nooi Marié Heese die leser van Vuurklip uit. Hef vir ’n oomblik die skeptisisme op, en glo vir ’n oomblik, vir die duur van dié roman, in “the willing suspension of disbelief”, aldus Coleridge (bl 346, Vuurklip).  Alvorens die leser nog hierdie woorde lees, wat trouens eers aan die einde van die boek staan, vergeet jy om te “speel” alles is moontlik – jy gló alles is en was moontlik, en jy gló dit het so gebeur.

Vuurklip verskyn in 2013, Heese se eerste Afrikaanse roman sedert Tyd van beslissing (1983) (haar Die uurwerk kantel het sewe jaar vroeër, in 1976, verskyn). Tussen 1983 en 2013 verskyn daar drie Engelse romans met die Antieke wêreld as tematiese gegewe, ’n duidelike wegbeweeg dus van die tematiese gegewe van haar eerste twee romans. Die verlede, en veral die verlede van hierdie vasteland, sou vir Marié Heese nie sommerso los nie. Haar agt jaar lange verbinding met die Hessequa Vereniging vir Argeologie getuig hiervan.

“’n Roman van die oertyd,” beskryf Heese die boek, ’n tyd tussen ongeveer 100 000 jaar gelede tot so onlangs as 2 000 jaar gelede, toe pastoralisme die jagter-versamelaarbestaan in Botswana, die suidelike dele van Namibië en die westelike dele van Suid-Afrika begin vervang het. Teen hierdie tyd was daar, volgens die glottokronologie, ’n duidelike suidwaartse verspreiding van sprekers van die Tshu-Khwe-groep van tale, wat in die Wes- en Suid-Kaap as Khoi-khoi ontwikkel het. Argeologiese interpretasies van die oorsprong van veeboerdery en erdeware is besonder moeilik, veral in die lig van veranderende sosiale organisasie onder herdergemeenskappe, en interpretasies steun swaar op historiese bronne. Die mobiele bestaan van hierdie gemeenskappe (in matjieshuise) op soek na water en weiding het weinig argeologiese spore agtergelaat.

Hierteenoor is die argeologiese rekord van die vroeë en middel-Holoseen (laaste 10 000 jaar), asook die laat-Pleistoseen (120 000–10 000 jaar) baie meer gedetailleerd en dig. Vuurklip se Seestamme en die Landstamme het vir langer tye – ’n hele seisoen of twee, selfs – en herhaaldelik, ’n bepaalde gebied met skuilings, bakkranse en dieper grotte bewoon en in die proses “bewoningslae” (occupation layers) gevorm so diep as tot 20 meter met ’n aantal stratigrafiese lae. Waar presies Maouma en Sjamaan se Walvisstam of Klipman en Ama se Mosselvreters langs Suid-Afrika se kus gewoon het, is ’n geheimenis aan die leser, ’n geheimenis wat die verbeelding aanwakker. ’n Mens dink egter aan Blombosgrot naby Stilbaai, aan Klasiesrivier naby Plettenbergbaai, en aan die talle grotte langs die Weskus, soos Elandsbaaigrot, waar die Verlorenvlei genoegsame varswater sou voorsien het.

Blombosopgrawings: tweepuntige, blaarvormige gereedskap uit die Middel-Steentydperk (Bron: Wikipedia)

Vuurklip is ’n veelvlakkige boek met Ama se reis van jongvrou tot herdvrou, Ouvrou, Moetievrou en Storievrou as sentrale storielyn, en die boek is gestruktureer volgens twee narratiewe: dié van Ama, en dié van Sjamaan. Vroeg in die boek reeds word die leser aan die werklikheid van ’n ritueel soos die maanbloed bekendgestel: “En ek sal twee sononners daar bly, niks eet nie, en net snags uitkruip om te pie en te kak. Ek moet skoonkom, van binne en van buite,” vertel Ama, met Maouma, Moetievrou, wat haar later in die reiniging bystaan: “Die Grondgees was met jou. Kom, ons moet jou innie see gaan skoonwas” (26 en 33). Hierna is Ama gereed om herdvrou te word, en dit is ook op hierdie punt dat die verhaal verder ingekleur word met gegewens van die alledaagse en die mitologiese. As lesers leef ons saam in Maouma se grot; ons drink saam met haar die brousels en treksels wat sy van inheemse plante maak; ons ervaar Sjamaan se transervarings en sy reëndanse; en ons keer terug na noodsaaklikhede soos veldkossoek, kleinwildjag, skulpsoek. Hiermee saam deel ons in die gewone gesprekke tussen lede van die stam en kry ons ’n blik op die vrese en die geheimenisse van ’n individuele lewe binne ’n kollektiewe bestaan.

’n Hoogtepunt van die verhaal en in die vertelling is die oomblik waar Klipman ná die groot jag vir die Eland die heilige dier halflewendig-halfdood tot voor Atto se voete aanjaag. Hiermee verdien hy Ama en hulle word saamgebind as herdman- en vrou.

Die groot wending in die verhaal vind egter plaas wanneer Ama in die Diepste Grot beland. In dié heilige grot van die Elande, waar slegs Sjamaan toegelaat word, beleef Ama as’t ware ’n liminale tyd – haar geheue is uitgewis, sy staan tussen twee identiteite, en sy word met die bose gekonfronteer. Hier vind een van die eerste taboe-oorskrydings in haar lewe plaas, en as leser antisipeer ’n mens die wyer invloed daarvan op die res van die stam, wat dan ook gebeur wanneer Die Geeste wraak neem in die vorm van wind- en seestorms. Die innerlike stryd wat Ama na haar ontsnapping ervaar, werp lig op die psige van hierdie vroeë mense – ’n psige wat volgens argeologiese data onlosmaaklik aan die simboliese en die kreatiewe verbind was. Ook hiervan is Vuurklip ’n venster waardeur die leser kyk, en die toneel waar Ama na Klipman gaan en die stuk “witgewaste” stuk hout bekyk, is treffend:

Op ’n pakplek teen die grotmuur sien ek iets wat ek nog nooit gesien het nie. Ek tel dit op en kyk van naby. Alkante. Dis ’n stuk hout, vannie witgewaste soort wat lank innie see was. Oeha, dit lyk soos ’n vis.

(...)

Hy sug. “Dit wou gemaak is,” sê hy. “Ek het die stuk hout opgetel op die strand, en toe sien ek dis amper ’n vis. Daar was ... daar was ’n vis innie hout.” (65–6)

En later, die geskenk van Klipman aan Ama:

Hy hou sy hand na my toe uit. Maak die vuis oop. “Hier. Dis vir jou,” sê hy.

Ek kyk wat dit is. “O, dis skulpies,” sê ek. “Van daai oulike kleintjies.” Maar wat moet ek maak met dit? wonner ek.

Hy maak of hy die handvol klein grys en wit skulpies lat val, maar hulle bly hang innie lug.

(...)

“Dis baiebaie mooi,” sê ek. (67)

Die uitbeelding van Sjamaan in sy skildergrot is ’n mininarratief van die groter narratief in argeologiese kringe oor rotskuns en die mitologiese aspekte daarvan. As leser soek ons saam met Ama na Sjamaan (105), en ons oorweeg saam met haar die moontlikheid dat hy “by ’n plek [is] waar hy teen die wand skiller”. Sy grot is nie baie groot nie, het ’n goeie oorhang en hoë gladde wande. Hier vind ons vir Sjamaan in ’n donker grot wat na dassiepis en boegoe ruik. En hy skilder (let op die woordkeuse van Heese) reëndiere, waarvan een uit ’n lang kraak innie wand uitkom (dit word algemeen aanvaar dat die natuurlike rotswand doelbewus ingespan is ter wille van effek). Ons sién Sjamaan spoeg-spoeg aan ’n bietjie verf op ’n fyngekoude stokkie in sy een hand, en in die ander hand sy palet – ’n skouerbeen van ’n groot bok – met daarop die basiese kleure in die rotskuns, rooi, geel en wit. In dié toneel is Sjamaan nie op ’n bonatuurlike plek terwyl hy skilder nie, hy is “hier”, en weer span Heese hier haar navorsing oor die onderwerp meesterlik in.

Aanvanklik, met die eerste lees van Vuurklip, het dit lank geneem om gewoond te raak aan die annerlike taal wat Heese ingespan het. Aanvanklik is ’n mens as leser onvoorbereid op die greep in tyd wat uitgebeeld word, die wêreld van die oertyd, wat nog te sê van ’n taal van die oertyd, want hoe weet ons? Op ’n onbewuste vlak vind daar ’n verskuiwing plaas in jou as leser – ’n verskuiwing wat waarskynlik simbolies is vir die ontwikkeling van ’n oerkultuur oor honderdduisende jaar. Jy lees later met ’n ruimer gemoed, met ’n ontvanklikheid vir die menslikheid van hierdie oermense wat Heese uitbeeld. En met ’n tweede lees, ’n herlees van die roman, is die trefkrag van die eerste paar reëls van die roman soveel sterker. En ruik ’n mens die rook van die vuur en daardie haasvelkaros:

Kom nader. Dis verteltyd.

Gesigte om die vuur kry lewe. Skuif vorentoe na die warmte en lig. Ons draai ammal na Maouma. Wag.

Sy vat die haasvelkaros om haar maer skouers vas. Sy kyk innie vlamme. Dis haar storiekyk. As sy so kyk, sien sy stories. Sy sien hulle en sy hoor hulle.

Dan vertel sy.

Vuurklip is ’n etnografiese, argeologiese en narratiewe reis deur ’n landskap van taal, betekenis en identiteit. Die wyse waarop Heese ’n verhaal gekonstrueer het op grond van bestaande navorsing asook oorlewering, getuig van ’n unieke vermoë om fiksie en geskiedenis saam te weef tot ’n boeiende, annerlike verhaal.

Verdere leesstof

Deacon, HJ en J Deacon. 1999. Human beginnings in South Africa: uncovering the secrets of the Stone Age. Kaapstad: David Philip.
Henshilwood, CS ea. 2011. A 100,000-year-old ochre processing workshop at Blombos Cave, South Africa. Science, 334:219–22.
Mitchell, P. 2002. The Archaeology of Southern Africa. Cambridge: CUP.
Mourre, V. ea. 2010. Early use of pressure flaking on lithic artifacts at Blombos Cave, South Africa. Science, 330:659–62.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top