Voorgedoen as advokaat

  • 1

In Mei 1988 het die appèlhof in Bloemfontein uitspraak gegee in ’n baie sonderlinge saak – die eerste van sy soort in ons regsgeskiedenis.

’n Sekere mnr De Jager het in 1977 die LLB-graad aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Met so ’n kwalifikasie kan ’n mens in beginsel deur die hooggeregshof toegelaat word om as ’n advokaat in die Republiek te praktiseer. Om redes wat onbekend is, is mnr De Jager egter nooit formeel as advokaat toegelaat nie. In 1982 het hy as staatsaanklaer in die landdroskantoor op Keetmanshoop gaan werk, waar hy, as gevolg van ’n skaarste aan losies, by ’n kollega van hom – ene mnr Pienaar – ingewoon het. Pienaar was ’n behoorlik toegelate advokaat van die hooggeregshof van Suid-Afrika.

Nadat De Jager Keetmanshoop verlaat het, het Pienaar sy identiteitsdokument, LLB-graadsertifikaat en sertifikaat van toelating as advokaat vermis. ’n Mens moet aanneem dat Pienaar toe nog nie vir De Jager verdink het nie. Dit wil ook voorkom asof hulle nie weer kontak gehad het nie.

Gewapen met mnr Pienaar se dokumente, het De Jager hom as Pienaar voorgedoen en aansoek gedoen om lid van die balie in Bloemfontein te word – dit is die Vereniging van Advokate van die Vrystaat. ’n Persoon kan lid van ’n balie word slegs as hy alreeds deur die hooggeregshof as advokaat toegelaat is.

De Jager – onder die vals naam Pienaar – het die vereiste opleidingstyd deurgegaan en sy praktiese eksamen met welslae afgelê, waarna hy toegelaat is as lid van die Vrystaatse balie, en kort daarna ook van die Transvaalse balie.

As praktiserende advokaat het De Jager gedurende 1983 en 1984 minstens 21 beskuldigdes in moordverhore verteenwoordig, van wie agt onskuldig bevind en ontslaan is. Wat met al diegene wat skuldig bevind is, gebeur het, weet ons nie, maar minstens een van hulle – ene Mkhise – het die doodstraf ontvang. Hy is egter begenadig en moes 20 jaar gevangenisstraf uitdien. Drie ander – Mosia, Jones en Le Roux – is ook lang gevangenisstrawwe opgelê.

Toe De Jager se bedrogspul op die lappe gekom het, het die Minister van Justisie ’n kommissie van ondersoek aangestel om onder meer te bepaal of daar onder die omstandighede enige regsdwaling plaasgevind het in enige saak waarby De Jager betrokke was. Die kommissie het die hele aangeleentheid haarfyn uitgepluis, maar was van mening dat dit meer gepas sou wees as die appèlhof uitsluitsel sou gee oor die vraag of daar in enige van die sake ’n regsdwaling – of, soos dit in Engels lui, "a miscarriage of justice" – plaasgevind het.

So het dit dan gebeur dat Mkhise, die man wat aanvanklik die doodsvonnis opgelê is, en die ander drie wie se name ek genoem het, toegelaat is om teen hul skuldigbevindings en vonnisse te appelleer.

In sy uitspraak van 12 Mei 19881 ondersoek die appèlhof onder meer die bepalings van die Wet op die Toelating van Advokate en beslis dat die toelating van ’n advokaat nie maar net ’n blote formaliteit is wat volg nadat die kandidaat die vereiste akademiese kwalifikasies verwerf het nie. Daar moet ook bewys gelewer word dat hy of sy ’n persoon van absolute integriteit is. ’n Toegelate advokaat geniet sekere regte en voorregte en wye magte om ‘n kliënt se saak te behartig soos hy dit goed ag. Daarom is dit in openbare belang dat ’n beskuldigde in ’n strafsaak verdedig moet word deur ’n persoon wat behoorlik ooreenkomstig die bepalings van die wet toegelaat is. Versuim om dit te doen is só ’n ernstige ongerymdheid dat dit die verhoor in sy geheel nietig maak.

Die vier se appèlle het dus geslaag en hul skuldigbevindings en vonnisse is ter syde gestel, maar omdat die meriete van hul onderskeie sake nooit ter sprake gekom het nie, kon hulle weer van nuuts af aan op die oorspronklike klagtes verhoor word.

 

1 Vgl Staat v Mkhise

Staat v Mosia

Staat v Jones

Staat v Le Roux 1988(2) SA 868 (A)


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 1

Kommentaar

  • Die skrywer kan met my in aanraking kom as hy meer inligting wil hê oor waarom De Jager nie in sy eie naam as advokaat toegelaat is nie.  LitNet mag my kontakbesonderhede aan die skrywer en aan hom alleen bekend maak.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top