Vlooi en die sirkus by die Kunstekaap

  • 0

Wie's Boet en Saartjie of Sus en Daan? Deesdae se graad 1’s lees van Vlooi en sy maats. Oxford University Press gee die Storieboomreeks uit. En jare lank al word Vlooi lewendig in die teater. Margit Meyer-Rödenbeck vertel vir Naomi Meyer van vanjaar se Vlooi en die sirkus.

Hallo Margit, dis Augustus – en wat beteken dit vir jou?

Vlooi en sy maats neem weer die Kunstekaap-teater op horings! Jaarliks besoek tussen 15 000 en 20 000 leerders hierdie produksie. Dis ’n wonderlike geleentheid vir die kleintjies om hulle voorgeskrewe werk op die verhoog verlewendig te sien. Asook die hele uitstappie na die Kunstekaap na die groot teater, waar geen moeite ontsien word om by te dra tot die skouspel nie.

Wie is Vlooi?

Dis die hoofkarakter van die Storieboomreeks, voorgeskryf vir die grondslagfase vir baie skole in die land.

Margit Meyer-Rödenbeck (foto: Naomi Bruwer)

 

Wie het die teks oorspronklik geskryf en wie het dit tot toneelstuk verwerk?

De Klerk Oelofse (foto: LitNet)

.

Die boekies is oorspronklik in Engels geskryf en na Afrikaans vertaal deur Antoinette Stiemie. Ek “verwerk” die boekies. Eintlik skryf ek die toneelstuk, want soos jy weet, is daar nie genoeg “lyf” aan die Vlooi-boekie vir ’n volle uur se vertoning nie. Oxford het ons die regte gegee om hulle karakters te gebruik en nuwe stories rondom hulle te bou. Dit gee ons ruimte om uit te bou aan dramatiese spanning, wat nodig is vir die verhoogweergawe.

Wie is die akteurs?

Die top-geselskap sluit in De Klerk Oelofse in die rol van Vlooi, Martelize Kolver as Ouma, Dean Balie as die sirkusmeester Mario, Crystal Donna Roberts as Wilma en Jason Barnard van die Zip Zap-sirkus as Carlos die goëlaar. Marinda Engelbrecht maak as regisseur die prentjies en ek gee as dramaturg die woorde. Voeg daarby Niël Rademan se musiek en Liande Valentyn se danspassies en jy het ’n mallemeule van kleur en jolyt.

Jason Barnard van die Zip Zap-sirkus is supertalentvol en dra die swaarste aan die akrobatiese deel van die show.

Hoekom gaan Vlooi sirkus toe?

Die vervaardigers Krazy Katz in samewerking met Kunstekaap het besluit dat Vlooi nou al op so baie avonture was (dit is per slot van rekening jaar nommer 14) dat hulle moes kopkrap vir ’n nuwe bestemming, en wat kan meer opwindend wees as die sirkus?

 

 

Wat gebeur in Vlooi en die sirkus?

Die Cirque du Amar, al die pad van Parys, Frankryk, is in die dorp en al wat leef en beef wil na die sirkus gaan. Vlooi, Wilma en Ouma is van die gelukkiges wat kaartjies kon kry, maar ’n groot tragedie tref die sirkus: waterpokkies. Net die sirkusmeester, Mario, en sy goëlaar, Carlos, is die aaklige rooi kolletjies gespaar. Moet hulle die vertonings kanselleer of kan Vlooi tot die redding kom?

Gee asseblief vir ons lesers praktiese agtergrond as iemand wil kom kyk?

Die vertonings is vanaf 11 tot 29 Augustus in die Kunstekaap.

Vlooi en die Sirkus, van Storieboomreeks-faam, is elke weeksdag om 09:30 en 11:00 op die verhoog. (11–15, 25–29 Augustus Afrikaans en 18–22 Augustus Engels.) Kaartjies kos R70 en vir groepbesprekings is dit R50 en beskikbaar by Ansunette by 082 8288 505 of by marinda.vlooi@gmail.com. Of besoek die webwerf van die Kunstekaap.

Kyk na 'n video-inset van 'n vorige jaar se produksie in die Kunstekaap hieronder.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top