ATKV-Skrywersalbum | Writers

 
Vincent Pienaar (1949–)

Sêgoed van Vincent Pienaar:

Waarom het hy Jo’burg, die blues en ’n swart Ford Thunderbird geskryf?
“Daar is al soveel boeke geskryf deur mense wat van buite af op die gewone, common mense neerkyk. Ek is self een van daardie common mense en ek wou iets wat ek ervaar het, weergee.”

Gebore en getoë

Vincent Pienaar is op 21 Desember 1949 gebore. Hy het in die jare 1950 en 1960 in Newlands in Johannesburg grootgeword. “Ek het jare geglo ons is ryk, want ons het ’n kar en ’n geyser gehad. Kinders het by my kom kuier sodat hulle in warm water kon speel,” vertel Vincent aan Stephanie Niewoudt.

Toe word hulle ryk en trek Delarey toe. Terwyl hy met Dinky toys op die mat gespeel het, het hy geluister hoe mense met groot passie praat van ’n joernalis wat opgang in die politiek maak en dat die hele land in die hel gaan beland omdat dit uit die Commonwealth uitgesleep word.

Hy was ’n ruk in die Hoërskool Florida, waar die rugbymanne Harry Viljoen en Wahl Bartman in die 1970’s en 1980’s gematrikuleer het. “Die skoolhoof het my ma egter goed laat verstaan dat hy my nie gaan keer as ek besluit om te waai nie.” Wat hy toe ook gedoen het toe hy in standerd 7 (graad 9) stilletjies uit die skool is en in die Hoërskool Vorentoe in Aucklandpark beland het, waar hy gematrikuleer het.

Sy pa was ’n vakbondman, “wat destyds ’n baie vreemde ding was vir ’n wit ou om te wees. In die 1960’s was alles in die land verkeerd. Mense het ’n kommunis agter elke bos uitgeskop, en omdat ek as 13-jarige nie saamgestem het met die siening nie, is ek as ’n kommunis in wording gesien. Hoërskool Vorentoe was wonderlik, want daar was gewone mense, terwyl die skool in Florida destyds vol snobs was.”

Sy latere skrywery kom van sy ma af, wat as joernalis by Afrikaanse dagblaaie soos Die Landstem, Die Vaderland, Dagbreek en SA Stem gewerk het. Joernaliste het in hul huis gekuier, en so het Vincent van kleins af gesoute koerantmense se dikwels siniese beskouings oor wêreld- en plaaslike politiek beleef. Vincent vertel: “Hierdie joernaliste was harde mense met harde baarde wat die proppie van die Klipdriftbottel afgedraai het  en weggegooi het.”

As kind van ’n joernalis kon hy sy eie naam op ’n Remington-tikmasjien tik lank voordat hy kon lees of skryf. “Ek het net geweet ek moet die sleutels in ’n sekere volgorde druk om my naam te spel.” Hy het die eerste keer sigarette probeer los voordat hy skool toe is.

Een van die hoogtepunte van sy skryfloopbaan was toe ’n onderwyseres in standerd 9 (graad 11) aan hom gesê het dat een van sy opstelle haar laat huil het.

Die lewe op hoërskool was hard: “’n eindelose stryd om te weet waar die volgende partytjie is, en seker te maak dat ek ’n meisie het om saam te neem. ’n Obsessiewe liefde vir die Rolling Stones en die Beatles, ’n besete begeerte om uit te vind wat meisies doen wanneer hulle uiteindelik ‘ja’ sê, en ’n houding waarmee niemand – insluitende ek self – mee kon saamleef nie, het beteken dat ek gedurig in en uit die moeilikheid was. Enige iemand met enige mag; ouers, polisie, onderwysers, die weermag, die regering, die bure, die bure se hond (sekerlik ook the blind man on the corner who sings the Beale Street Blues), wou ek mee oorlog maak.”

Terwyl hy op skool was, het hy vakansiewerk by die destydse Sunday Express gedoen. Toe hy eendag saam met ’n gesoute fotograaf op ’n storie uitgaan, het hy gesê hy wil ’n joernalis word. Die fotograaf – “dit was presies die soort ou wat ek wou wees” – se siniese vraag of hy dan nie ambisie het nie, het hom onmiddellik van plan laat verander.

Verdere studies en werk

Vincent vertel verder: “Aan die einde van my skoolloopbaan was daar min dinge wat ek nog wou weet, wat ek nog nie uitgevind het nie. Ongelukkig het daar bitter min met my gebeur wat enige iets met geleerdheid te doen gehad het, en die binnekant van ’n universiteit het ek slegs gesien wanneer ons die swakste van swak Shakespeare-opvoerings in die Wits Great Hall bygewoon het. As ek ooit gewonder het hoeveel nonsens die teater eintlik was, het ek hier uitgevind. Ek het egter nie omgegee om te gaan nie, want dit het my middel-van-die-week geleentheid gegee om nog meer meisies te probeer molesteer.”

As Vincent vandag terugkyk, is dit vir hom moeilik om te verstaan hoekom hy keer op keer geleenthede verbeur het in ruil vir basies niks: “As skoolseun, die voorreg om by Derek May in die fotografiese donkerkamer van die Sunday Express te leer om met koerantfoto’s te werk, Junior skakelbeampte by Trutone waar ek musiek en skryf my lewe kon maak, werk by tydskrifte as uitlegkunstenaar, skrywer, fotograaf, what-have-you.”

Hy het later sy eie maatskappy begin, Streetwise Marketing, waardeur hy bemarking vir klein maatskappye doen.

Toe hy 20 jaar oud was, het hy by Killarney Filmateljee kommentaar vir African Mirror geskryf en sy eerste volledige roman, Jiemie, van begin tot einde klaar geskryf. Ongelukkig het hy dit vir ’n meisie gegee om haar te beïndruk, maar sy het hom afgeskud toe sy getrek het en die manuskrip het saam met haar verdwyn. Dit was ook ongeveer dié tyd dat Antjie Krog as tienerdigter gedebuteer het. “Ek het ’n knak gekry. Krog was net té groot vir my om te dink ek kan skryf.

“Maar, soos hulle sê, êrens tussen hier en daar, het ek die lewe soms ervaar. Gedurende ’n kreatiewe periode in Pretoria, waartydens ek as jazz-resensent vir The Citizen opgetree het, het ek indrukwekkende mense ontmoet: Nataniël, Elzabé Zietsman, Jannie Stemmet, Casper de Vries, Johannes Kerkorrel, Lieze Stassen, Danie en ander mense wat my laat dink het ek voel of ek saam met Jacques Brel en Rod McKuen in Parys woon.”

Vincent het saam met Alida White ’n handvol liedjies gekomponeer en opgeneem en ’n Afrikaanse liedjie van hom wat Lieze Stassen getoonset het (met die kru taalgebruik wat toepaslik gewysig is vir die Pretoria-gehoor), is by Kerslig Vers en Melodie uitgevoer.

In 1992 verskyn Vincent se eerste roman, Jimmy’s Place: a Man’s Pub is his Castle, by Penguin. En hierdie boek was reeds ’n aanduiding van die temas wat hom interesseer: gewone mense wat in ’n uitsiglose sleurbestaan vasgevang is en ’n bietjie plesier soek. Hy het Jimmy’s Place later verwerk in ’n radiodrama en ook ’n televisiedrama, The Visit, geskryf wat in 1996 op SABC3 gebeeldsend is.

Oor hierdie eerste roman van Vincent skryf Joan Hambidge in haar resensie dat  werkersklasliteratuur op daardie stadium hoogmode in Afrikaans blyk te wees. Jeanne Goosen se Ons is nie almal so nie en gert vlok nel (met kleinletters soos ee cummings) se om te lewe is onnatuurlik is oortuigende tekste. Maar nou wil dit haar voorkom asof uitgewers hierdie “ons skryf soos ons praat”-aanslag hartlik verwelkom, en mag ’n mens dit sê, ook enigsins oorskat.

By ’n skrywer wat ’n storie het om te vertel, en terselfdertyd iets méér gee as ’n doellose werkersklasbestaan soos Ons is nie almal so nie wél doen, oortuig dit. In die pas verskene Jimmy’s Place: a Man’s Pub is his Castle van Vincent Pienaar raak die aanbod meer problematies. Die prosateks is deur Penguin gepubliseer, wat etlike ongemaklike vrae na vore bring oor die literêre standaard van dié uitgewershuis. Die naam klink ook Afrikaans, en ja, die styl is sommer so in lekker ou “Souf-Efrican”-Engels geskryf. Local is mos lekker, boys. Die plek: ’n kroeg. Die intrige: platvloers. Die karakters: hartseergevalle. Die blakerteks sê dit alles: “In any bar the guys spend a lot of time sorting out the problems of the world. After all, taking care of the ozone-friendly leak in the greenhouse is a lot easier than taking care of a wife and a dog-box full of screaming children. At least, that's the way we all saw it. … Oupa, Roomy, Kallie, Mighty Mouse, Dries the Ducktail ... and Jimmy, of course.” Grappies soos “like a muggie on a boerbrood” (88) of “laatlammetjie” en so meer is sekerlik op ’n Britse gehoor verlore?

“Vir die res is die vertelling werklik (wel vir hierdie leser ten minste) on-snaaks en onoortuigend. En die tekeninge van Denise Hurry som miskien onbedoeld 'n probleem in die teks op: Die karakters kom nooit juis uit die verf nie. Die een praat soos die ander, lyk soos die ander. Dankie dus vir die visuele voorstelling. Die afloop van die verhaal is voorspelbaar, en so ook die reaksie van die karakters. Die teks skep 'n probleem: Kan die leser patos ervaar as die karakters blote gevalle bly? Die reaksie van die swartman op die dood van sy “baas” is insgelyks van buite en onoortuigend vertel. 'n Mens sou kon argumenteer dat dit juis dié soort karakters se tipiese reaksie op swartmense is, maar té veel kere in Jimmy's Place word situasies nie volledig ontgin nie,” skryf Hambidge.

In “So-wha-re-bou-rit?” word die leser wél oortuig dat die verhaal met meer afwerking kon werk. Hier voel ’n mens deernis vir die patetiese karakter se desperate soeke na liefde en sy aanvaarding daarvan met ’n dubieuse vrou. Die nuwe verromantisering van die werkersklasbestaan is vermoedelik die rede vir die verskyning van Jimmy’s Place.

Vincent het ook ’n televisiedrama You buy the dog, you get the fleas geskryf. ’n Versameling van sy kortverhale is tot ’n radiodrama van 90 minute verwerk en Jimmy’s Place is tot die laaste deel van die drama beperk. Dit is in 1994 op Radio South Africa uitgesaai.

In 1997, met ’n skool-herunie, het Vincent mense raakgeloop wat hy nie geweet het bestaan nie. Volwasse mense met families en verantwoordelikhede, waardigheid en volwassenheid. “Ek kon dit nie glo nie! Hierdie was die tieners wat saam met my in die skool was. Het hulle geweet dat hulle wash-outs was? Het hulle besef dat grootword in die Melville en Westdene van die sestigerjare – toe dit ’n uitdaging was om daaruit wég te kom  – die resep vir eindelose tragedie en swaarkry was? Wel, nee, hulle het nie. Dat grootword baie skaafplekke en vel-af kniekoppe het, het hulle goed geweet, maar dat jy opstaan, ’n Band-Aid aanplak en aangaan, is ook deel van die game – en jy moet hard werk sodat jy nie een van daai’s is wat dit nié maak nie.”

En hierdie is die mense van Jo’burg, die blues en ’n swart Ford Thunderbird wat in 2003 verskyn het en waaraan Vincent begin werk het op ’n vakansietrein na Namibië. In hierdie roman gee hy stem aan die mense van onder meer Triomf, Newlands en Brixton: “Dis mense wat voorheen nooit ’n stem gehad het nie.” Die boek was op die kortlys van Jan Rabie/Rapport-prys vir 2004.

Hy dra die boek op aan die mense wat soos die karakters in sy boek is – mense wat in hul Ranchero van die een ongelukstoneel na die ander jaag om te aas op motorwrakke, mense wat naweke in Bapsfontein gaan skoffel, en mense wat in bogenoemde laerklas-buurte woon. Die roman speel af in hierdie Johannesburgse voorstede van ongeveer 50 tot 60 jaar gelede – in ’n tyd toe ouers gevrees het ducktails gaan hul dogters sonde leer, en die manne van die cherries gepraat het.

Die karakters in Jo’burg, die blues en ’n swart Ford Thunderbird het dit geldelik nie breed nie, maar met ’n goeie skeut geluk en deursettingsvermoë slaag van hulle tog daarin om weg te breek: Florida toe.

Die gebeure in Jo’burg vind plaas in die laat 1960’s in ’n minder gegoede buurt waar  verhuising na Brixton ’n skerp beweging opwaarts is. Die verhaal is verdeel in hoofstukke waarin die skrywer sy karakters en hulle agtergrond skets en dan almal se lewens saamtrek in ’n volkome geloofbare snoer.

En vir Madeleine van Biljon het Vincent Pienaar ongelooflike karakters opgetower. Stil Willie met sy passie vir ’n swart Ford Thunderbird; sy goose en latere vrou, die mooi en geil Martie-Santjie; Ousus, wat haar ma se kinders grootmaak en trou met Piet, die road vulture wat ongelukke met ’n vaart najaag en so ook die cherries, een jonger as die ander. Hulle is almal upwardly mobile, behalwe Charlie, Ousus se broer, wat sy rigting verloor in die Cotton Club, waar die formidabele Dolly die septer swaai. Dis egter Ousus se revenge op Piet en die tere beskrywing van haar verhouding met die jong klong Wortel – wat haar kind kon gewees het en wat haar doopnaam, Emmarentia, gebruik – wat ontroer.

Die roman is nie in Standaardafrikaans geskryf nie en puriste moet hulle oordeel of veroordeling hokslaan. Hierdie mense bestaan en het ’n reg om hulle soms sad lewe te verbeter, al word daar dikwels te veel gedrink, te veel rondgeslaap of aanmekaar gevloek, skryf Van Biljon. Want soos die skrywer in sy opdrag skryf: “Opgedra aan hulle wat weet dat die lewe hulle miskien nie ’n Royal Flush gedeel het nie, maar anyway vir ’n vale poker speel.”

Vir Mathilda Smith is die taalgebruik van die karakters in Jo’burg, die blues en ’n swart Ford Thunderbird so wonderlik outentiek en dinamies dat ’n mens jou maklik kan verbeel jy luister na dialoog uit ’n film. Dit is ’n heerlike leeservaring wat die Afrikaner van die 1960’s in Brixton met humor en groot, groot deernis uitbeeld.

Volgens Philip John benader Pienaar sy agterbuurt-geskiedenis deur die gebruik van ’n pop-Afrikaans (Afrikaans deurspek met Engelse woorde) soortgelyk aan dié van Jackie Nagtegaal se Daar’s vis in die punch, wat tot heftige debat in die media gelei het. “Pienaar se gebruik verteenwoordig egter ’n nog verdere ontwikkeling deurdat hy die taalvariant plaas, nie in die mond van 'n karakter in die verhaal nie, maar in dié van die derdepersoonsverteller. ’n Derdepersoonsverteller wat persoonlikheid begin kry en nie ’n transparante medium bly nie, is redelik ongewoon in die prosageskiedenis. Dis ’n risiko om te loop en een wat nie heeltemal slaag nie.

“’n Groot deel van die probleem lê by die pop-Afrikaans wat Pienaar sy verteller laat gebruik. Dit het ’n eenselwigheid wat ’n mens eintlik assosieer met die gestandaardiseerde variant van ’n taal: die verteller en die karakters ‘meng’ hul tale ewe veel, asof hulle ’n anti-AWS het wat vir hulle voorskryf. So ’n standaardisering van iets onstandaardiseerbaar is doodgewoon onrealisties – linguisties én histories gesproke. ’n Mens verstaan die gebruik van pop-Afrikaans as ’n gebaar wat [sic] identifisering met ‘gewone’ Afrikaanse mense en as ’n soort herverdeling van kommengeit, maar wanneer dit oordryf word, begin dit hinder en lyk dit soos ’n pose , soos in die volgende uittreksel: ‘Charlie begin werk as ’n shelf packer en hy’s proud om Ous met geld vir die housekeeping te help, maar dit vat nie lank voordat hy besluit dat toil in ’n donker stoorkamer nie eintlik ’n bright future bied nie.’

“Die verhaal self is boeiend genoeg, met genoeg draaie en intrige, skades en skandes om die leser se aandag enduit te hou. Vir dié van ons wat nog die geskiedenis van Mitzi Stander en haar ongelukkige einde op 18 Junie 1973 aan die onderpunt van Eerste Laan, Victory Park, net oorkant Nel’s Melkery kan onthou, het die roman interessante ondertone.

Jo’burg, die blues en ’n swart Ford Thunderbird laat ’n mens uitsien na Pienaar se volgende roman en die moontlikheid dat hy daadwerklik deur die boerewors- en vetkoekpaleisgordyn sal breek. Dit sal gebeur as hy sy behendigheid om ’n vermaaklike storie te vertel kombineer met iets wat ’n tikkie meer aangryp.”

Vir Helize van Vuuren mis Jo’burg enige deernisvolle uitbeelding, bly dit steek in banaliteit en verwording, en is dit ’n onverkwiklike verhaal.

Vincent se tweede roman, Kringfluit, word in 2006 deur Litera Publikasies uitgegee. Kringfluit is die skel protes van klanktoerusting wat verkeerd gebruik word. Dit kan ’n hele gig verongeluk en ’n groot gemors afgee. Maar dis deel van die kabaret wat moet voortgaan om van Buddy ’n superster te maak, en vriende, bewonderaars en oningewydes met goeie bedoelings deel in die spel om dinge vrolik maar onstuitbaar op die spits te dryf.

Kringfluit is lig en rats geskryf, vol humor, boosheid en patos – ’n verhaal wat jou gryp en meesleur en om die beurt vermaak en ontstig, een wat jou met ’n mengsel van frustrasie en deernis laat. Soos Wium van Zyl sê: “Dis die plesierigste tragiese roman wat ek in ’n lang tyd gelees het.”

Vir Charl-Pierre Naudé pas Kringfluit tematies in die kader van Koos Kombuis se Seks & drugs & boeremusiek en verskeie ander onlangse (niefiksie-) boeke, ook in Engels. Ook by boeke oor die rockmusiek en kabaret-herlewings in Suid-Afrika, veral rondom Afrikaans in die jare tagtig en vroeë negentigs (soos Voëlvry, the movement that rocked a nation).

“Dis egter ’n roman hierdie, fiksie dus, maar bespikkel met werklike historiese karakters wat dun verbloem voorkom en ander welbekende personasies wat onder hul eie name verbyflitsende buigings maak. Die hoofkarakters is fiktief.

“Die gebeure speel af in Johannesburg rondom die destydse Hillbrow en wentel om die enigmatiese Buddy, ’n klubsangeres en haar string minnaars asook meelopers soos die korporatiewe grysmannetjie-verloopte, ene Coen. Almal voer meestal ’n moeilike, selfs tragiese hand tot die tand bestaan hoewel hulle die kalklig en daaglikse persberigte beset. Die leser sal dalk die selfmoord van Johannes Kerkorrel in die herinnering roep. (Hy verskyn ook in Kringfluit as ene ‘Johannes’.)

“Die woord ‘kringfluit’ is ‘feedback’ in Engels, dit wil sê klankdistorsie, ’n pragtige voorbeeld van die Afrikaanse woord wat soveel meer beskrywend is as die Engels. Die titel is onmiddellik herkenbaar as vlugskrif vir ‘rimpeleffek van verwronge geluk en verhoudings’ – maar nooit sonder die plesier wat deur alles fluit nie.

“‘Kringfluit’ as verhaal is niks spesiaals nie: Dis die daaglikse kronieke van Joburg se ladybirds en klubkokkerotte in die laat tagtigs. Dis dus nie narratiefgedrewe (soos Kontrei van Kleinboer) en ook nie joernalisties-anektodies soos die meeste van Kombuis se prosa nie. Dis myns insiens ’n moeiliker, meer ambisieuse soort prosa, naamlik van die karaktergedrewe soort. Van die kostelikste vlees-en-bloed mense, toegedraai in papier, kry jy hier tussen die skutblaaie van Kringfluit.

“Wat styl betref, sou ek kon sê daar is min afwisseling in die kadens van die sinne (volgens Kombuis of Kleinboer in dié opsig as teenvoorbeelde), wat aanleiding gee tot ’n eentonige ritme, maar die meesleurende taferele sowel as die flinke pas van die vertelling verdoesel dié tekortkoming.

“’n Boek word nou eenmaal gemeet aan sy hoogtepunte. Die karaktertekenings, met ’n lag en ’n traan, is ’n oortuigende mengsel van beskrywing van buite, en innerlike denkprosesse. Die minutiae daarvan raak selde oorbodig of vervelig. Dis die sterk punt van die roman. Veral die karakter van die erotiese Buddy is pragtig, byvoorbeeld hoe sy op kinderlike wyse die vinger van ’n vertroueling in haar mond sal druk in die openbaar, terwyl niemand kyk nie. Sy is eenvoudig ’n turn-on, dubbel en dwars, afhangend van hoe sy haar lê kry. Dis nie aldag dat mens die seksualiteit van ’n vrouekarakter aan die hand van ’n manlike outeurspen só oortuigend ervaar nie.”

Pienaar het ook volgens Naudé ’n mooi manier van woorde veelseggend – en poëties – gebruik. Die roman, wat hom in die voorwoord daarop roem dat hy juis stereotipes probeer ontluister, is nie deurgaans hiervan vry te spreek nie. Maar dan moet ons onthou dat die menslike bewussyn per definisie nie sonder stereotipes funksioneer nie.

Naudé vervolg: “Lewensgetrouheid blyk Pienaar se eerste muse te wees. Die gedeeltelike anonimiteit van plek en mens dra by tot die gevoel van iets wat eg verteenwoordigend is van dié tyd. Ondanks die feit dat die boek in ’n vergange era afspeel, kom dit glad nie gedateerd oor nie. Waarom nie? En weer moet ek Kombuis as teenvergelyking byhaal. Waarskynlik omdat Kringfluit geskryf is sonder die joernalistieke oogmerke van Kombuis – soos menings- en frase-gerigtheid. Hier het ons nie opvattings oor ’n tydsgewrig wat karakterisering bepaal nie, maar karakters wat jou meer vertel van die tydsgewrig. Die bron van die intermenslike verval in Kringfluit lê juis in die politiek van die tyd, maar van blyke hóé daardie politiek menseverhoudinge bepaal het, kom maar min tereg. Die politieke domein word geskets ja, en die private ook, maar die osmose tussen die twee, die presiese aard van die wedersydse beïnvloeding, is maar dun beskryf. En moontlik dun begryp?”

Vir diegene wat die tagtigs en vroeë negentigs meegemaak het, sê Naudé: “Lees hierdie boek. En diegene wat dit nié meegemaak het nie: Lees hom óók! Jy sal nie spyt wees nie.”

George Weideman het Kringfluit beskou as ’n interessante en boeiende boek, met onthoubare karakters (by uitstek Buddy, Coen, Buzz en Julius) en ’n oortuigende verhaalverloop. Pienaar se eie knap lirieke – asook ander bekende en minder bekende songs – word vernuftig aangewend om kommentaar op die tye en op die kunstenaarspersoonlikheid te lewer.

Weideman het egter ’n enkele woord van kritiek gehad na aanleiding van die soms huiwerende styl waarmee Coen se aarselende persoonlikheid uiteraard geteken word, maar wat dalk plek-plek (as gevolg van ’n oormaat aan ellipse) ’n leesbeletsel word.
Kringfluit word (soos oorsee nou al gebruiklik is) met ’n omslagfrase, “die plesierigste tragiese roman”, opgesom – en dít belig vir Weideman inderdaad die opvallendste kenmerk van hierdie “anti-roman”: die voortdurende wisselspel tussen grenslose banaliteit en tragedie.

Struktureel interessant is die feit dat die boek met hoofstuk 22, die begrafnis van een van die sentrale karakters, open – en dan daarvandaan terugwerk, asof sin in die chaos en banaliteit gevind moet word. Ook deur ander tragiese gebeure – wat heel realisties op ’n soms onvoorspelbaar banale wyse voorberei word (byvoorbeeld Joey se broer se dood), Buddy se kortstondige roem en Coen se kortstondige inisiasie, verkry die roman ’n amper nihilistiese trek. Tog red die humor – die plesierige – die boek daarvan om bloot as ’n kultusroman afgemaak te word. Die fyn tragikomiese balans het dit vir Weideman ’n besonderse leeservaring gemaak.

Na tien jaar van demokrasie in Suid-Afrika het Vincent gesê dat die meeste mense al vergeet het hoe hulle in 1994 hul koskaste volgepak het met blikkieskos. “Daar is twee dinge wat pla: in die kunste is daar ’n strewe na alles wat van Afrika is. Shakespeare het onbelangrik geword en Suid-Afrika is die koninkryk van die ANC. Alles wat die ANC doen, is goed en mense wat nie beter weet nie, stem vir die koning. Regstellende aksie kos die regering te veel geld. Ek hoop die land word vorentoe regeer met sterker ekonomiese as politieke oorwegings.”

Publikasies:

Publikasie

Jimmy’s place: a man’s pub is his castle

Publikasiedatum

1993

ISBN

0140230521 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: Penguin Books

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Jo’burg, die blues en ’n swart Ford Thunderbird

Publikasiedatum

2003

ISBN

0795701551 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kringfluit

Publikasiedatum

2006

ISBN

9780958462662 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Litera Publikasies

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Artikels oor Vincent Pienaar op die internet:

Artikels deur Vincent Pienaar op die internet:

Bygewerk: 2012-06-07
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address