Fiksie-kompetisies | Fiction Competitions

 
Vervaldatum-kompetisie: Vergifnis sonder vervaldatum

Hoe kon hy dit doen? Hoe? vra Liza vir die soveelste keer die vraag in haar gedagtes. Sy wou net die beste vrou en ma wees. Sy onthou toe hulle tien jaar gelede ontmoet het. Dit was liefde met die eerste oogopslag. Almal vertel tot vandag toe watter pragtige paartjie hulle is. Straal altyd van geluk. Veral nadat hulle na ses jaar geseën is met ’n pragtige, gesonde dogtertjie.

“Kom nou Liza Louw, ruk jouself reg.” Liza vee haar trane met die punt van haar rok af. “Jou dogtertjie het jou nou nodiger as ooit tevore,” praat sy haarself aan. Sy trek die blommetjiesgordyn effe weg en sien haar vierjarige dogtertjie, Mia, buite onder die boom speel. Tafeltjie gedek met ’n fynporselein-teestel. Lenie Lappop, Bennie Beer en Apie elkeen op ’n stoeltjie sit gemaak. Sy babbel aanmekaar en beduie vir die vale met haar klein poffertjiehandjies. Liza neem ’n houer joghurt en ’n lepel en stap buitentoe. Sy glimlag toe Mia haar nooi om saam tee te drink. Sy gaan sit kruisbeen op die gras en neem die koppie wat haar aangebied word.

“Toe, Mamma, drink. Apie het nou al die koekies opgeëet, maar hier is genoeg tee.”

Liza neem die koppie wat haar aangebied word en maak asof sy drink. Sy plaas die joghurt op die tafel. “Mamma het vir jou joghurt gebring. Ons sal dit in die plek van koekies eet.”

Mia klap haar handjies. Sy hou van joghurt en Mamma bederf haar gereeld daarmee. Toe sy ’n happie vat, spoeg sy dit dadelik uit.

“Juk! Mamma, dit is baie sleg.” Sy trek haar gesig op ’n plooi en vee haar mond met haar mou af.

“Ag nee Mia, meisies spoeg nie so nie,” raas Liza. Sy neem die houer en ruik daaraan. Sy kyk na die datum op die houer en sien die vervaldatum het reeds verstryk. Sy voel dadelik jammer dat sy sommer met Mia geraas het. Dit is nie Mia se skuld dat haar lewe ’n gemors is nie. Sy neem Mia se hand. “Kom Poplap, ons moet nou ingaan. Mamma moet met die kos begin.”

Nadat hulle hande gewas het, stap hulle kombuis toe. Liza neem ’n inkopiesak.
“Mia, kom help vir Mamma. Ons sal deur al die bederfbare items in die yskas moet gaan. Mamma sal moet oplet na die kos se vervaldatums.”

“Mamma, wat is vervaldatums?” wil Mia nuuskierig weet.

Liza neem ’n houer en wys na die gedrukte datum. “Sien jy die nommertjies, Mia? Dit wys wanneer kos nie meer goed is om te eet nie. Mens kan nogal baie siek word van kos wat bederf is.”

Mia knik haar koppie. Die blonde krulle wip parmantig. “Mamma, gaan ek ook nou siek word?” wil sy grootoog weet.

“Nee my poppeliefie, jy het mos gou agtergekom dat die joghurt nie lekker proe nie. Kom gee vir my ’n drukkie.” Liza druk die fynklein lyfie styf teen haar vas.

“Mamma! jy versmoor my neusie!” kom die gedempte stemmetjie deur. Liza voel asof sy haar kind nooit wil los nie. Die vertroosting wat die warm lyfie teen haar bied. Die onvoorwaardelike liefde wat ’n kindjie aan ’n ma kan gee. “Los nou, Mamma, netnou word my neusie plat soos Snuffels s’n,” kerm Mia.

Liza los haar en streel liefderik oor haar neus. “Toemaar, Poplief, mens se neus word nie plat van liefiedrukkies nie.”

Mia vat die sak en help fluks om alle oorskietkos in die sak te gooi.

Liza sluip op haar tone Mia se kamer uit en trek die deur saggies toe. Mia wil nog nie saans alleen gaan slaap nie. Nog een van Stiaan se verwyte wat gereeld na haar kant toe gegooi word. Sy staan ’n oomblik langer in die gang, met haar hand oor haar hart gevou. Die gang voel soos ’n neutrale veilige hawe. Stiaan sit voor die TV. Vandat hy by die huis gekom het, het hulle skaars met mekaar gepraat. Die ete was ongemaklik stil. Self Mia was stiller as gewoonlik.

Liza stap die kombuis binne. Sy sal haarself met die skottelgoed besighou en dan ook maar gaan inkruip, dink sy. Haar verstand wil antwoorde hê, maar haar hart is stukkend. Elke verskoning wat sy uitdink om Stiaan se optrede te regverdig, breek net nog ’n stuk uit haar hart. Sy druk met haar hande op die wasbak en laat haar kop sak. Met toe oë prewel sy: “Here, kan U nie maar die beker by my laat verbygaan nie. Laat ek wakker word uit hierdie nare nagmerrie.”

Liza skrik toe Stiaan skielik agter haar praat. “Liza, ons moet praat. So kan dit nie aangaan nie.”

Sy kyk hom aan asof hy uit die buitenste ruim kom. Skielik voel sy verskriklik jammer vir hom. Hy lyk verwese, verlore. Sy droog haar hande af en gaan sit op die stoel.

“Is daar dan nog iets waaroor ons kan praat, Stiaan? Jy het mos daai vrou bo my en Mia verkies. Ons lewe saam beteken vir jou niks.” Trane stroom oor haar wange en val op haar hande.

“Stiaan jy het alles bederf. Jy het ons verhouding bederf. Jy het nie net vir my verraai nie, maar ook jou dogter. Ek voel siek as ek aan julle twee saam dink. Jy het my liefde in die asblik gegooi asof dit niks is nie.”

Stiaan kniel voor haar. “My meisie, ek is so jammer. So verskriklik jammer. Jy verdien dit nie om so seergemaak te word nie. Ek wens ek kan die afgelope twee maande uitwis. Ek wens Mara van Tonder het nooit oor my pad gekom nie. Ek wens ek was nie so swak om voor haar listigheid te swik nie.” Hy lig sy hande in ’n smekende gebaar.“Ek is vir jou lief. Net vir jou. En ek wil geen ander vrou hê nie.” Hy laat sak sy kop in haar skoot.

Hulle kyk albei op toe hulle die geluid by die deurhoor. Mia staan in die deur, haar gesig in skok verstar. Sy klou haar apie in die een arm vas. Liza spring op en gryp haar styf vas.

“Miatjie my poppeliefie,” huil sy in die kind se klere. “Hoekom slaap jy nie?” Stiaan kom ook nader en vryf oor Mia se kop. “Kom, Ounooi. Pappa gaan sit jou terug in jou bedjie.” Hy tel haar op en stap na haar kamer toe. Liza maak ’n bietjie melk warm en neem dit saam kamer toe. Mia se blou ogies is blink van ongestorte trane. Sy drink die melk sonder om te stry. Liza en Stiaan sit aan weerskante van haar. Hulle het nie woorde nie en die stilte is byna ondraaglik. Die seer in Mia se ogies kla hulle aan.

Mia laat sak die glas melk. ’n Wit strepie maak ’n melksnor. Stiaan steek sy hand uit om dit af te vee, maar sy hand bly in die lug hang toe Mia skielik praat. “Mamma, het Pappa dan ook ’n vervaldatum soos die kos in die yskas? Voor Liza kan antwoord, sê Mia: “Maryna se mamma het ’n vervaldatum gehad, want haar pappa het haar weggegooi en ’n nuwe mamma gaan haal.” Sy begin onbedaard huil. Sy klou albei om die nek en snik. “Ek wil nie ’n nuwe mamma of pappa hê nie. Ons moet iets kan doen om Pappa en Mamma se vervaldatum vir ewig te maak.”

Die drie lê saam in Mia se bed. Sy snik so nou en dan in haar slaap. Terwyl hulle albei vir Mia vashou, kyk hulle stil in mekaar se oë. Oë wat nuwe beloftes maak. Oë wat vergewe. Oë wat liefde sonder vervaldatum verklaar.



Klik hier vir meer besonderhede oor die kompetisie.      
Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address