Vervaldatum-kompetisie: Valentynsdag het verval

  • 0

Dis Saterdagoggend, die mall is so besig soos ’n sopkombuis en in elke winkel is daar lang rye mense wat by die betaalpunte toustaan om die laaste winteruitverkoping-specials met hulle kredietkaarte te betaal. Ek is haastig. Dis my af naweek. Gerhard het gaan visvang saam met sy seun en dis my naweek van “me time” met ’n groot uitroepteken agterna!

My laaste stop is Exclusive Books, want ek moet net vandag nog Reney Warrington se jongste boek, Oktober, kry en begin lees. Ek het nou al op LitNet die resensie gelees, Reney se YouTube-insetsel gekyk en kon steeds nie presies verstaan wat sy bedoel met liefde met ’n vervaldatum nie en ek is vrek nuuskierig!

Tuisgekom en haastig ’n paar goedjies afgehandel en my bedkassie ingerig vir ’n lekker lees. Iets om te drink, iets om aan te peusel, my sigarette, en ek is gereed.

So vyf hoofstukke in die lekkerlees-boek in en ek weet presies wat sy bedoel met “Liefde met ’n vervaldatum”.

Dit laat my dink aan ander liefdes met vervaldatums. My eie liefdes met vervaldatums. Dié wat jou op die grond kan laat kruip soos jy lag en ander wat jou opnuut hartseer maak en laat verlang.

As ek nou, soos Reney, ’n boek moes skryf oor my liefdes, dié wat vervaldatums gehad het, sou die boek, kug-kug, baie dikker as hare gewees het.

Tog is daar van hierdie vervalle liefdes wat jy seker saam met jou sal graf toe dra, of dit nou al huilende of al laggende is.

Liefde met vervaldatums, nè? Nou laat ons gesels!

Uit ’n baie liefdelose huis uit gebore en getoë, tog goed en heel anderkant uitgekom, maar my verhoudings met die gesin waaruit ek kom, het blykbaar almal vervaldatums gehad. Hoe hard ek ook al probeer het om die raklewe te rek en nou en dan te gaan proe of dit al verby die vervaldatum was, niks het gehelp nie. Dit het verval, sleg geword, gevrot en as jy daarvan sou eet, sou dit jou baie siek maak. Daarom het ek ’n streep daardeur getrek en “VERVAL” tussen die lyne geskryf. Dis afgeskryf soos slegte skuld. Jy kyk nie terug nie en jy dink nie meer daaraan nie.

Terwyl ek lees, voel ek effe geïrriteerd en dit krap heeltyd in my onderbewussyn, totdat ek besef dis die TV – ek moet dit afsit. Ek het hierdie gewoonte om ’n boek te lees en nog twee TV-programme te kyk. Alles tegelyk. Hierdie boek soek nou my volle aandag, dus moet die TV nou eers af.

Ek sit egter vir ’n wyle agteroor met die boek wat op my skoot rus en my gedagtes verdwaal in tye wat ek diep in my hart se bêrekamer opgaar. Al vir baie jare. Net ek weet, ek en dalk een ander persoon. Die grootste liefde van my lewe wat ’n vervaldatum op gehad het. Diep, innige, seermaakliefde. Daai soort liefde wat dalk net een maal in jou lewe gaan kom. En as die onthou kom, dan raak dit bitter seer.

Ek sit Oktober eers saggies langs my neer en stap na die studeerkamer en haal ’n ou fotoalbum diep onder uit die kas uit. Ek gaan sit sommer net daar op die mat met my rug teen die muur.

Nou voel die huis nog stiller en ek sweer die nag buite lyk weemoedig, die maan trek skaam agter ’n wolk in en ek maak die album oop.

Ons was jonk, vol planne vir die toekoms … sterre in ons oë, en die lewe en al die geluk in die wêreld het aan ons behoort.

Hy het my Meisiekind genoem en hy was my Vaalseun. Hoe die bynaampies gebeur het, weet ek nie. Dit het net so gebeur, maar ons liefde het ’n vervaldatum gehad en ons het dit nie eers geweet nie.

Tien duisend duiweltjies spring heen en weer in sy oë. Die blouste blou oë wat saamlag as hy praat en jou hele wese vashou as hy vir jou kyk, totdat jy daarin kan verdrink. Ek blaai terug tot ek weer in sy oë kan kyk en ek onthou ...

“Meisiekind, kom, opstaan, opstaan, ons gaan dans vanaand. Volgende week moet ek weer weg grens toe en dan gaan dit lank wees voor ek weer daai lyfie van jou tussen my vingers kan voel, en ek voel dit soveel beter as jou lyf op ritme tussen my hande beweeg.”

“Jy het heeltemal te veel energie, meneer Yssel, heeltemal te veel!” Ek spring uit die bed uit en rek al my ledemate weer terug in posisie met die hoop dat ek bietjie energie kan laai. Dit was nou voorwaar ’n heerlike middagslapie. Ai, dié Buks van my het inderdaad baie energie. Sou wat wou gee om te sien hoe hy die manne op die grens rondjaag.
Buks is voor my in die stort en terwyl ek van my rokkie en ander kleertjies ontslae raak om ook in die stort in te spring, kom lê daar al klaar weer verlange na hom hier binne my as hy van volgende week af nie hier gaan wees nie. Die lang en leë nagte en die nog langer dae. Die aftel van hierdie alleen dae en die vreeslike uitsien na sy terugkoms. “Jy weet, meneer Yssel, volgende week is Valentynsdag,” sê ek soos ek onder die stort inbeweeg saam met hom.

“Met ’n man soos ek is dit elke dag Valentynsdag, Meisiekind”, en hy stoot sy bors uit om vir my te wys hoe oulik hy is.

“Ja, ja, maar Valentynsdag is spesiaal en jy gaan nie hier wees nie, so jy beter sjokolade en blomme koop voor jy weggaan.”

Buks hou my styf vas, kyk in my oë, en geen woorde is nodig nie. In sy menswees, alles wat hy van homself gee, is daar iets wat baie beter is as enige bos blomme en enige sjokolade in mooi blink papiertjies in die hele wye wêreld.

Ons staan lank so onder die stort terwyl die water oor ons spoel en die oomblik ’n tere herinnering maak wat ons albei vir ewig sal onthou. Vrees dat oomblikke soos hierdie dalk een van die laastes mag wees elke keer voor hy moet grens toe gaan, is werklik. Ek wys dit egter nooit vir hom nie.

Die aand by die restaurant was heerlik. Elke oomblik van die aand ingeneem en gedans tot die son opkom. Toe ons by die huis kom, was ons albei so gedaan dat ons dadelik in die bed gespring het en geslaap het totdat ons moeg geslaap was.

Die naweek saam met Buks was ’n fees, maar te gou verby, want toe kom Sondagaand en ons begin sy goed pak om gereed te maak vir sy vertrek grens toe. Skoene poleer, alles netjies gewas en gestryk en plaatjies wat blinker as blink gevryf word. Terwyl hy alles so sorgvuldig inpak, hou ek hom dop en sien hoe sy persoonlikheid, die mens wat hy is, in alles wat hy doen weerspieël word. In die pak van sy bagasie om grens toe te gaan. In die manier waarop hy met ander mense omgaan. Die respek in sy stem as hy met sy pa praat ... En ek weet, daar is net een Buks Yssel. En ek weet ek het ’n baie goeie keuse gemaak.

Sondagnag was lank, want ek het min geslaap, so asof ek die nag wou vashou en die horlosie wou verbied om sy wysers te laat draai. Ek het langs Buks gelê en hom dopgehou terwyl hy slaap. Sy rustige asemhaling-bewegings en die stilte van die nag. Ek het aan planne gedink om hom te laat bly, maar later opgegee en besef dis iets waaroor ek geen beheer het nie.

Maandagoggend vieruur moes ons ry, want Buks moes sesuur aanmeld en hulle vliegtuig het nog dieselfde oggend vertrek. Dit het tyd geword om te groet. Ek het in sy arms gestaan en hy het my styf vasgehou, my innig gesoen en vir my gesê: “Onthou, Meisiekind, hierdie Vaalseun sal jou nooit in die steek laat nie. Jy is alles in my lewe en al is ek weg van die huis af, sal ek steeds elke oomblik van die nag en dag met jou wees, altyd!"

Ons het albei gehuil, soos altyd, maar hierdie keer was dit anders. Buks het my langer vasgehou as gewoonlik, my trane met die agterkant van sy hand afgevee en my ’n paar keer saggies op my voorkop gesoen. Dit het so finaal gevoel ... so finaal!

Woensdagoggend daag ek by die werk op en die sekretaresse sê ek moet dringend die Weermagbasis bel. Een of ander kolonel wil dringend met my praat. Ek hardloop na my kantoor toe, skakel die nommer, maar ek voel hoe daar iets binne my skeur nog voordat die stem aan die anderkant antwoord. So of ek reeds die ergste verwag, want alle vrouens wie se mans op die grens diens doen, vrees hierdie soort boodskappe. Vrees dit meer as enigiets anders.

“Kolonel Visser,” antwoord ’n bas manstem aan die ander kant. 

“Dis mevrou Yssel, Kolonel, ek het ’n boodskap gekry om u dringend te skakel.”

“Mevrou Yssel, daar was ’n aanval op die basis waar jou man gestasioneer is. Buks is ernstig gewond.”

Ek voel hoe die wêreld onder my padgee en die telefoon slap word in my hand. Toe ek weer my bewussyn herwin, lê ek plat op die vloer in my kantoor en ’n klomp mense staan om my. Ek besef dadelik wat gebeur het, maar ook dat ek nie weet hoe ernstig Buks gewond is nie.

’n Vriendin bied aan om weer ’n oproep na die kolonel te maak en terwyl sy oor die foon praat, sien ek hoe sy verstar toe sy in my rigting kyk, die telefoon neersit en uit die kantoor uit loop. Toe weet ek, my Buks is weg, vir altyd. Dit was ’n swart dag vir almal wat my Buks geken het, die swartste swart wat ek ooit gesien het.

Terug by die huis moes ek begin reëlings tref vir my Buks se terugkoms Suide toe. Hier waar sy hart en sy alles is. Ek beweeg in die huis rond asof my liggaam en siel op twee verskillende plekke is.

’n Klop aan die deur laat my skrik.

Ek maak die deur oop en daar staan ’n bode met ’n bos rooi rose so groot soos die huis. Ek teken vir die ontvangs, maak die deur agter my toe, sit die blomme op die eetkamertafel en sak neer in ’n stoel. Ek maak die kaartjie oop. Die blomme is van Buks af. Rou snikke skeur deur my lyf terwyl ek probeer lees. “Meisiekind, as jy hierdie blomme kry, weet asseblief dat ek baie, baie lief is vir jou! Jy weet dit mos! Saam met jou is die lewe ’n fees en vir my elke dag Valentynsdag. Ek het jou baie lief! Sien jou een van die dae! Baie liefde, Vaalseun xxxx.”

Ek maak die fotoalbum toe en druk dit teen my bors vas. “En ek vir jou, Buks ... vir altyd, al was daar ’n vervaldatum waarvan nie een van ons bewus was nie.

En Valentynsdag sal nooit weer wees nie.

Klik hier vir meer besonderhede oor die kompetisie.      

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top