Verna Vels na meer as vyf dekades van Liewe Heksie oorlede

  • 2

Regisseur Frans Swart en Verna Vels

Liewe Heksie het haar debuut in 1961 gemaak in die Siembamba-programme van die SAUK uit die pen van Verna Vels. Vyftig jaar later is Heksie te sien op al wat ‘n Suid-Afrikaanse verhoog is, danksy Lefra Produksies. Steyn du Toit gesels met Verna Vels oor waar almal se gunsteling, Heksie, haar deesdae bevind.

As skrywer van Liewe Heksie, het jy ooit gedink dat ’n storie soos Liewe Heksie vandag nog kinders sal vermaak? Veral as mens kyk wat deesdae op die kinder-TV-kanale gewys word?

Dit is vir my verblydend dat die Liewe Heksie-stories sommige van vandag se kinders nog vermaak. Al wat ek kan dink, is dat kleiner kinders tot op ’n sekere ouderdom steeds van sprokies hou voor hulle oorgaan tot die vinnige-aksie-tipe stories wat meestal op televisie te sien is. Ek het ook agtergekom dat ouer kinders wat die stories nog lees, die humor anders sien as die kleintjies.

Wat is dit wat aan Liewe Heksie haar tydlose gewildheid besorg?

Indien Heksie wel tydlose gewildheid het, meen ek dit is omdat kinders met haar identifiseer. Sy begryp dinge soms verkeerd, sukkel waarskynlik met dieselfde goed waarmee sommige kinders sukkel, en kry goed meestal aan die stert beet, maar in haar onskuld is haar bedoelings altyd baie suiwer en goed.

As ’n skrywer moet dit seker ’n wonderlike gevoel wees om te weet jy laat iets immergewilds agter?

Dit is ’n lekker gevoel as mens dalk iets immergewilds agterlaat. Mens hoop net dit is waar!

Wat is jou opinie oor vandag se kinderliteratuur - hoe het dit verander?

Ek vrees ek het nie genoeg kennis van vandag se kinderliteratuur en kinderskrywers om my daaroor uit te laat nie.

As Blommeland ’n fisiese plek kon wees, waar dink jy sou dit wees en hoekom?

Ek dink dit sal in die mooie Oos-Vrystaat wees, want dit is waar ek grootgeword het.

As sy nie aktrise op die verhoog is nie, waarmee hou Liewe Heksie haar besig? 

Wanneer Heksie nie op die verhoog is nie, skep sy konsternasie in Blommeland. Sy "help" vir Blommie en die ander kabouters met hulle werk, gewoonlik van die wal af in die sloot in, bak vir Kwaaibabatjie van die harde koekies waarvan hy so hou, en werk in die algemeen op koning Rosekrans se senuwees.

Van al die Liewe Heksie-stories, watter een is jou persoonlike gunsteling en hoekom?

Dit is vir my moeilik om een storie as my gunsteling uit te sonder, maar daar is tonele uit stories wat nogal vir my snaaks is, soos byvoorbeeld die een waar Heksie agterstevoor op die donkie beland en dan huil omdat hulle vir haar ’n donkie sonder ’n kop gegee het.

  • Om uit te vind waar Liewe Heksie volgende op die verhoog te sien is, besoek www.lefra.co.za.

  • 2

Kommentaar

  • Janlo Swanepoel, 8 jarige outistiese seuntjie, is Liewe Heksie se grootste bewonderaar. Hy wil graag vir tannie Verna 'n briefie pos, waarheen kan ons dit stuur?

     

     

  • jurgens breedt

    Ek soek asseblief die ringtone, Ag nee liewe heksie wat die donner het jy nou weer aangevang.
    Asssssssseblieffffff !!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top