Vermis op Allesverloren beeld kleindorpse lewe uit

  • 0

 

Titel: Vermis op Allesverloren
Outeur: Anchien Troskie
Uitgewer: NB-Uitgewers
ISBN: 9780795706905

Koop Vermis op Allesverloren by Kalahari.com

Vermis op Allesverloren, die nuutste roman van Anchien Troskie, het pas by Kwela verskyn.

Die roman vertel die verhaal van Erta van Tonder wat net skielik verdwyn het. Haar susterskind, Melinda, vra die privaat speurder, Barrie Barnard, om in die soektog te help. Aanvanklik lees die roman soos ’n speurverhaal, maar geleidelik ontdek die leser dat die roman oor veel meer as net die soektog na Erta gaan.

Troskie maak gebruik van twee vertellers in die roman: Barrie en Erta. In beide se vertelgeleenthede kom die leser agter wie die karakters in die roman is, maar veral wie hierdie twee karakters is. Uit die twee se vertellings leer ken die leser ook die gemeenskap van Allesverloren: die ryk Van Tonders, die arm Vissers, die Du Toits, Gertjie Scheepers. Tog is hierdie klein dorpie met die ironiese naam Allesverloren verteenwoordigend van baie ander plekke en mense in Suid-Afrika, en lesers behoort daarmee te kan identifiseer: “Ons is nie ’n rassistiese gemeenskap nie. Ons glo wel dat ekonomiese groepe by mekaar hoort, dat die welgestelde groep die minderes moet lei en opvoed, maar nie noodwendig op ander gebiede met hulle moet assosieer nie ... Die leiers van hierdie dorp, en ek sluit myself uit die aard van die saak daarby in, het hard gewerk om hierdie gemeenskap op die regte geestelike en finansiële pad te lei. Ons slaan ons morele waardes hoog aan.”

Erta, die hoofkarakter, is nooit teenwoordig in die roman nie – behalwe as verteller. Sy is die arm dogter wat met die ryk Jan van Tonder trou en wegkom (ontsnap?) uit haar armoedige omstandighede deur in die stad te gaan bly. Erta se ma sê: “Jy het óp getrou, Erta. En dank die Vader daarvoor. Hoog op getrou.” Maar dit is ’n huwelik waarmee baie vroue kan identifiseer: “Wees die minste, Erta. Die minste. Hy is lief vir jou. Op sy manier” en “Ek kon hom nooit kleinkry nie, dié man van my wat my kon liefhê en soms kon haat.” Erta keer ná haar egskeiding terug na Allesverloren en word deur die dorp as ’n heks gesien: sy is die kruievrou wat in die veld loop en kruie soek en eienaardige danse doen; sy spreek sogenaamde vloeke uit oor mense; sy voorspel die toekoms. Maar tog blyk dit dat sy hierdie rolle speel wat die gemeenskap aan haar toedig: “En ek het saamgespeel, my laat insuig. Ek het tarotkaarte gekoop en voor mense uitgepak sonder om ’n idee te hê wat ek doen. Ek het kruie gemeng en as obskure doepas verkoop. Ek het teeblare gelees. Vir geld, ja. Maar ook omdat ek ... Wat? Myself wou bewys?” Sy steur haar nie aan die gemeenskap nie, en veral nie aan die kerk nie: sy het ’n besondere vriendskap met die bruin mense, soos Dawid Oliphant, wat haar van die kruie leer, en Thomas, die bruin kind wat sy soos haar eie kind grootmaak.

Uit Barrie se vertelling leer ken die leser ’n gefrustreerde oudpolisieman wat wonder oor sy huwelik en sy toekoms: “Aftrede is nie vir sissies nie.” Hy tree as buitestander op in Allesverloren en deur sy speurtog leer ken hy (en die leser) meer van die dorpie en die karakters. Uiteindelik bied die speurtog na Erta vir Barrie moontlikhede en kom sy soeke, sy “verlore-wees”, tot ruste: hy erken dat hy nie vir homself moes begin werk het nie, dat sy sienings oor die huwelik outyds is, dat hy nie sy vrou moes gekeer het toe sy wou gaan werk nie en om ’n kompromie met sy vrou aan te gaan.

Die roman handel oor die tema van veroordeling en van op verskeie maniere verlore wees: Erta as arm kind in die dorpie, as vrou in ’n liefdelose huwelik, as uitgeworpene toe sy terugkeer. Barrie as afgetredene en sy rol en plek as man in die huwelik verbeeld sy soeke na sy plek en waar hy “vermis” geraak het. Selfs Melinda, wat nie weet wie haar pa is nie, skakel met verlore wees. Die tema van veroordeling is veral nou gekoppel met Erta en Allesverloren. Aan die einde van die roman kom sy tot die gevolgtrekking: “Wys jou net: niemand het die reg om te oordeel nie.”

Vermis op Allesverloren vertel dalk die lewe van ’n vrou oor enkele jare in ’n klein dorpie, maar doen meer as net dit, soos wat die titel suggereer: die “verlore” en “vermis” wees van “alles” van baie karakters – nie net Erta nie. Dit sal vir baie lesers bekend voorkom: die grootword in ’n gesin wat deur ander uitgewerp en op neer gesien word, die godsdienstige en politieke ondertone waarmee baie grootgeword het, die wegsteek van skandes, die verontskuldiging en regverdiging van optredes.

LitNet-lesers kan Vermis op Allesverloren gerus lees. Die soektog na Erta is boeiend en die kennismaking met die karakters is interessant. Tog slaag die roman nie daarin om heeltemal te oortuig nie, waarskynlik omdat die karakterisering te oppervlakkig bly en die kritiek teen kleindorpse gemeenskappe te eendimensioneel is.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top