Vat vyf, Cinque Terre

  • 0

Google, jou lekker ding! So teen die einde van 2013 sit ek voor my rekenaar en tik in: “Unesco World Heritage sites.” En daar skop hy hom uit – die Cinque Terre. Ek spring weg en beplan (saam met my vriend Google) die toer van ’n leeftyd vir Julie 2014. My reisgenoot is my ma, Susanna Johanna van Dyk, gebore Boonzaaier.

Nou dink ek terug en sien dit so voor my: die vyf dorpies van die Cinque Terre in Italië – Riomaggiore, Manarola, Corniglia, Vernazza en Monterosso. “Cinque” beteken vyf en “Terre” beteken lande – die plek van die vyf lande wat na die vyf dorpies verwys. Ná ’n treinrit van so vier en ’n halfuur uit Rome (met ’n oorklim in La Spezia) klim ons by Riomaggiore af – die mees suidelike dorpie van die vyf aan die weskus van Italië. Vir een persoon skud die rit uit Rome jou sak met 42 euro. Ek sal bloei vir die Cinque. As dit moet.

Met die uitklimslag, slegs meters van die trein af, tref ’n uitsig van blou deinende waters my. Ek en my ma leun oor die betonreling om dit alles in te neem. Skuimende branders breek onder teen die treinstasie se fondasie, ’n vertikale krans. As jy terugkyk, weg van die water af, sit veelkleurige steenhuisies soos dassies teen ’n krans. Ons sleep ons tasse met die trappe af en word buite die stasie begroet deur ’n kolossale kunswerk (geskilder deur ene Silvio Benedetto) – mense wat druiwemandjies op hulle skouers dra, ander wat pik slaan, en die steil hellings van die area bewerk. Van daar loop ons deur ’n tonnel tot in Riomaggiore se hoofstraat, Via Colombo. Rooi, geel, blou en pienk huisies versier die bergkrans. Potte vol rooi malvas versier iedere balkon. Wasgoedlyne span hoog oor die straat, en dan, hier skuins voor jou, daai spul Italiaanse tannies wat jou hoeka dophou van hulle namiddagplek op ’n straattrap. “Buongiorno”, “ciao” en “arrivederci” klap teen my ore vas. Die mense praat hard.

’n Minibus-taxi (die enigste toelaatbare voertuig in die hoofstraat) vat ons teen die berg op na ons blyplek – L’Arcobaleno. Dis waar ons vir Francesca, die eienares, en haar roomkleurige labrador, Lili, wat op sy eie rooi stoel lê, ontmoet. Ons kamer is “magnifico” met ’n koffiemasjien en patio, die lot, selfs ’n bergstroom wat daar verbykabbel. Daai namiddag sit Susanna en ek bene op die patiotafel en teug salig aan ons eie cappuccino terwyl Riomaggiore se kerkklok oor die vallei weergalm. Die son gooi lang skaduwees oor die wingerdterrasse waarteen ons vaskyk. Nie verniet dat die Cinque Terre vir sy witwyn, Sciacchetrà, bekend is nie. En sappige suurlemoene, vir ’n glasie limoncello, of suurlemoenlikeur.

Op 4 Julie pak Susanna en ek die res van die Cinque Terre aan. Dit is net vyf minute met die trein na ons eerste stopplek – Manarola. Vir voetslaners wat die natuur wil indrink, neem dit negentig minute. Dis hier waar my ma die Calandra-kunsgalery raakloop. Haar oë verslind die kunswerke van plaaslike kunstenaars, maar ek stel meer belang in die plek se heerlike focaccia en tuisgemaakte joghurt. By La Bottega dell’Artigiano sien ons die mooiste pottebakkery: borde, koffiebekers, lepels – alles met prentjies van suurlemoene of die Cinque Terre-huisies geverf.

By ons volgende stopplek, Corniglia, leer ons, soos die spreekwoord sê, byna ons heiland ken. Omtrent 400 trappe lê tussen die stasie en die dorp. Soos ons klim, is “Soete Moses!” al wat Susanna sê. Gebukkend en hygend, kom ons einde ten laaste bo. Voor ons aanbeweeg, skep ons asem en betrag die dorpie se wingerdterrasse. Dis die enigste dorpie sonder ’n hawe. Daar is drie maniere om van die een dorpie tot by die volgende te kom: met die trein, deur te stap of met die veerboot. Maar die veerboot slaan Corniglia oor. Voor ons vertrek, koop my ma ’n blou T-hemp met vyf vissies op vir my broer, Pieter. Elke vissie stel ’n dorpie, volgens grootte, voor.

Ons volgende stopplek is Vernazza, waar ’n klein piazza met ’n paar restaurante ons verwelkom. Olyfbome omring die dorp en in sommige winkeltjies sien jy van Cinque Terre se olyfolie te koop.

Ons laaste stopplek is Monterosso en teen dié tyd is ons gô uit. ’n Geluk is dat die dorpie nie, soos die ander, teen ’n steil helling gebou is nie. Ons drentel stadig straataf en die eerste wat ons oog vang, is die rye blou-en-geel sambrele op die strand. Op die verste punt van die strand sit ’n reuse klipbeeld van Neptunus, die seegod, wat ’n vrag op sy skouers dra. Monterosso is die grootste van die dorpies en is anders as die ander, met motors wat in die strate rondry (en Susanna wat langs ’n ou, geel Fiat-model pronk). Hotelle sit ingeryg en daar is ’n strand waar mens kan swem. Die ander dorpies het elk net ’n hawe waar vissermanne in veelkleurige skuite ansjovis vang.

Laatmiddag moet ons omdraai. Ek moet weer treinkaartjies koop en ek is nie lus nie, maar ek hoor my man, Burger, se wetsgehoorsame stem in my oor: “Nee, Aletta. Netnou klim daai polisieman op die trein. Wat dan?” Ek koop die kaartjies. Twee euro. En sowaar, daar klim die polisieman by ons volgende stopplek, Vernazza, op. Hy inspekteer ons kaartjies en ek spring ’n boete van 50 euro vry.

Twee volle dae lank hang Susanne en ek in die Cinque Terre uit. Ons eet viskelkies, drentel op en af met die Via Colombo, koop skoene, handsakke en natuurlik, sakke vol kersies wat van die eiland Sicilië kom. My mond hang oop vir die mandjies vol kersies langs die straat. Dit is iets wat ons nie op Upington se Checkers-rakke sien nie.

Ons laaste aand breek aan en Susanna en ek suiker straataf met al fresco op die brein. Ons groet Riomaggiore met ’n glasie witwyn en vyf happe tamatie-en-basieliekruid bruschetta. Ek draai my kop skuins. Hoor die kerkklok se ritmiese slae. Lig my glasie vir my ma en sê: “Op die Cinque Terre!”

Aletta van Staden

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top