Van bokram na skaaplam

  • 1

 

Foto: www.gopixpic.com (erkenning: osv-hannover.com)

Kyk, Armand de Heer in my Engelse klas is allesbehalwe ’n heer.

Hy dink hy’s cool. Hy’s beslis cool – soveel so, hy laat my koud. Ek sal darem erken dat hy vir meisies in graad 7 of 6 cool kan lyk. Maar vir my en my vriendin Malika is hy net ’n pyn. Geen ordentlike graad 10-meisie sal na hom kyk nie ... of as hulle moet kyk, sal hulle nie gelukkig lyk nie.

Ek het al ’n paar keer onder sy stormramtaktiek deurgeloop ... “So, Chantelle. Gaan jy nou die installasie van Trellidor as beroep beoefen?” Dit was nogal erg net nadat ek draadjies gekry het. Sy ander aanslag was nog aakliger: “Het jy en Dewald al afgehaak?” Dan blêr hy soos hy lag vir sy eie grap. Wat hy natuurlik bedoel het, was of ek en Dewald met sy splinternuwe silwer draadjies al aan mekaar vasgehaak het as ons te naby mekaar kom. Dit was nadat Malika en Ewald so hewig gesoen het by Nica se sestiende dat hulle draadjies vasgehaak het aan mekaar ... en Nica se pa moes uiteindelik met ’n knyptang die twee van mekaar bevry! Praat nou van ’n woord met baie betekenisse! Hulle vashakery was natuurlik die grap van die week, maand ... jaar! Ek wens die klomp seuns kry nou iets anders om oor te praat. Na hierdie petalje sal tandartse en ortodontiste baie fyn oplet na moontlike haakplekke in tandjuwele. My pa sê reeds gedurig ek moet met my kop in die kluis slaap ek is so baie werd!

In elk geval: Armand; nie sjarmant nie. Aantreklik op ’n Justin Bieber-manier as jy van bloedjonk windlawaaiers hou. Dis dié dat ek so verskriklik jammer gevoel het vir die nuwe, stokou Engelse juffrou – ma’am Higgs. Sy’t kom uithelp toe ons juffrou met kraamverlof weg is. En daar sit ons toe met die juffrou wat direk uit Noag se ark by ons klas in gehinkepink het. Armand het haar dadelik geteiken – sy was oud, sy was maer. Sy het ’n van gehad wat gewag het vir spotters en rammetjie-uitnek ouens soos hy – en kon hy daardie “ma’am” uitrek dat dit soos “meêêê” klink.

Met ’n onskuldige gesig het hy sy hand opgesteek toe ons die eerste bladsy van Lord of the Flies deurworstel: “Do you like pigs, Miss Higgs?” Die arme tannie het nie besef sy word met ’n slap riem ingekatrol nie en het heel ernstig vertel dat sy wel van varkvleis hou, maar dat dit nie meer so baie met haar akkordeer nie. Toe het sy weer na Piggy in die boek verwys wat vet en lelik was, maar dat hy slimmer as die ander was ... en ... en ... teen daardie tyd het Armand sy selfoon uitgesmokkel en onder sy voorgeskrewe boek laat lê – gereed om te sms, tweet of Whatsupp – net wat hy wou doen. Sy selfoon was ook nie van hier nie – dit was die heel nuutste van Samsung – ’n Porsche in selfoongewaad.

Arme juffrou Higgs. Selfone en al hulle innerlike werkinge sou sy seker ook nooit snap nie. Vir haar was die selfone gelykstaande aan die vampiere en vreemde vlieënde gevaartes waarvan ons so baie gehou het – lang slagtande, bloederige gesigte en bloedstollende gille. Sy’t self die uitdrukking “One man’s meat, another man’s poison” probeer verduidelik, maar ons was alwetend – ons graad 10-klas.

Sy het regtig probeer. So het sy ook die geskeurde vuilbruin matte in die klaskamer met prente probeer bedek om ons “leerervaring plesieriger te maak”. Al wat ons wou leer, was net genoeg om tot by matriek te kom. Maar sy het kleurvolle prente van voëls en blomme en klein katjies aangebring nadat sy die geskeurde mat-plakgoed met spykers en ’n hamer bygedam het.

Sy het ook skuurpapier skool toe gebring om die ergste goeters op die banke weg te skuur – goed soos “Be a teacher’s pest” en “Phone me if you want to have f...u...n! Gotcha!!”

Sy het soos ’n kwikstertjie heen en weer in die klas beweeg en alles haarfyn verduidelik. Sy het klaarblyklik onderwyseres geword toe “talk and chalk” die enigste metode was en selfs ’n witbord en ’n truprojektor was vir haar nuwerwetse tegnologie. Maar, met haar seningrige dun bene en skaflike oor-die-knie-rokke was sy nogal oplettend. Na net ’n week het sy die selfone begin konfiskeer en die vereiste vormpies ingevul:

Selfoon gekonfiskeer by:___________________________ (leerder se naam)
Datum: _________________
Onderwyser:__________
Teruggegee op: ________________________________
Handtekening: Ouer/ Voog ____________________________________

Dan het sy die fone by die kantoor gaan ingee, maar drie dae later moes hulle aan die eienaars terugbesorg word met ’n ernstige vermaning asook ’n uur detensie op Vrydag – wat natuurlik nooit deur manne soos Armand gedoen is nie, want hy was die voorbok, die belhamel van die onder 16A-rugbyspan en as sodanig kroonwild.

Ons het haar bejammer – dit was een oorlog dié wat die grys-en-swartgeklede kwiksterttannietjie nóóit sou wen nie.

Tot op ’n dag.

Miss Higgs lees met gevoel uit Lord of the Flies. Armand steek sy hand op. Hy wil weet of daar wel so baie “pigs” op ’n eiland kan wees. Hy’t nog nooit van varke op ’n eiland gehoor nie. (En as Armand nie daarvan gehoor het nie, is die kanse goed dit het nie gebeur nie.) Sy probeer Armand miskyk, want sy weet teen hierdie tyd hy lok haar uit; hy probeer haar kwaad maak. Soos haar gewoonte is, loop sy op en af in die rye en lees en verduidelik of vertaal. Ons klomp Afrikaanse kinders beskik beslis nie oor die woordeskat wat hierdie skrywer in sy boek gebruik het nie – die meeste van ons leer Engels uit selfverdediging.

Toe sy by Armand se bank kom, pluk sy sy selfoon onder die Lord of the Flies uit. Nog voordat hy sy gewone protestasie kan lug, stap sy tot by haar tafel en pluk die hamer uit. Sy staan met haar rug na ons, maar ons kan sien wat sy doen. Sy slaan die selfoon! Nie net een keer nie! Minstens ses keer. Hard! Mens sien net silwer stukke plastiek en selfoonbinnegoed in alle rigtings spat. Ons is stomgeslaan.

Toe sit sy die hamer neer en draai na ons toe om. Sonder ’n woord gaan sy voort. Ander selfone verdwyn vinnig in baadjiesakke. Almal is so geskok, selfs hulle kakebene vergeet om die verbode kougom te herkou.

Armand spring op.

“Juffrou!!” Hy probeer nie eers Engels praat nie. In ’n oorlog staan jy nie nog en vertaal nie.

“Juffrou, Juffrou kan dit mos nie doen nie!”

“I just have, Armand.” Sy lees verder.

Armand moet nou die geveg wen. Hy’s dan die klas se voorbok. Ten minste al die seuns wens hulle kan soos hy wees.

“Juffrou ... my pa het nog nie eers vir die foon betaal nie!”

Sy stap tot by hom. Sy leun vorentoe. Armand leun terug. Hy’t al gehoor oumense kry demensie of raak van hulle trollie af.

“Dis jou pa se probleem, Armand. As hy vir jou so ’n duur speelding skool toe wil gee, moet hy weet iets kan daarmee gebeur.”

“Juffrou, dis ... dis ... kwaadwillige saakbeska...skadiging.” Mens kan hoor sy pa is ’n prokureur – hy kan die taal gooi. “Juffrou mag nie ...”

Voor hy kan verder, val sy hom in die rede.

“Armand, maar jy weet ook jy mag nie jou foon in my klas uithaal nie; tog doen jy dit!”

“Dis anders, Juffrou!” Die ander seuns begin ook nou saam in die spraakkoor praat. Hulle roep van verskillende oorde uit. Sy’s onregverdig. Sy is verkeerd.. Sy’s oud en sy weet nie wat die waarde van die foon is nie. Sy weet nie eers hoe om dit te gebruik nie!!

Net toe lui die klok. Die klas is in rep en roer. Armand stap tot by die deur, draai dan om en sê woedend: “My pa-hulle gaan nie die saak hier los nie, juffrou Higgs.” Hy spoeg haar van na haar kant toe uit.

Tydens pouse hang ons aan Armand se lippe. Selfs ek, Malika en Nica staan nader om Armand se tirade aan te hoor. Daar trek ’n rimpeling deur die graad 10’s, dit word ’n golf ... ’n tsoenami van woede vir die ou feeks wat Armand de Heer se duur Samsung in stukke gekap het. Later weet die hele skool. En, kan jy glo, sy het ook nog vir hom vertel om die gemors op te tel! Ons hoor die woord “petisie” om van haar ontslae te raak – ons hoor “ouetehuis” ... Die manne is woedend.

Armand teken net daarna uit en sy ma kom haal hom. Juffrou Higgs gaan onverstoord voort met grammar en concord en syntax, maar die woorde hang in die lug.

Niemand luister nie, maar almal bedink ander woorde: Alzheimers, demensie, tronkstraf. Hoe kón sy so iets doen?

Die volgende dag is Armand-hulle se wit Merc reeds om 7.45 by die skool. Mnr De Heer parkeer sommer in die onderhoof se parkeerplek en hulle drie stap in – Armand voor en sy pa en ma stigtelik en belangrik agterna. Hier kom groot marakkas. Of soos ons land se leuse sê: “Hie’klom kloot klak.”

Armand ken die pad na die hoof se kantoor goed. Ek dink hy drink gereeld daar koffie saam met die afrigter van die onder 16A-span.

Twintig minute later gaan die interkom in die Engelse klas aan.

“Mejuffrou Higgs, kan u asseblief dadelik na die hoof se kantoor kom?” Die blikstem klink vir ons soos die stem van die engel wat jou gaan beoordeel op oordeelsdag.

Sy vat haar handsakkie, maan ons tot stilte en tik-tik-tik op haar lae hakkies in die gang af.

“Sy gaan nou gefaaier word! Armand se pa ken die wet. Wat sy gedoen het, is vreeslik!”

’n Kwartier later stap sy weer die klas in. Sy lyk heeltemal normaal. Sy praat niks nie en ons sit in stille afwagting vir die klok om te lui.

Armand kom nie klas toe nie.

Pouse drom almal weer om hom saam. Per toeval staan ek naby hom en bekyk hom goed. Sy blonde hare krul om sy ore. Sy nek lyk bloedrooi. Sy wit stekelwimpers kort bietjie maskara.

“Wat het gebeur?” Die koor sal by ons kan leer van samesang.

“Nee, my pa het vir haar gevra of sy wel gister in die klas ’n foon met ’n hamer stukkend geslaan het. Hy’t nes Gerrie Nel in aksie geklink.”

“En toe?”

“Toe sê sy ja.”

“En toe?”

“En net voor hy haar verder kon ondervra, toe maak sy haar handsak oop en sy haal my foon uit. En sy sit dit op die hoof se tafel neer. En sy haal nege briefies uit ... waarop ek my pa se handtekening nagemaak het ...”

Die kringe kinders staan versteen.

“En sy sê vir my pa en ma dat ek tipies is van kinders wat slegs deur visuele stimulasie kan leer! Dis hoekom ek alewig my selfoon in die klas uithaal!”

Mens kan sommer hoor Armand het nie tyd gehad om sy eie spin aan die storie te sit nie. Hy is uitgeboul.

“En wat het toe gebeur?”

“Toe vat my pa my foon. En ek gaan dit nie weer terugkry nie.”

Ek het nogal lekkergekry toe ek Armand se gesig sien.

Dis die naaste wat ek nog ooit die woord “skaapagtig” in lewende lywe gesien het.

En toe ons weer in die Engels-klas kom, sê miss Higgs ewe liefies: “Remember to put away your cell phones. I can’t keep on hammering old ones of mine.”

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top