Van Beaufort-Wes na Bloubergstrand

  • 1

Dis toe Lerí die wêreldkaart teen die bord in haar klaskamer met wondergom vassit dat sy iets besef, iets wat die hele tyd in haar agterkop rondmaal, maar nou soos ’n onderwaterswemmer na haar bewussyn deurbars: sy weet net so min van die plekke waarvan sy nou in hierdie gediggie vir haar Graad 6-klas gaan vertel as hulle.

Onberese, onbelese, dink sy met wrewel aan haar destydse Afrikaans-onderwyser se woorde.

Waar’s die matriekdrome wat sy destyds in Bloemfontein van wonderlike reise gedroom het? Gauguin se Tahiti? Monet se tuin in Arles? Die yshotel in Kiruna, Swede? Sy dink aan die Post-It plakkers op haar yskasdeur: ’n Kosreis deur Vietnam, ’n fietstoer deur die Franse platteland, die Compostela-staptog en die Groot Muur van Sjina. Die plakkers verteenwoordig haar drome na plekke ver, blou, goud en, moet sy erken, onbereikbaar.

Dis so duur! Sy onthou haar Nuwejaarsvoornemens: spaar, verslank, reis, trou!

’n Volle jaar pryk die plakkers al teen die yskas. Nee, sy wil nie net plekke sien nie – sy wil hulle beleef.

Elke plek wat sy wil sien is aangebring met die vlug- en verblyfkoste. Soos die maande verbygaan, besef sy dat sy hulle net op Travel Channel sal kan besoek – selfs dit is peperduur.
Die kinders stroom in. “Mirrag, Juffrou!” En hulle sit – sweetwarm en duidelik nie lus vir ’n gedig in die asbesklaskamer nie.

Lerí wys na al die plekke waarvan hulle lees:

Eskimo’s eet ysbeervleis en walvisspek,
maar dit maak verslankers gek!

(Wie kan raai waar bly die Eskimo’s?)

In Nieu Guinee eet hulle slang en akkedis,
Japannese eet ’n rouvis soesji-dis

(Het iemand al soesji geproe?)

In Frankryk is iets heerlik paddaboud
In Skotland eet hul haggis warm of koud

(Wat eet ons in Suid-Afrika wat baie soos haggis is?)

In Soematra eet almal hond en varings.
Nederlanders hou van drop en harings.

(Dink julle harings is vis of vleis?)

Sjinese eet hul dik aan palings wat jou skok,
Afrikaners bak soms pofadder aan ’n stok.

(Wie kan onthou wat die Skotte eet?)

Smileys, walkie-talkies en gevlegte derm
party sal plesier vind, ander kerm!

(Dink julle nie dis slim name vir skaapkop en hoenderpote en - koppe nie?)

Seeskilpad, pikkewyneiers of ’n tjippie:
vir die een ou lekker, vir die ander jiggie!

“Watter van hierdie goed sal julle graag wil eet?”

Die kinders gil en ril.

“Nee, Juffrou, ons sal niks kan eet as ons by darie plekke is nie!”

Sy wys vir hulle prente en hulle praat dae lank oor die wonderwêreld daar buite, oor die grilkos, oor maniere om daar te kom, oor ver-ver plekke wat net plat name op papier is. Die kinders is half bly dat Juffrou nog nooit daar was nie. Sal sy ooit terugkom as sy wegry?

Tuis pluk sy die jaaroue plakkers af. Hulle is soos haar droom om 10kg af te skud. En ’n man te kry. Onuitvoerbaar.

Daar is tog plekke in Suid-Afrika wat sy nog nie gesien het nie. Om op Beaufort -Wes te bly is goed en wel – hulle het darem die Chris Barnard-museum - maar daar is tog spesiale plekke in Suid-Afrika. Sy maak ’n nuwe lysie.

1.Namakwaland-blomme
2. Oribi-skeur - Natal
3. Boomslang - Kirstenbosch
4.Afrika-pikkewyne - Boulders.
5. Voortrekkermonument - Pretoria.
6. Tuinroete
7. Vallei van 1000 heuwels
8. Die Tankwa karoo. Nee, sy sien genoeg Karoo. Sy skrap dit.
8. Krugerwildtuin
9. Bloubergstrand
10.Tafelberg

Toe vou sy die papiertjies in klein vierkantjies en neem hulle klas toe. Die kinders moet ’n plek kies en haar help om haar droom lewend te hou, want ’n gedeelde droom is ’n lekker droom.

Iemand moet die plek uit die pennesakkie trek; almal raas: Afrika-pikkewyne – Boulders

Die kinders rumoer en sy moet hulle kalmeer. Hulle gaan haar nie toelaat om net te droom nie – sy moet dóén. Elkeen skryf hulle adres op ’n koevert. Sy gaan dit uit die Kaap vir hulle terugstuur met ‘n foto sodat hulle voel hulle toer saam.

By die Interkaap-terminus draai sy om na hulle: “Volgende jaar vat ek julle Burger-strandhuis toe as dit lekker is in die Kaap!” Sy staan hand op die hart. En toe glip die bus weg – soos ’n yslike ruspe oor die vaal Karoo. By die Kaapse stasie klim sy ure later af. Iemand wag haar in met haar naam op ’n plakkaat. Agter in die bussie verwonder sy haar aan die verkeer, die berg, die seemeeue, die palmbome en die vasgewaaide plastieksakke. En dan weer: Daai BERG! Sy sien diamante, saffiere, smaragde.

Die gastehuis is skoon en sy dink dis hoe Mykonos moet voel - onmoontlik blou en wit met helder perspienk bougainvillas wat oor ’n muur tuimel. Oe! Dis mooi verby! Sy onthou haar stem: “Kinders, moenie net mooi en lekker gebruik nie! Gebruik be-skry-wen-de woorde!”

By Boulders klouter sy oor rotse in haar nuwe swart en wit baaibroek en vind ’n beskutte plekkie. Sy lag vir haar lawwigheid. ’n Brosjure Gunstelingplekke van die Kaap lê byderhand. Ongelooflik! Sy’s hier. Lag sommer in die bloute in. Sy ruik pikkewynmis, seelug, en sien die blouselbloute wat strek tot doer by Hangklip. Droom sy? Die aanhoudende gedruis en rollende golfies tot naby haar is te werklik vir ’n droom.

’n Skaduwee val oor haar. Sy kyk angstig op.

“Juffrou ... Mevrou ... lê ‘seblief doodstil. Daar’s drie pikkewyne wat jou beloer en ek wil julle graag afneem.”

Sy hou die man dop. Sy sien ’n reistydskrif se naam op sy drasak. Hy kliek aanhoudend in ’n halfsirkel om haar. Honderde foto’s.

“Dankie!” En dan: “Is jy ’n model?”

“Nee, ’n Graad 6-juffrou.”

“Sal jy more saamry? Ek moet foto’s op Blouberg en Kirstenbosch gaan neem ... en jy is ’n perfekte ... pikkewyn!”

Hy glimlag. Swart kuif. Wit tande. Seemeeue krys.

Lerí weet sommer dat sy Gert-Vlok se Beautiful in Beaufort-Wes verruil het; verruil het vir Laurika se Blouberg se strand.

Elkeen van haar kinders kry ’n week later ’n foto met ’n boodskappie in haar netjiese handskrif:

Sonsondergang op Blouberg. Drome kan waar word! ’n Pikkewyn het Juffrou gevang. Met baie liefde.


  Foto:Jean-Hugo Ord
 

Lees hier meer oor die reisskryfkompetisie: 1 001 reiswoorde

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top