Vakature beskikbaar by NALN: Museumgeesteswetenskaplike

  • 0

’n Pos vir ’n Eerste Museumgeesteswetenskaplike by NALN (Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum) in Bloemfontein is in Rapport van 28 Julie 2013 (Loopbane, bl 7) geadverteer. Die sluitingsdatum is Vrydag 9 Augustus 2013.

Verdere inligting kan volgens die advertensie by mnr O Liebenberg (051 405 4013) verkry word. (Mnr Liebenberg is die kurator van NALN. Volgens inligting elders is sy e-pos-adres ojlnaln@sacr.fs.gov.za en kan hy ook per selfoon gekontak word by 084 621 7350.)

Daar word verneem dat dit die eerste keer in sowat 15 jaar is dat ’n vakkundige pos by NALN geadverteer word. Hierdie vakature bied dus ’n seldsame geleentheid om by dié bekende instelling betrokke te raak. Dit dui ook op nuwe positiewe verwikkelinge by die museum, wat in ’n stadium deur diep waters gegaan het.

Die restourasie van die museumgebou, wat in 2002 begin is, het nie drie jaar nie, maar byna agt jaar lank geduur en het ekstreme ontwrigting veroorsaak, omdat alle uitstallings wat oor 20 jaar en langer ontwikkel is, verwyder en afgebreek moes word, en alle inhoude verpak en gestoor moes word. Verder moes elke enkele kluis, bergruimte en kantoor een of meer kere ontruim en verskuif word.

Juis in dié tyd was die instelling die slagoffer van ’n venynige departementele “herstrukturering”. Na jare van geleidelike personeelinkrimping weens poste wat na aftredes en bedankings om departementele finansiële redes nie weer gevul is nie, was dit byna verwoestend toe 50% van die oorblywende vakkundige, tegniese en senior administratiewe personeel in 2007 oornag weg van NALN herontplooi is. In die NALN-nommer van die literêre tydskrif Ensovoort (Jg 13 Nr 1, 2009) is berig dat dit ’n summiere verlies van ±180 jaar se kumulatiewe ervaring beteken het.

Gevolglik, toe die gebou weer betrek moes word, het die kapasiteit gewoon nie meer bestaan om alles op eie houtjie te doen nie. In 2010 is die Erfenisstigting van Pretoria as gewaardeerde diensverskaffer vir ’n 12-maande-periode gekontrakteer om teen ruim vergoeding te help om onder meer die versameling weer skoon en georden te kry, die IT-infrastruktuur op te gradeer, ens.

Sedert Mei 2011 funksioneer NALN weer selfstandig, en het sy beheerdepartement, die Vrystaatse Provinsiale Departement Sport, Kuns, Kultuur en Ontspanning, hom opnuut in woord en daad tot die welsyn en uitbou van NALN verbind, ondanks groot aansprake uit talle oorde op die departement se beperkte hulpbronne. (Volgens ’n koerantberig in die Bloemfonteinse gemeenskapskoerant Ons Stad van 6 Junie 2013, bl 8, word bereken dat dié departement sedert 1994 al meer as R100 miljoen in NALN belê het in die vorm van die jaarlikse begroting en die opknapping van die museumgebou.)

Onder die bestuur van die huidige departementshoof, advokaat Tsoarelo Malakoane, direkteur Vincent Khetha, adjunkdirekteur Kgotso Tlhapi en assistentdirekteur Otto Liebenberg het NALN ’n nuwe era betree. In Junie vanjaar is NALN benoem vir Ons Stad, die Mimosa-Filmgroep en Absa se Bloemfonteinse Instansie van die Jaar-wedstryd.

Dit blyk dat die vakante pos wat nou geadverteer word, deel van hierdie nuwe strategie vorm. 

In die besonder word blykbaar beoog om NALN se opvoedkundige diens aan die skolegemeenskap en ander opvoedkundige teikengroepe te herontwikkel en te verbeter. Die museum moet ook opnuut as toeristebestemming onder verskillende markte bevorder word. Die kandidaat sal verder by die uitstalfunksie en ander literêre museumprojekte betrokke wees, asook by die kuratoriese versorging van sekere museumversamelings.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top