US Woordfees 2014: Wie’s bang vir Virginia Woolf?

  • 0

Teks: Edward Albee
Vertaling: Saartjie Botha
Regie: Christiaan Olwagen
Spelers: Sandra Prinsloo, Marius Weyers, Wessel Pretorius en Greta Pieterse

“Who’s afraid of Virginia Woolf, Virginia Woolf, Virginia Woolf?” Hierdie vraag beantwoord die meeste eerlike akteurs en regisseurs positief. Dié ikoniese teks deur Edward Albee het egter nie die jong en opkomende Christiaan Olwagen en sy uitsonderlike geselskap laat terugstaan nie.

Die toneel open met George en Martha, die middeljarige paartjie wat pas van ’n huispartytjie terugkeer. Uit die staanspoor maak die gehoor kennis met hulle meedoënlose verhouding. Later sluit ’n jong egpaar, Nick en Honey, by hulle aan, en word hulle ook in die huishoudelike oorlog meegevoer en as’t ware gekontamineer. Dit skep twyfel rondom die waarde van die strewe na ware geluk en die vervolmaking van drome, hoofsaaklik deur die metafoor van die huwelik. Die twee egpare skep ’n interessante en dramatiese kontras tussen die idealisme van ’n jong huwelik en die ontnugtering en vervalle drome van ’n deurleefde huwelik. Die toneelstuk bestaan uit drie tonele, waarvan die laaste tereg “The Exorcism” (“Die geestes-/duiwelsbeswering”) getitel is. Ten einde kan ’n mens skaars glo dat dit vir die karakters enigsins moontlik is om voort te gaan, so ongenaakbaar is die ontrafeling van die aand.

Wie’s bang vir Virginia Wolf? beeld uit presies hoe brutaal en dodelik doodeerlikheid kan wees, wat gebeur as mense so na aan mekaar kom dat geen uitdaging té uitdagend is nie. Wat gebeur dan as die huwelik, hoe grusaam en wreed ook al, die enigste plek is waar iemand kan tuis voel? Wat gebeur as dit wat byna ongeloofbaar aaklig en besoedel is, teen alle beter wete die plek van verkwikking is, ’n veilige ruimte om die uiterste wreedheid in jouself toe te laat, omdat die een aan die ontvangkant dit verduur.

Marius Weyers en Sandra Prinsloo se skitterende en ongenaakbare spel skep uiters suksesvol hierdie wrede huishoudelike omstandighede. Dit is Weyers en Prinsloo op hulle “lelikste”. Met die grootste finesse neem hulle die gehoor mee met ‘n kragtoer wat die huwelik van George en Martha is. Wessel Pretorius en Greta Pieterse, wat die jong egpaar op besoek speel, dra ewe dinamies by tot die uiteindelike ontrafeling van ieder en elk in die toneel. Die vier akteurs, met uitnemende regie van Olwagen, bou saam ’n dinamiese en vinnig-bewegende produksie. Die besonderse verhouding tussen spelers dra ongetwyfeld by tot die sukses van die uitbeeld van hierdie uitdagende teks. Saam slaag hulle daarin om nie alleenlik die brutale verhouding en houdings van die karakters en situasie te skep nie, maar ook aan die fyn nuanse van die humor in gemeensame wreedheid lewe te gee.

In die geheel is die produksie ’n groot sukses, van die briljante vertaling deur Saartjie Botha en slim ontwerp deur Jaco Bouwer tot die uitnemende uitvoering daarvan. Dit is min dat klassieke werke so suksesvol ’n nuwe lewe kry!

Wie’s bang vir Virginia Wolf? se speeltyd by die Woordfees is reeds verby, maar dit is weer by vanjaar se ABSA KKNK te sien. Kaartjies is beskikbaar by Computicket.

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top