US Woordfees 2014: Sanlam | LitNet-tydskrifverhaalslypskool (Deel II)

  • 0

Tydens die US Woordfees 2014 is die suksesvolle Sanlam | LitNet-tydskrifverhaalslypskool aangebied.

So groot was die belangstelling in dié geleentheid dat heelwat voornemende deelnemers weggewys moes word.

Daar is nou goeie nuus vir almal wat nie die geleentheid kon meemaak nie. LitNet gaan vir die volgende paar weke 'n tydskrifverhaalslypskool-reeks plaas: aantekeninge van die aanbieders, asook verhale wat deur deelnemers voorgelê is.

Hier onder is 'n paar wenke vir die skryf van 'n suksesvolle tydskrifverhaal van Alta Cloete, 'n skrywer en iemand van wie heelwat verhale ook al in tydskrifte verskyn het.

Skryf daardie storie: ’n paar notas – Alta Cloete

Voor jy begin

Tydskrifverhale word op ’n spesifieke gehoor gemik.

’n Tydskrifverhaal is ’n baie spesifieke produkvir ’n baie spesifieke mark – aanbod en aanvraag.

My ondervinding is dat mens die beste skryf vir ’n tydskrif waarvan jy self hou.

Skep ’n beeld (profiel) van die leser waarop jou verhaal gemik is:

1.       Lees ’n hele klomp van die betrokke tydskrif se stories om ’n gevoel te kry vir die soort verhale wat geplaas word.
2.       As jy nie die tydskrif goed ken nie, lees ’n stapeltjie van hulle heeltemal deur. So kry jy ’n duideliker prentjie van jou leser, want jy sien waarin hy/sy belang stel.
3.       Vind uit wat die vereistes van die betrokke tydskrif is wat betref temas, lengte (baie belangrik) en formaat (lettertipe, lettergrootte, spasiëring, paragrawe).

Gedurende die skryfproses

Besluit alreeds voor jy begin watter tipe verhaal jy wil skryf en vir watter tydskrif dit geskik sal wees.

1.       Tydskrifverhale is daar vir die plesier van die leser en nie in die eerste plek vir intellektuele stimulasie of akademiese waarde nie. Dit moet dus toeganklik wees. Humor is baie belangrik.
2.       Tydskrifstories moet lesersvriendelik wees. Dit beteken in praktiese terme bloot dat dit maklik moet lees en verstaanbaar moet wees.

Hieruit volg dat die skrywer van tydskrifverhale letterlik sy storie moet ken om die leser se aandag te kry en te behou, want lesers is dikwels haastig en hulle aandag is dikwels verdeeld.

Kry en behou die leser se aandag

1.       Die titel moet impak hê en dit kan ook ’n idee gee van die gevoelswaarde van die storie.
2.       Die storie moet vlot verloop (intrige/plot). Daar is nie tyd vir lang beskrywings, lewenslesse, mooiskrywery of lang monoloë deur ’n karakter nie.
3.       Die beperking op woordgetal help die skrywer met hierdie dinge.
Sny heel eerste onnodige herhalings en byvoeglike naamwoorde uit.
Blaise Pascal het gesê: “I would have written a shorter letter, but I did not have the time.” Elke paragraaf, sin en woord moet funksioneel wees.
4.       Afwisseling tussen dialoog, aksie en gedagtes is noodsaaklik. Te lang paragrawe of sinne vertraag die tempo.
5.       “Telling” en “showing” (vertelling en beelding): Showing bring die leser binne-in die storie in; telling maak van hom ’n toeskouer.
Mark Twain het gesê: “Don't say the old lady screamed. Bring her on and let her scream.

LW: Die eerste weergawe word met die hart geskryf. Skryf wat in jou gedagtes opkom.

Onthou: Die tydskrifverhaal moet toeganklik en lesersvriendelik wees.
Dit beteken nie dis noodwendig spookasem met geen blywende waarde nie.
Ernstige temas kan ook op toeganklike en lesersvriendelike maniere aangebied word.

Afronding

Die tweede en verdere weergawes word met die verstand benader – redigeer genadeloos.

  1. Oorweeg om jou storie ’n rukkie te laat rus.
  2. Verkort/verleng tot min of meer die regte lengte.
  3. Rond elke paragraaf en elke sin noukeurig af.
  4. Maak dan seker die lengte is korrek.
  5. Oorweeg om dit vir ’n eerste leser te gee. Kies daardie leser versigtig.
  6. Maak baie seker dat die manuskrip in die regte formaat is en ’n goedversorgde indruk skep. Tikfoute en spelfoute is onaanvaarbaar.

Agterna

Begin solank met ’n nuwe verhaal of bring jou leeswerk op datum.
Moenie energie vermors deur bewustelik te wag en spanning op te bou nie.

Onthou: Tydskrifverhale is veronderstel om pret te wees. Die skrywer moet ook in daardie pret deel!

Lees ook Corlia Fourie se wenke.

Lees ook Elize Parker se wenke

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top