1902
18 Januarie 1902
Gideon Lancaster het met een en dieselfde daad albei kante in die Boereoorlog verraai, en hy voel self verraai.
Vandat hy ses weke tevore in die hospitaal in Bloemfontein bygekom het, wil hy oor niks anders dink as net oor wat met hom gebeur het nie. Noudat hy uiteindelik op die trein is, op pad huis toe, is daar niks anders wat sy aandag vereis nie. Hy kan versonke raak in gedagtes, in die hoop om uit te vind hoe en hoekom sy lewe hierdie verloop geneem het.
Het dit begin op die dag toe hy die Boervrou Esther die eerste keer gesien het, of toe Majoor Bryce hom gevra het om onder die Boere te spioeneer? Natuurlik kon hierdie dinge net gebeur omdat hy in die eerste plek in Afrika was, as soldaat. Die eintlike begin was dus toe Nieu-Seeland oorlog verklaar het teen die Boererepublieke en hy daarby ingeval het; toe hy geantwoord het op die roepstem van sy koningin, sy land en sy eie rustelose aard. Maar dit sou hy beswaarlik gedoen het as dit nie was vir daardie keer toe hy die peloton Rooibaadjies in Queen Street afgemarsjeer sien kom het nie, met hul bajonette gerig teen die hemele wat op hulle neerreën. Hy was sewentien en het voor die Auckland Savings Bank vir sy pa gewag. Die soldate het so blink en braaf gelyk, so anders as die bankklerk wat sy pa wou gehad het hy moet word. Jy sou kon sê alles het uit daardie oomblik voortgevloei. Maar waarom kan hy dan nie die beeld van sy broer uit sy gedagtes weer nie? Die twee van hulle aan"t swem in die see by Piha, tien en twaalf jaar oud. 'n Brander het gekom en hy het Edward nooit weer gesien nie. Hel, jy sou waarskynlik verder kon teruggaan as dit, selfs tot voor sy geboorte, toe sy pa op pad terug van sy Grand Tour af sy ma in Nederland raakloop ... Jy kan die ineengeskakelde gebeure terugvoer so ver as wat jy wil en enige beginpunt kies. Dit maak nie saak nie, die begin verander nie die einde nie, en dis die einde wat hy wil verander. Om nie hier te wees nie. Om nie só te voel nie.
Maar miskien is daar tog nog 'n kans.
Hy is op 'n troepetrein op pad Kaap toe, om 'n skip te haal terug Nieu-Seeland toe. Die trein het 'n pantserwa voor en agter, stekelrig van Nordenfelt- kanonlope, en beestrokke in die middel vir die soldate wie se dienstyd verby is. Die ander manne is luidrugtig, of gee so voor, omdat hulle die oorlog agterlaat. Die afskeid is stadig en party van hulle sal die littekens nog lank dra. Myl na myl, soos die trein suidwaarts trek, sien hulle tekens van oorlog. Elke plaashuis is afgebrand – swartgeskroeide mure en leë vensters omskep die geboue in reuseskedels. Groot stukke veld is heeltemal kaal, vlaktes van kole en as. Daar is geen grensdrade nie; al die pale is lankal vir brandhout gebruik. Die trein stoom verby ewematig gespasieerde blokhuise, gebou om die Empire se toevoerlyne teen sabotasie te beskerm. By party van die fortifikasies het soldate dit buitentoe gewaag om in die skaduwee te staan en rook. Hulle waai vir die trein wat verbykom. Eenkeer sien Gideon in die verte 'n ruiter in uniform wat sy perd hard ry.
Dit kon hy gewees het, ses maande gelede.
1901
1 Augustus 1901
As jy nie die land ken asof dit jou eie is nie, is dit moeilik om skuiling op hierdie vlaktes te vind. Klein grys bossies, yl geel gras en rooi grond vir myle aaneen, na die noorde toe 'n effense hoogte, Petrusburg. Op hierdie skynbaar gelyk vlakte kry die Boere dit reg om weg te smelt, om in laagtes te skuil waar vreemdes niks sien nie. Op hierdie oomblik is Gideon Lancaster meer bekommerd oor Boere wat verskyn as verdwyn. Hy is deel van 'n klein afdeling wat vier gevangenes terug basis toe moet vat. Hy hou nie van hierdie opdrag nie. Dis een ding om dié mans deur 'n verkyker of oor jou geweer se visier te sien. Van naby gesien is hulle te veel soos die mense wat hy ken. Boonop praat hulle sy ma se taal.
Sy eenheid het teen die middaguur op die Boere afgekom. Die vier van hulle het blykbaar so verdiep geraak in die slag en braai van 'n ystervark dat hulle nagelaat het om wag te staan. Hulle is sonder slag of skoot gevang. Vir Gideon lyk hulle na 'n veragtelike, agteraf spul. Hy het al vantevore Boerekrygsgevangenes teëgekom. Hulle was nie so sleg soos hierdie vier nie, maar hulle was deur die bank dikbek en bitter oor hul neerlaag. Nou en dan kry jy 'n meer opgevoede Boer wat Engels kan praat, maar nie een van hierdie vier kan meer as yes en no baasraak nie. Gideon laat nie blyk dat hy hul taal kan praat nie. Daar is geen sin in om met hierdie mense te gesels nie. Enige inligting wat hulle gee kan jou netsowel in 'n hinderlaag lok as om nuttig te wees. Pleks van praat, hou hy die horison dop, hier net so laag as wat dit op see was. Die vlakte strek byna alkant so ver as wat jy kan sien. Die grasse en bosse kom skaars halfpad na die perd se knieë toe. Die kaal landskap laat die lug interessant lyk, diepblou en gevlek met wolke wat amper prentjies maak as jy jou oë skreef en jou verbeelding inspan.
"Haai, moet ons hulle nie van die Kakie vertel nie?" vra die Boer naaste aan Gideon, in hulle weergawe van Nederlands. Sy hare en tande is geel.
Gideon wonder van wie hulle praat. Hy weet die Boere noem die Empire se soldate Kakies, na die kleur van hul uniforms. Van watter Kakie sou hulle praat?
"Te hel met hom," sê 'n ouer man. "Laat hom vrek, die vark. Een minder om ons lewe te vergal."
"Ek was so verbaas toe hulle ons omsingel dat ek skoon van hom vergeet het."
"Het jy hom vasgemaak soos ek gevra het?" Dis die verste man, blykbaar die leier onder hulle.
"Ja. Hy gaan nie loskom nie, selfs al kom hy by."
"Dink jy hy gaan hom doodbloei?"
'nee wat, ek sou raai die wond is nie so ernstig nie. Die bloeding behoort te stop ... Ek dink dis eerder dors wat hom sal doodmaak."
"Behalwe natuurlik as 'n slang of roofdier hom bykom."
Nou voel Gideon genoop om te vra: "Wie is hierdie Kakie en waar is hy?"
Hulle kyk om, verbaas om hul taal by 'n Nieu-Seelander te hoor. "Luister jy ons af?" Die leier.
"Daar gaan niks anders hier rond aan nie. Wie is hy?"
"Ek weet nie, ons het net vanoggend op hom afgekom. Hy was op sy eie. Dit het gelyk of hy verdwaal geraak het. Hy het sy geweer gelig en ons het hom geskiet, een skoot skrams teen die kop wat hom bewusteloos geslaan het. Sy perd het weggehardloop, ons kon hom nie vang nie."
Gideon verbeel hom hoe dit moet voel om op daardie rooi grond te lê en bloei, vasgebind in die skerp son. "Waar"s hy nou?"
"Jy kan nie verwag ons moet so iemand gevange neem nie, ons het self ons perde nodig."
"Waar"s hierdie plek waar julle hom gelos het? Hoe ver?"
"Ek weet nie ... ek kan jou gaan wys."
Gideon dink vir 'n oomblik daaroor, maar hy wil nie alleen in die veld wees saam met een van hierdie wildewragtigs nie. 'nee, sê maar net vir my."
'nou hoe kan ek dit vir jou verduidelik? Vir jou lyk dit mos als eenders hier rond."
"Probeer."
"Dit was naby 'n drif, omtrent –"
"Wat is 'n drif?" Gideon het die woord nog nie teëgekom nie.
"Ek het jou gesê dis 'n mors van tyd. Dis waar die pad deur 'n rivier gaan."
Die geelhaarvent las by: "Waar ons die ystervark platgetrek het."
Dis dan seker naby die plek waar hulle die Boere gevang het. Daar sal heel moontlik 'n bloedspoor wees van die ystervark se karkas af wat hy kan volg.
"Korporaal?" Gideon spoor sy perd aan tot langs die korporaal wat vooraan ry. Korporaal Stewart is 'n vriendelike kêrel, middel dertigs, vol sproete. "Dit lyk my hierdie bliksems het vanoggend een van ons manne geskiet. Hy lê nog daar iewers, lewend toe hulle hom laas gesien het."
"Ons kan nie almal omdraai nie, dan haal ons nie voor vanaand die basis nie en ek wil nie die spul in die donker in die veld oppas nie."
"Ek kan alleen gaan. Ek sal kyk of ek hom kry, dan bring ek hom terug."
Die korporaal tuur oor die veld. "Daar kan nog Boere in die omtrek wees. Hierdie vier is waarskynlik deel van 'n groter mag."
"Ons kan nie 'n man daar los om dood te gaan nie, een van ons eie mense."
Taal: Afrikaans Druknaam: Penguin Regte: Suidelike Afrika Publikasiedatum: Maart 2014 ISBN: 9780143538639
|