uit die bouval van 'n koue kuberkombuis

  • 0

alle kodes is gekraak,
die wagte voor die monde
is wreed vermoor.

die gesplete tonge
is uitgesny.

die oop kuberruimtes
is leeg gesteel.

al die woekerende woorde,
die intieme persoonlike dagboeke,
die lekegedigte en sosiopolitieke retoriek
is finaal afgekyk en uitgepluk,

soos onkruid en kaf wat outomaties
in die warrelwind verstrooi.

êrens op die skrootwerf van die wêreldwye web,
ingebed in silwerskoon laserskywe en in nanostokkies,
in die kunsmatige kwantums van geheue, is die geskrapte
blogplasings in spasies gerugsteun en vir ewig ingeëts,

die bont kouse en vuil onderbroeke
het intussen ook in die stowwerige winde
van verandering afgewaai.

die elektriese wasgoedlyn in die agterplaas
van die kletshuis het langsaam uitgerafel

en uiteindelik met 'n oerknal
mors-af gebreek.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top