Tweede RSG Kunstefees: Oorgenoeg verrassing

  • 0

Kobus Burger, uitvoerende vervaardiger: drama by RSG, vertel vir Naomi Meyer van die tweede RSG-kunstefees, wat op 10 November 2014 afskop.

Kobus, RSG se tweede kunstefees is byna weer op die lug. Waarna kan mense op die kunstefeesprogram uitsien?

Van ’n eksperiment met Stilte tot Koning Lear in sprankelende Afrikaans. Daar is heelwat komedie en ’n nuwe kinderreeks. Nuwe stories en nuwe stemme. Altesame 80 vingers op vier konsertklaviere. Ons ontdek die “Afrika” in “Afrikaans”. Dek ’n feestafel. Teken ’n stillewe op die lug – en tuis! Borduur vrolik, kreatief en nuut op klassieke Afrikaanse gedigte. En ons vier die verjaardae van groot geeste soos DJ Opperman en Anton Tsjechof, asook Louis van Niekerk, wat aanstaande jaar 80 word.

Sien die program hieronder.

Wat het jy tydens die eerste kunstefees geleer wérk en wat werk nié?

Met die eerste kunstefees het ons heelwat kanse gewaag en was op die ou einde verras deur hoe geslaagd die aanbiedinge was. Wie sou kon raai het dat ’n kabaret op radio tot sy reg kan kom? Beide Hennie Aucamp se ’n Vuur gevang in glas en Jeanne Goosen se Elders aan diens was uiters suksesvol. Selfs die kunsklas op die lug was ’n reuse-sukses. Natuurlik is daar kunstedissiplines wat nie maklik van die verhoog na die radio verplaas kan word nie. Met die tweede kunstefees probeer ons nietemin steeds die brug bou, gerugsteun deur ’n fokus op gehalte. Die reaksie van luisteraars – hier in Suid-Afrika én die buiteland – was verlede jaar oorweldigend en daar was werklikwaar nie iets wat nié gewerk het nie. Die fees het uiteraard nisproduksies wat nie in almal se smaak gaan val nie, maar dit is ook hoe enige kunstefees werk. Daar is ’n wye verskeidenheid met genoeg om van te kies. En as ’n mens dit met ’n oop gemoed (of oor) benader, is daar gelukkig oorgenoeg verrassing!

RSG het as gevolg van die kunstefees ’n toekenning vir vernuwing ontvang. Is daar al ooit elders ’n kunstefees op die radio uitgesaai, sover jy weet? Indien nie, wat het jou daardie idee gegee?

Sover ons kon vasstel, bestaan daar nie ’n volwaardige radiokunstefees nie. Wat Suid-Afrika betref, was dit beslis ’n eerste vir radio. Natuurlik is iets soos radioteater (of radiodrama) en regstreekse konserte iets wat ’n mens al voorheen op radio gehoor het. Maar met die aanvanklike beplanning het ons al die vername elemente van ’n kunstefees gaan identifiseer en dit na radio toe verplaas. Vir ’n week lank klink RSG heeltemal anders. Die fokus is op ’n totale feesatmosfeer en daar is daardie regstreekse gevoel. Dit het verlede jaar daartoe gelei dat mense nie kon afskakel nie. Dit voel waarskynlik asof jy iets gaan misloop as jy nie aanhou luister nie. En wat dit voorts uniek maak, is dat ’n mens nie ’n sent daarvoor hoef te betaal nie. Al die produksies is heeltemal gratis. Jou voorstoep, jou kombuis, jou motor en selfs jou slaapkamer word ’n konsertsaal.

Jare gelede het jy op LitNet geskryf oor kunstejoernalistiek wat besig is om ’n stadige dood te sterf. Voel jy steeds so?

Ek is baie passievol hieroor en sal dit liefs afsonderlik van my gesprek oor die kunstefees wil hou.

Ons het op Woensdag 12 November ’n kunsteklets hieroor: “Kunstejoernalistiek in Afrikaans = is die einde in sig?” Ek is een van die gaste en sal my mening daar lug.

As uitvoerende regisseur by RSG Drama gebruik jy die gesproke woord en wend dit in al sy gedaantes aan. Wat is die lekkerte hiervan en wat is die uitdagings?

Radio is ’n ontsettend intieme medium. Daarmee saam het klank soveel kreatiewe moontlikhede. ’n Uitgesaaide kunstefees bied soveel uitdagings, en elke keer is daar tog nuwe fasette van klank en die gesproke woord wat ’n mens kan verken. Die lekkerste van hierdie veld is juis hoe dit my kreatiwiteit prikkel. Ek geniet dit ook om te sien hoe ver ’n mens met klank kan reis. Daar is letterlik nie grense nie. Daarby is dit onmiddellik. En mense reageer ook graag. Dit is soos ’n voortdurende gesprek.

RSG KUNSTEFEES 2014
Die program is onderhewig aan verandering.

Maandag 10 November 2014
17:00 Nuus
17:15 RSG Sport (vroeër)
17:30 Hersiening (vroeër)
18:00 Nuus
18:05 Weer
18:15 Geldsake (vroeër)
18:45 Boekvoorlesing
18:50 Aandgedagte (vroeër)
18:55 Nuus (vroeër)
19:00 Die Ploeters kom aarde toe (Teks en regie: Renske Jacobs) ’n Splinternuwe kinderreeks
19:10 Op pad (Anton Tsjechof, toneel)
“Die lewe kan ’n mens soms so bolmakiesie laat slaan. Jy kan net reddeloos toekyk en jou oë toeknyp.” ’n Verwerking van ’n kortverhaal, Op pad, deur die Russiese dramaturg, Anton Tsjechof. Met Grethe Fox, Gerard Rudolf, Rolanda Marais, Jacques Bessenger en Danielle Retief. Regie: André Stolz.
19:50 Binnekort – Carien Smith
20:00 My mense deur Dot Serfontein met Antoinette Kellerman (toneel)
“Uit die keur van Serfontein se werke neem Kellerman jou met deernis terug na die skrywer se kosbare beskrywings van haar ouers, haar soms eksentrieke Serfontein-familie en haar jare op die plaas as jong kind en later as joernalis, getroude vrou, versorgende moeder en ouerwordende dame. Lekker aardse koekemakranka-kosgoed vir die siel,” skryf Nico Luwes.
Saamgestel deur Juanita Swanepoel. Regie: Juanita Swanepoel en Eben Cruywagen
21:00 Nuus en temperature
21:10 June van Merch gesels – Johan Rademan (onderhoud)
21:25 Katriena! Deur Riana Scheepers. Met June van Merch
Katriena is ’n onvergeetlike karakter uit die pen van Riana Scheepers en in hierdie keur uit haar “kombuisverhale” gaan ’n ieder en ’n elk skaterlag.
21:50 Laataand-komedie met die komediant Mark Banks
22:00 Kunste-Tjil – Jody Hendricks
Storietyd, Kinderhoekie, Ratels, Tempo en Liedjieboer Rumoer staan oor

Dinsdag 11 November 2014
08:00 Kunstefees-klets: Is daar nepotisme in die kunste? Baantjies vir boeties?
09:00 tot 11:00 Kunste-kuier (met Mark Banks, Shimmy Isaacs, Liewe Heksie)
14:00 Kunstefees-klets: Gaan mense nog feeste toe? Wat geniet jy?
17:00 Nuus
17:15 RSG Sport (vroeër)
17:30 Hersiening (vroeër)
18:00 Nuus
18:05 Weer
18:15 Geldsake (vroeër)
18:45 Boekvoorlesing
18:50 Aandgedagte (vroeër)
18:55 Nuus (vroeër)
19:00 Die Ploeters kom aarde toe (Teks en regie: Renske Jacobs)
19:10 Stillewe – Christelle Webb-Joubert
Leer hoe om ’n stillewe te teken. Ontdek en ontwikkel jou innerlike kunstenaar.
20:00 2 tot 16 in 80 minute (klassieke musiek) Regstreeks vanuit die M1-ateljee
Hoe klink dit as 80 vingers Ravel se Bolero aanpak? Altesame 8 pianiste op 4 konsert-vleuelklaviere met selfs ’n porsie tradisionele Afrikaanse musiek. Met Wessel van Wyk, Willem de Beer, Leatitia Orlandi, Bart Joubert, Paul Ferreira, Brian Bae, John Theodore en Annalien Ball.
21:20 Nuus en temperature
21:30 Die euwels van tabak (Anton Tsjechof) met Tobie Cronjé (toneel)
’n Middeljarige word deur sy dominerende vrou aangesê om ’n lesing oor die euwels van tabak aan te bied. Die lesing verloop egter nie soos beplan nie. Regie: André Stolz
21:50 Die vrese van Bennie Wessels – Corné Koegelenberg (voorgelees deur Dean John Smith)
22:10 Kunste-Tjil – Anna-Retha Bouwer
Takalani Sesame, RSG Kuns, Vers en klank asook Kortom staan oor

Woensdag 12 November 2014
08:00 Kunstefees-klets: Kunste-joernalistiek in Afrikaans – is die einde in sig?
09:00 tot 11:00 Kunste-kuier (met Mark Banks, Shimmy Isaacs, Liewe Heksie)
14:00 Kunstefees-klets: Lê ons kunste nou in die vlak water? Het ons smaak vervlak? Is als nou net kits, vinnig en oppervlakking? Wat het van ons aandagspan geword?
17:00 Nuus
17:15 RSG Sport (vroeër)
17:30 Befonk (vroeër)
18:00 Nuus
18:05 Weer
18:15 Geldsake (vroeër)
18:45 Boekvoorlesing
18:50 Aandgedagte (vroeër)
18:55 Nuus (vroeër)
19:00 Die Ploeters kom aarde toe (Teks en regie: Renske Jacobs)
19:10 Ella se perde deur Charles J Fourie (radiodrama)
Dié bekroonde toneelstuk is spesiaal vir die radio verwerk en handel oor die “perdevrou van die Overberg”, Ella Gordon Dove Colston. ’n Legende van die Hemel-en- Aarde-vallei kry hier roerend nuwe lewe.
20:00 Nataniël vertel … (storie-konsert) Altesame agt van Nataniël se heel beste stories van die afgelope sowat 27 jaar word hier voor ’n ateljee-gehoor afgestof. Humor op sy heel beste!
21:30 Nuus en temperature
21:40 Opperman 100: Denker en digter (woordkuns) Nagevors, saamgestel en aangebied deur Lina Spies. Met Nic de Jager en Sue Pyler
DJ Opperman sou vanjaar 100 oud wees en RSG huldig dié “bonkige Zoeloelander” met ’n spesiale program. Die verse wat onder andere gehoor kan word, sluit in “Klara Majola”, “Sproeireën” en “Fabel”.
22:15 Teerling 4: O hel! deur PG du Plessis (toneel)
Met Deon Lotz en Rolanda Marais. Regie: Johan Rademan
22:35 Nuus
Storietyd, Kinderhoekie, Skrywers en boeke, Dis klassiek asook Tjil staan oor
Donderdag 13 November 2014
08:00 Kunstefees-klets: Bestaan daar ’n nasionale kunstebedryf? Of het die kunstefees-kringloop ’n aantal streeksfeeste geskep, sonder ’n nasionale “bedryf”? Hoe bevoordeel of benadeel dit kunstenaars?
09:00 tot 11:00 Kunste-kuier (met Mark Banks, Shimmy Isaacs, Liewe Heksie)
14:00 Kunstefees-klets: Hoekom is Shakespeare so tydloos? Wat omtrent sy werk maak dit so universeel? (Koning Lear is deur Uys Krige in Afrikaans vertaal. Die uitdagings van so ’n werk.)
17:00 Nuus
17:15 RSG Sport (vroeër)
17:30 Hersiening (vroeër)
18:00 Nuus
18:05 Weer
18:15 Geldsake (vroeër)
18:45 Boekvoorlesing
18:50 Aandgedagte (vroeër)
18:55 Nuus (vroeër)
19:00 Die Ploeters kom aarde toe (Teks en regie: Renske Jacobs)
19:10 Die woordketting – Ilse Salzwedel met die digters Philip de Vos, Diana Ferrus en Andries Bezuidenhout en Elize Cawood as spesiale gas
20:00 Koning Lear deur William Shakespeare (vertaal deur Uys Krige)
Met Louis van Niekerk as Lear, Lochner de Kock as die nar, asook Richard van der Westhuizen, Anton Dekker, André Stolz, Wilhelm van der Walt, Melt Sieberhagen, Sulette Thompson, Heidi Mollentze, Lelia Etsebeth, Morné Coetzer, Marcel van Heerden, Henk Hugo en Duncan Johnson
22:00 Nuus en temperature
22:10 Lettie se verlies deur Elani Venter (voorgelees deur Kim Heynes)
22:20 Kunste-Tjil - Hemelbesem
Takalani Sesame, Musiekbonbons staan oor

Vrydag 14 November 2014
08:00 Kunstefees-klets: Twintig jaar van demokrasie – hoe het die kunste die afgelope twee dekades verander? Al dan nie?
09:00 tot 11:00 Kunste-kuier (met Mark Banks, Shimmy Isaacs, Liewe Heksie)
14:00 Kunstefees-klets: Gesprek met die kunstenaars van “Die Afrika in Afrikaans” = Anna Davel, Gloria Bosman en Timothy Moloi
17:00 Nuus
17:15 RSG Sport (vroeër)
17:30 Befonk (vroeër)
18:00 Nuus
18:05 Weer
18:15 Geldsake (vroeër)
18:45 Boekvoorlesing
18:50 Aandgedagte (vroeër)
18:55 Nuus (vroeër)
19:00 Die Ploeters kom aarde toe (Teks en regie: Renske Jacobs)
19:10 Mede-wete - Antjie Krog eksklusief in gesprek met Susanne Beyers (woordkuns)
Krog lees verse uit haar eerste bundel in agt jaar, Mede-wete, en gesels oor ma- en ouma-wees, kos, kreatiwiteit, die grond in elkeen van ons, mede-menslikheid en hoe om woede te verskans.
20:00 Die Afrika in Afrikaans met Gloria Bosman, Anna Davel en Timothy Moloi o.l.v. Janine Neethling (musiek) Regstreeks vanuit die M1-ateljee
’n Ritmiese en musikale sinergie tussen Afrika en Afrikaans met ’n gerf immergroen liedjies en melodieë
21:30 Nuus en temperature
21:40 Stilte
’n Groep kunstenaars het geskenkbewyse met vyf minute se stilte ontvang. Kom luister hoe die verbeelding op galop gaan en hoe die stilte verdryf word ... Met Die Heuwels Fantasties, Loit Sôls, Les Javan, Eduard Greyling, Braam du Toit, Jitsvinger, Zanta Hofmeyr en Kirby van der Merwe
22:30 Kunste-Tjil  – Christelle van Tonder
Storietyd, Kinderhoekie, OppiRadio en Musiek sonder grense staan oor

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top