Tripjas keer terug met nuwe inslag (en nuwe lid)

  • 0

Goeiedag, Rudolph. Hoe’s dinge?

Hei daar, Henry. Dinge gaan sommer lekker noudat ons met LitNet praat, dankie. Ek het vir Maria ook hier by my om te help met die vrae.

Tripjas het onlangs ’n terugkeer na die toneel gemaak ná sowat tien maande op die kantlyn. Wat was die rede vir die break en wat het daartoe gelei?

Ons het ’n plato in ons musiek bereik en ’n paar maande uit die publieke oog verdwyn sodat ons kon hergroepeer en besluit watter verdere rigting ons wil inslaan met ons musiek en besigheidstrategie. Daar was ook ’n metamorfose wat ons moes ondergaan wat baskitaarspeler betref. Die hibernasie het ons beslis goed gedoen en ons het 2014 sommer in vyfde rat begin. Ons spog nou met Maria Pretorius op die baskitaar.

Sedert die terugkeer het julle al weer ’n paar gigs ingekry. In watter mate het die af tydperk julle laat herbesin of herstrategeer oor wat Tripjas wil bereik, en ook hoe julle dit wil bereik? Hoe verskil jul benadering nou van ’n jaar gelede?

Dis maar babatreë vir nou, hoor. Ja, ons het lugkastele (en baie daarvan), maar op die ou end gaan dit maar net daaroor om ’n gewillige oor te kry wat wil luister en moontlik van ons sal hou in die proses. Hopelik stap daardie paar ore die pad saam met ons.

Ons het al verskeie opinies versamel op ons pad, vanaf om meer te fokus op branding tot om ’n skandaal of twee te veroorsaak. Maar dit kom eintlik maar net daarop neer dat ’n goeie produk (hopelik) ’n goeie gehoor kry. Blootstelling is al wat ons op hierdie stadium kan vra.

Julle snitte wat aanlyn beskikbaar is wissel nogal in aanslag … “Rapzondernaam” en “Leë Blikke” het nogal ’n harde, distortion-driven vibe, terwyl snitte soos “Hey Hey” en “Sepia” ’n veel meer balladerige gevoel het. Watter van hierdie (en ander) aanslae is vir jou makliker en moeiliker om in te skryf, en wat geniet jy meer? Of wat is die rol van die gemoed in die skeppingsproses?

Ons verkies om nie ’n eendimensionele band te wees en onsself tot een spesifieke styl in te perk nie. Die variasie is wat dit interessant hou en dit verteenwoordig die verskillende fasette van ons groep se persoonlikhede. Dit help natuurlik ook dat ons twee songwriters in die band het. My en Leroux se skryfstyle verskil heelwat, maar op ’n manier vind ons mekaar altyd in die middel êrens.

Die vyf van ons het ook wyd uiteenlopende musiekagtergronde wat wissel van heavy metal tot klassieke musiek. Ons laat onsself lei deur inspirasie en elkeen dra by om elke song sy unieke klank te gee.

Wat die skeppingsproses aanbetref, is die gemoed nogal ’n baie belangrike skryfmaat. Kom die mooiste songs nie maar uit die rouste emosie nie? Of jy nou gelukkig, verlief,  kwaad, teleurgesteld of baie hartseer is, die skryfproses is maar net ’n uiting aan wat ook al jou gedagteproses oorheers op enige gegewe oomblik. Party mense verf of dans; ek sit met my kitaar en ’n pen.

Die blaasinstrument wat op ’n paar snitte, insluitende “Kop” en “Kniediep”, opduik, voeg ’n heerlike onverwagse element by. Wat is die agtergrond daarvan en wat voel jy voeg dit by? Hoe gaan ’n mens om met so ’n element in die band dat dit nie “te veel”, of dan oorbenut, raak nie? Hoe belangrik is so ’n bykomende element vir ’n band se “trademark”?

Hier moet ons weer terugverwys na Tripjas se metamorfoses oor die jare heen. Dit het begin by ’n driemanskap en toe voeg hulle die fluit by. Ek het eers heelwat later bygekom. Mettertyd is dit toe fluit-fluit (storie uit vir die fluit – wat is die lewe nou eintlik sonder ’n flou grappie?) en dis toe dat ons besluit het om nog ’n elektriese kitaar in te bring, in die gestalte van Phonnie Burger. En noudat ons vir Maria ook by het, is ons hele aanslag baie meer intricate. Ons het ook al baie lesse op ons pad geleer en ons weet daar is nog heelwat lesse wat voorlê, maar vir nou is ons baie gelukkig met ons produk.

Ons doen ook graag acoustic sets. Ons sal beslis weer ’n fluit wil inbring, of selfs ’n trekklavier, maar dis fyn balans om nie so ’n instrument te oorbenut nie. In so ’n geval is ’n “less is more”-benadering altyd die beste. So ’n tipe instrument kan beslis ’n kenmerkende trademark van ’n band word. Dit is egter belangrik dat die sterkte van die band altyd in die musiek self lê en nie bloot staatmaak op een of ander gimmick soos ’n ongewone instrument nie.

Dit voel of daar besondere klem op die lirieke geplaas word. Dit is natuurlik vir talle kunstenaars voor die hand liggend, maar vir andere minder die geval! Wat is jou gevoel oor die belang van treffende lirieke in balans met die musiek, en wat is jou filosofie rakende lirieke wat wérk? Hoe lyk jou gedagtegang tipies as jy sit om ’n liedjie neer te pen?

Lirieke is vir ons flippen belangrik. As ’n song nie ’n boodskap het nie, is dit puntloos. Ons heg baie trots aan ons "musiek met ’n mission"-filosofie. Ja, dis belangrik om kommersieel te dink as jy werk aan ’n song (veral as jy graag ’n beroepsmusikant wil wees), maar jy sal ons nie dood betrap met ’n “baby baby”-liriek in ons musiek nie.
Dis ook natuurlik vrek maklik om lirieke te laat corny klink in Afrikaans. Face dit, Afrikaans is eintlik ’n baie soetsappige taal. Dis juis hoekom ons so baie van ons taal hou. Dis so ’n lekker taal om jouself in uit te druk, maar dit kan só maklik swak uitdraai.

Ek (en ek weet Leroux ook) loop en skryf songs regdeur die dag. Partykeer hoor ek ’n frase tydens ’n gesprek en dink dan net daar: “Daai is ’n song!” En dan gaan sit ek met die kitaar en pen en voice-note en improviseer. Partykeer kom niks uit nie en sommige kere – wanneer mens dit die minste verwag – skryf jy ’n hit (al is dit net my ma wat so dink.)

Ek sien op Facebook beskryf julle jul platemaatskappy as “’n mielie, ’n ou grammofoon en ’n stuk draad”. Wat is die onderliggende filosofie verbonde aan hierdie beskrywing (indien enige)? Hoe voel jy in die algemeen oor ’n verhouding kweek met ’n platemaatskappy, wat dit – positief en negatief – vir ’n band beteken en die invloed daarvan op die algemene gehalte van dit wat op die Afrikaanse musiektoneel voortgebring word?

Haha! Ek kan nie glo jy het daai gaan uitkrap nie! Dis eintlik maar net ’n mooi manier om te sê dat ons heeltemal onafhanklik (indie) is tot op hede, alhoewel ons al verskeie projekte aangepak het met byvoorbeeld Wouter van de Venter by VH Media & Publishing. Ek dink ’n verhouding met ’n platemaatskappy kan goed óf sleg uitdraai. Ons is nou al mooi oud en lelik genoeg om te weet presies wat ons in die
bedryf wil hê en wat ons bereid is om daarvoor te doen. Met ander woorde, dit gaan nie vir ons daaroor om net ons siele te verkoop vir ’n bietjie roem nie. Die produk bly die belangrikste. Daar is genoeg bubblegum-musiek op hierdie aarde. Jammer, maar waar.

Tripjas het al ’n paar festival spots en ’n swetterjoel gigs agter die rug. Veral noudat julle terug op die scene is, wat is dit wat dit vir jou die moeite werd maak om op die stage te klim en nat te gooi? Watter hoogtepunte (en laagtepunte) het jy/julle tot dusver in Tripjas se bestaan beleef wat die gigs betref?

Goeie vraag. Ons het al soveel hoogtepunte ervaar. Laagtepunte ook. Maar die hoogtepunte hou dikwels verband met die feit dat ons selfs net een persoon in die gehoor kon raak (of hoendervleis gee of wat ook al). Ons het al iemand laat huil met ons song “Sepia”. (Ek verkies om te glo dit was ’n goeie huil en nie ’n slegte een nie.) Dit was nogal ’n baie groot kompliment. Dis dan wanneer jy voel: “Oukei, ek is op die regte pad.”

Laagtepunte sal daar altyd wees. Ek haal een van my gunsteling quotes aan vir hierdie aangeleentheid: “If it were easy, everyone would do it” – Mark Black.

Wat hou die nabye en verre toekoms vir Tripjas in?

Ons het juis nou ’n paar dae gelede (Maandag 31 Maart) ons nuwe song “FML-geval” vrygestel. Dis ons baie donker weergawe van ’n doef-doef-treffer. Verder het ons ’n paar lekker gigs wat voorlê, onder andere in Napier (by die Suntouched Inn – 5 April) en by Aandklas in Stellenbosch (22 April). En as enige van julle so gaaf sal wees om vir ons te gaan stem om moontlik vir die eerste keer vanjaar op Oppikoppi te kan gaan speel, sal ons dit baie waardeer. Alle besonderhede is op Facebook beskikbaar.

Wat is die sin van die lewe?

Die sin van die lewe is ’n konstante soektog. Dit is die soektog self wat ons bestaan daagliks voortdryf, om sin te maak uit alles. Die antwoord sal altyd buite bereik wees. 

Ns. Was dit rêrig ’n vraag? WOW. Haha.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top