Tommy Chan en die Versailles van Honiara

  • 0

Indien die wêreld ooit ‘n enema nodig sou hê, sou Honiara, die hoofstad van die Solomon-eilande, ‘n goeie plek wees om te begin. Dit is ‘n stowwerige, warm, vieslike vuil verskoning vir ‘n stad. Die paaie is vol gate, die krag- en watertoevoer sporadies en oral lê hope rommel stinkend en vrottend in die tropiese hitte. Saans sal iemand miskien die rommel op ‘n hoop vee en aan die brand steek. Dan hang daar so lui dik wolk plastiek-rook oor die dorp.

Die mooiste riviere en strande, omring met die pragtigste bome en berge, is bemors met blikkies, papiere en plastiek. Snags loop troppe brandsiek honde blaffend en huilend deur die strate. Hier en daar stoot hortende kragopwekkers dieseldampe die lug in. Selfs die reisskrywer Paul Theroux het na sy besoek aan Honiara in sy boek, The Happy Isles of Oceania, gevra: “Why would anybody want to come here?”

Om in die Honiara Hotel te kom bly, is ‘n goeie rede, want kyk, dis ‘n bastion van kitsch. Die eienaar, mnr. Tommy Chan, is ‘n man met visie. As voormalige politikus, supermark-eienaar en grondbaron, is hy een van die rykste mense in die land. En hy droom groot hoor. Jy kan hom maar die Sol Kerzner van Honiara noem, want die Honiara Hotel is dié hotel in die Solomon-eilande.

Ons het die voorreg gehad om vir ‘n week in Tommy se indrukwekkende kampong te bly.

Ons het ‘n gesinskamer (twee kamers met ‘n skuifdeur tussen-in) in die ou deel van die hotel gehuur. Die kamers het geen natuurlike lig gehad nie, slegs ‘n fluoorbuislamp. Die beddens se kokosneutmatrasse was met geel poliëster lakens bedek. Dit het na ou sigaretrook en urine geruik en die muskietgaas voor die toegegroeide venster was vol gate. Die toilet het nie gewerk nie en vir die grootste deel van die dag en nag was daar geen water of elektrisiteit nie. Snags het dronk gaste in die gange gerinkink. As jy die lugverkoeler aangesit het, het dit geklink asof jy saam met ‘n Harley Davidson in die kamer slaap. Die kamers het R475 per nag gekos, ontbyt ingesluit.

Soggens was daar miere in die Weet-bix en in die suiker. Die “ontbyt buffet” het bestaan het uit bottels muwwerige ou ontbytgraan, aanmaakkoeldrank en verlepte vrugte. Ek het my voorgestel dis hoe ‘n hotel in die Kongo lyk, behalwe nou vir Tommy se artistieke neigings.

Sy reeks entrepreneurskap begin by sy geldkas: die Flamingo Night Club. Dis ‘n simfonie in vuil donkerrooi fluweelleunstoele met wit en swart foto’s van ou silwerdoeksterre soos Marilyn Monroe en Bogey en Bacall. Dit is dié plek vir aspirerende Honiarane om hul salarisse op Vrydagaande te blaas. Dan kon die polsende klanke van die Stille Oseaan se disko-klanke oor die hele dorp gehoor word. By die ingang van die klub is daar twee reuseflaminke uit veselglas en ‘n groot kennisgewing vir mense om hulle messe en panga’s asseblief tog by die deur te los.

Dan is daar die Buccaneer restaurant. Buite die eetkamer is daar ‘n “fontein” wat lank nie meer werk nie, van drie blou veselglasdolfyne teen ‘n agtergrond van helder geverfde koraal, gekleure Nemo-tipe veselglasvissies en -skilpaaie. Selfs die mosbedekte klippe is helderblou geverf vir die akwa-tema. Dit is ‘n altaar aan die trope.

In die binnehof is daar ‘n twee meter hoë veselglas-Donald Duck wat water uit sy mond in die swembad spuit en twee reuse bloedrooi veselglas hibiskusblomme hang van die dak af.

Die Disney-tema word verder voortgesit in Club Havanna (“Pacific Italian and French cuisine”). Daar is ‘n vier meter hoë veselglasmeermin kompleet met ‘n bos silwer nylonhare om kuis haar kaal borste mee te bedek. Haar middel is effe dik wat dit laat lyk asof sy al gebaar het, of dalk ‘n fopdosser meermin mag wees. Langs die dans-area is daar (weer eens) ‘n reuseveselglaskammossel en ‘n silwer disko-bal. Al die veselglasstandbeelde is Tommy se eie handewerk.

Ongelukkig is dit duidelik dat Tommy nie meer omgee vir die ou deel van sy hotel nie. Behalwe vir die Flamingo Night Club dans of eet niemand juis meer in die ou deel van die hotel nie. Die duikwinkel is toe en in die curio-winkel lê hope houtdolfyntjies en ander sneewerk onder die stof. ‘n Klomp ou stofbedekte rekenaars is bewys van drome van ‘n internetkafee.

Jy moet die twee-mankabelkarretjie die berg opneem om te sien waar die heer Chan nou droom. Terloops selfs die kabelkarretjie het onder Tommy se veselglasmanie deurgeloop – dit het ‘n dak van pragtige blou veselglasbranders.

Bo teen die berg is die 30 meter lange swembad waarheen almal nou heen kom. Dis ‘n pragtige swembad, so groot en luuks en helder. Dit is werklik ‘n prestasie in ‘n plek soos Honiara. Daar is ook ‘n klein swembadjie vir die kinders (Tommy het ‘n swetterjoel) met ‘n waterval wat dompel oor ‘n onnatuurlike grys veselglaskrans wat lyk asof dit uit dinosaurusdrolle gemaak is.

Langs die swembad is die Margarita’s Bar en Oasis Restaurant gebou. Dis pragtig op so kitsch Chinese manier. Reuse, werklik reuse goue en “kristal” kandelare hang van die dak af met ewe rykversierde muurligte. Dis Honiara se Versailles. Daar is fopsuede rusbanke en ‘n wit teëlvloer. Onthou dis Honiara hierdie, so die vloer is heeltyd betrap met hope stof of modder.

Agter die kroegtoonbank is daar ‘n versameling “objet d’art” soos ‘n wit keramiekkoets met goue perde en ‘n meerminfonteintjie. Tommy het duidelik ‘n ding vir meerminne. ‘n Muntstuk glinster in ‘n flitsende gelukbringer-paddastandbeeld se mond. Daar is twee groot goue staanlampe met pouvere bedek.

En dan die grootste trekpleister: twee platskerm TV’s. Dit is hier waar Tommy op sweterige Sondaemiddae as dit stil is en almal teen die hitte skuil, Candle in the Wind op die karaoke sing op so treurige Chinese manier, met ‘n whisky in die hand. Dan is hy voorwaar die koning van sy paleis!

 

Lees hier meer oor die reisskryfkompetisie: 1 001 reiswoorde

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top