Tirza deur Arnon Grunberg

  • 0

Titel: Tirza
Skrywer: Arnon Grunberg
Uitgewer: Open Letter
ISBN: 9781934824696

 

Koop Tirza by Kalahari.com.

 

 

 

Tirza deur Arnon Grunberg

Die Nederlandse skrywer Arnon Grunberg, in sy vroeë veertigs, is baie suksesvol, veelsydig en produktief. Die hoofkarakter in Tirza is Hofmeester, ’n nie-so-suksesvolle-nie teksredakteur. Hy het hom, veral nadat sy vrou hom vir haar jeugliefde verlaat het, daarop toegespits om Tirza, hul jongste dogter, groot te maak. (Daar is ook ’n ouer dogter, Ibi, vir wie Hofmeester minder lief is, waarskynlik omdat sy altyd deur hom kon sien en gevolglik nie ontvanklik is vir sy versmorende liefde nie.)

Hofmeester se strewe om ’n goeie pa vir Tirza te wees, is bewonderenswaardig. Of so lyk dit. Sy liefde vir Tirza grens aan sonde. Hy kom daarby nie goed met ander mense oor die weg nie en het verwronge idees oor geluk, liefde en seks.

Die grootste deel van die roman wentel om die partytjie wat Hofmeester vir Tirza gee om die einde van haar skoolloopbaan te vier. Alles moet perfek wees, veral die kos, wat hy self voorberei. Selfs die teenwoordigheid van Tirza se ma, wat onlangs teruggekeer het en roekeloos met haar dogter se maats flankeer, mag nie die partytjie bederf nie. Maar natuurlik verloop die partytjie nie soos Hofmeester sou wou hê nie.

Dié roman beeld onder meer uit hoe ouers dikwels hul mislukte lewens wil korrigeer deur die beste uit hul kinders te probeer haal. Maar Tirza is meer as dit. Dis die verhaal van ’n identiteitlose, jammerhartige man vir wie die grootmaak van sy dogter, en sy dogter self, die kern van sy lewe word. En wat haar dan moet verloor omdat sy haar eie pad moet loop. Wat bly vir hom oor? Soos Hofmeester dit self stel: ’n mens begin doodgaan wanneer jou kinders die huis verlaat.

Hofmeester glo wel dat om ander mense gelukkig te maak, al manier is om self gelukkig te kan wees. Die tragiek is dat hy telkens sélf besluit wie hy gelukkig wil “maak” (eers Tirza en later, in Namibië, die jonge Kaisa wat hy in Windhoek raakloop en wat hom meedoënloos agtervolg). Hy bly in wese selfsugtig: goedhartigheid is vir hom nét daarop gerig om self ’n bietjie geluk en sin in die lewe te vind. Vir die res van sy mensdom voel hy niks.

Tirza se begrip vir haar pa se emosionele verwrongenheid en dat sy ten spyte daarvan vir hom lief bly (sy wil byvoorbeeld by hom weet wat van hom gaan word wanneer sy nie meer daar is nie), is roerend. En dalk is daar ook iets van haar pa in haar – op bladsy 335 dink Hofmeester: “Ander se ellende gee haar ’n lewensdoel.”

Ná Tirza en haar kêrel se vertrek na Afrika is die spreekwoordelike mat tot so ’n mate onder Hofmeester se voete weggeruk dat hy na haar in Namibië gaan soek – en in Kaisa ’n soort plaasvervanger vir haar kry.

Tirza is foutloos deur Lina Spies vertaal. Die roman is soms absurd, dikwels tot plesier van die leser. Grunberg het met die skryf van dié boek ’n roman met baie lae geskryf wat ’n groot indruk op baie lesers sal maak. Maar Tirza is soms kru, het ’n bitter, morbiede ondertoon, lees soms moeilik en kon veral teen die einde veel korter gewees het. Baie lesers sal die slot ook te kripties vind. Tog is dit ’n wyse boek met ’n sterk boodskap vir dié wat die moeite wil doen om dit raak te lees.

En wat hierdie boek wil sê, is universeel. Daarom dat die uitgewer, weer eens, groot lof moet kry omdat hy nog ’n Nederlandse boek vir Afrikaanse lesers toeganklik gemaak het.
 

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top