Tien vrae: Tossie van Tonder oor My African Heart

  • 0

 

 

Skrywers oor hul nuwe boeke: Tossie van Tonder oor My African Heart

Waarom het jy My African Heart geskryf – en was daar een idee/emosie waaruit die boek ontspring het, of kan jy verskillende faktore as inspirasie noem?

Ek skryf daagliks joernaal om sin te maak van my komplekse lewe – onvereenvoudigbaar – as Suid-Afrikaner. Die boek is ’n tregter van die uitstaande trekke van hierdie joernale oor 20 jaar. Dit sentreer om my verhouding met ’n swart man, met wie ek ’n sielskontak had in die vroeë ’90’s, sy agtergrond as dié van ’n vryheidsvegter en politieke gevangene en my eie as wit Afrikanervrou en danser. My politieke transformasie het daar begin. Hy is die vader van ons seun.

Die struggle van so ’n verhouding, destyds, het my ruimte gegee om witheid se subjektiwiteit skaamteloos en bloots neer te pen. Dit was ’n helende reis waar politieke inkorrektheid ook ’n stem kon kry met ’n goeie lot dekonstruktiewe soewereiniteit. Daar was natuurlik die saak van geestesbalans. Dis ’n groot saak, ’n Suid-Afrikaanse een waar mens besef wat ons onsself deursit en hoe op dees aarde ons onsself bo water hou en nie kranksinnig opeindig nie. Dis hoekom ek skryf, en dans.

Wat was die moeilikste aspek van die skryfproses van hierdie boek, en hoekom?

Om die diepte-aspekte van ons politieke oorgang te kon waardeer as ’n soort eksistensiële transformasie. Terselfdertyd moes die alledaagse handel en wandel ’n weerspieëling gee aan wat ons uniek maak. Dan was daar my uitskryf van ’n dualiteitloosheid, in ’n verhouding tussen swart en wit, wat vir my die reine waarheid was. Alles wat ek hier sê, moet gesien word as een enkelvoudige beweging. Soms kan ek so ’n ingewikkelde idee dans, dan verstaan mense my beter.

Het jy op enige plek in die manuskrip ’n dooie punt bereik en indien wel, wat het veroorsaak dat jy dit kon oorkom?

Geen dooie punt nie, maar wel geweldige innerlike konflik oor die blootstelling van ’n ander persoon, soos gesien deur my eiesoortige struggle-oë. Ek kon sy blootstelling nie vermy nie. Daar sou geen storie gewees het sonder ’n werklike mens wat my met tye as vyand bejeën het, en tog as geliefde nodig gehad het vir sy eie bevryding nie.

Die boek is jou memoires, eerder as fiksie, of hoe sou jy dit beskryf? Verder: Wat was vir jou die belangrikste aspek van die boek?

Ja, dis direkte herinnerings onderlê met insigte oor die psigopolitieke oorgang in Suid-Afrika. Die warboel van indrukke, waarnemings, gevoelens, katarsis en illuminasie kon nie minder kompleks wees nie. Dit was nodig om dit in verskeie stemme te skryf om drie aspekte uit te lig: die subjektiewe neerslag van politiek, spiritualiteit, die liggaam, bloedlyn en tradisie; die erkenning en versoening van haar ouers as die jong apartheidskind; en die wyse en onwrikbare toekomskind van Suid-Afrika en sy stil, deernisvolle indrukke van sy swart pa en wit ma. Ek was nog nooit seker watter genre hierdie boek volg nie. Dis maar soos my danswerke, altyd op die rand van iets ...

Het jy, nadat die manuskrip aanvaar is, in alle opsigte na jou redigeerder geluister?

Ek moes verskeie redigeerders kry om seker te maak dat my boek se integriteit behoue bly en ook taalkundig versorg word. ’n Hele span lesers moes onafhanklik kyk na die Afrikaner, witheid, swartheid, Engels, historiese korrektheid, sielkundige kongruensie van figure in politieke oorgang, en waak teen die verengelsing van die boek. Dit is in my Afrikaanse Engels geskryf en daaraan moes niemand raak nie.

Skrywers het nie ’n pensioen nie, boeke maak meestal nie ryk nie. Waarom skryf jy?

Ek skryf om die pols van Suid-Afrika se binnewêreld te verstaan en het geen idee hoeveel daarin belangstel nie.

Werk jy reeds weer aan ’n volgende manuskrip?

Ek werk tans aan ’n dansproduksie, Chthonia, en die meeste van my skryfwerk en navorsing in hierdie verband vorm die filosofiese gronde van hierdie dans. Dit is ’n ander skeppende resonansie van skryf as dié van ’n boek.

Wat dink jy van die Afrikaanse letterkunde op die oomblik – die boeke wat verskyn (en dalk ook in die onlangse verlede verskyn het)?

Afrikaans is al vir 20 jaar lank besig met ’n eksponensiële genesing wat nou ’n diversiteit het wat dui op ’n innerlike vryheid. Ek hoor dit op die radio en sien dit op die wyse waarop Afrikaans op my e-posse floreer. Ek lees vir navorsing oor my eie werk en volg eietydse filosowe se woeker met globale sake na. Met my rustelose dis/kontinuïteit van karakter moet ek skryf meer as lees.

En wat is jou gedagtes oor die toekoms van die Afrikaanse boek (of dalk selfs oor wat uitgewers behoort uit te gee)?

Ek idealiseer al vir langer as 20 jaar dat al elf ons tale kan floreer om ’n digte netwerk van literatuur in Suid-Afrika teweeg te bring. Afrikaans is ’n lewensmag wat iets omtrent die oorlewing en florering van ’n identiteit in hierdie plek verteenwoordig. Laat dit enige vorm aanneem – hoe groter die verskeidenheid, hoe beter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top