Tien vrae: Mellet Moll oor Heilige Meetkunde, Swanesang en Nalewe.

  • 4

Skrywers oor hul nuwe boeke: Mellet Moll oor sy trilogie Heilige Meetkunde, Swanesang en Nalewe.

Wie/wat is jou muse? Waar ontspring ’n gedig, of dan die kiem vir hierdie uiteindelike onlangse digbundels, vir jou?

Vir my is die skryf van gedigte ’n intellektuele aktiwiteit. Dit is ’n proses van konseptualisering en ontwerp en die transformasie van idees totdat dit ’n estetiese en spiritueel besinnende kwaliteit het en gedigte daaruit gestalte vind. Ek skep nie gedigte nie, ek skep bundels. In daardie bundels speel tematiek ’n kritieke rol.

Ek besin oor ’n gedagte wat moontlik groot genoeg kan wees om ’n reeks gedigte binne die strekking daarvan te skep en oorweeg verskeie opsies wat as titel van so ’n bundel kan staan. Die wyse waarop ’n digter vernuwend met die taal omgaan, is vir my belangrik, dus soek ek na ’n titel wat meerduidig is en ’n tema bekendstel wat tegelyk tydloos en tydgeestig is. Hierna werk ek amper soos ’n prosaskrywer: ek beplan die hoofstukindelings en lys die moontlike gedigtitels waarmee ek die eksposisie van elke hoofstuk wil doen en maak notas onder elke gedigtitel. Omdat ek baie holisties ingestel is, is dit selfs moontlik dat ek meer as een so ’n bundel gelyktydig beplan en werk aan die een wat my op ’n spesifieke tydstip geval. Daarom dat my debuut uit drie dele bestaan.

Wanneer ek dan begin skryf, werk ek deur die lys titels en soek een uit wat ek ’n aptyt voor het. Ek doen baie navorsing vir ’n gedig en maak veral seker dat my feitelikheid oor die ruimtes, objekte en definisies korrek is. Soos wat enige kunstenaar dalk soms artefakte bymekaar maak vir potensiële gebruik in toekomstige kunswerke, het ek ook altyd ’n lang lys woorde, neologismes en beelde wat ek versamel en naby hou indien ek dit mag nodig kry.

Ek het gevind dat wanneer ek my milieu verander, dit nuwe gedagtes in my loswikkel. Dus reis ek graag en neem notas. Ek skryf nie noodwendig terwyl ek reis nie, want ek is te oorweldig, maar wanneer die idees inkubeer, lei dit tot varser poësie, veral dalk omdat ek andersins maklik in ’n groef beland waar my gedigte mettertyd homogeniseer.

Ek is bevoorreg dat my lewensmaat, Nini Bennett, ook ’n skrywer is en ons mekaar ondersteun wanneer die muse wegbly. Sy het ’n groot rol gespeel in my ontwikkeling en die vorming van my beskouing oor poësie.

Wat is die moeilikste deel van die digproses vir jou?

Die meeste digters met wie ek gesels het, het ’n soortgelyke verhaal: dat ’n mens oor jare baie gedigte skryf in die hoop om eendag iets daaruit te kan publiseer en dikwels langs daardie pad ’n punt bereik waar jy besef dat alles wat jy tot dusver gedoen het, van nul en gener waarde was. Dan skuif jy dit opsy en begin weer, miskien omdat jy op so ’n punt juis die volgende vlak bereik. Iewers langs die pad besef jy: jy kies nie poësie nie, sy kies jou. En sy is ’n selfsugtige, eiewyse en wispelturige minnares wat alles vra en niks teruggee nie en wat jou hele wese in ’n oogwink verwerp en skielik later teen jou been kom skuur totdat jy weer probeer. Ek het in die periode van 2002 tot 2012 elke aand van my lewe ’n gedig geskryf – dis ongeveer 5 000 gedigte. Ek het eendag besef dit was 5 000 maniere om nié ’n gedig te skryf nie en alles vernietig. Dit was terselfdertyd ’n goeie leerervaring. Die meeste digters sal getuig dat daar baie oomblikke is wat ’n mens tereg vra waarom jy dit doen – want daar is immers beter dinge om met jou tyd aan te vang. Ek het geleer ’n mens kan nie ervaring koop nie en digterskap het ’n onderliggende rypwordingsproses wat soos ’n blom oopvou op sy eie tyd en bloeiwyse. As ek dus iets moet uitsonder, is dit deursettingsvermoë.

Kom jy as digter soms te staan voor die “Kalahari’s wit papier”? Indien wel, hoe oorkom jy hierdie struikelblok?

Omdat ek my werk vooraf beplan en notas maak, is dit vir my redelik maklik om die skryfproses te loods. Die inherente risiko van my benadering is egter dat ek een of twee reëls neerskryf en daarna ontspoor die gedig. Ek het soms gedigte wat vir ’n lang tyd halfklaar in die werkswinkel lê en nie bevredigend vorder nie en uiteindelik disintegreer. Dit gebeur wanneer die oorspronklike idee nie genoegsame substansie ingehou het nie en ek tot die besef gekom het dat die gedig doodgebore is. Ek investeer baie van myself in ’n gedig, en wanneer dit onsuksesvol is, voel ek ontoereikend. Ek het geleer om hierdie gedigte sonder seremonie te begrawe, ’n dag of wat terug te staan en dan met ’n ander gedig te begin.

Op oomblikke soos hierdie doen dit my goed om poësie wat ek in die onlangse verlede geskryf het, deur te lees en my perspektief te herontdek.

Sou jy sê dat jy in jou digkuns fyner ingestel is op klank of op beeld; of is klank en beeld vir jou intiem verweef?

’n Goeie gedig bevat beide. Eerstens is die wyse waarop die digter die visuele stimuli verbeeld en metafories voorstel, die fondasie van die kreatiewe ontsluiting van die gedig. Oorspronklike woordkeuses wek nuwe beelde by die lesers op en daarom is dit die digter se taak om na neologismes te soek wat meerduidig is en aan die lesers die vryheid gee om hulle eie assosiasies te maak en veelvuldige beelde binne hulle individuele verwysingsraamwerke op te roep. Poësie is die mespunt van die taal – die eksperimentele domein waar die taal tot die uiterste ontgin kan word. Goeie poësie moet uiteindelik ook deel word van die idiomatiese leksikon van die taal.

Tweedens is ek geneig om gedigte te skep wat baie sterk staatmaak op struktuur. Ek is ’n ingenieur. Ek skryf nie gedigte nie, ek ontwerp hulle. Ek poog om aspekte soos metrum en die gepaardgaande heffings en dalings sodanig te enkodeer dat die leeservaring vloeiend en gemaklik is. Die deurdagte gebruik van enjambemente dra ook hiertoe by.

Het jy, nadat die manuskrip aanvaar is, in alle opsigte na jou redigeerder geluister?

Ek het, as nuweling, baie tekortkominge in my skryfstyl. Ek werk hard daaraan om seker te maak dat die werk wat vrygestel word, my beste moontlike werk is en so fyn as moontlik afgerond is. Daarom was dit noodsaaklik dat ek ’n stadium van afstand bereik het waar ek nie meer geheg was aan die gedigte nie en objektief kon staan, sodat ek die terugvoer van die redigeerder kon begryp en aanvaar. Ek het daarop gefokus om sekere gedigte te heroorweeg en het heelwat daarvan herskryf of vervang binne die riglyne wat die redigeerder verskaf het. Die bundels is ook vir spesialis-taalversorging gestuur, omdat ek soms leenwoorde uit vreemde tale gebruik en die nuutskepping van Afrikaanse ekwivalente vir hierdie woorde ’n studieveld op sigself is.

Skrywers het nie ’n pensioen nie, boeke maak meestal nie ryk nie. Waarom skryf jy?

Die meeste digters begin skryf om persoonlike verlies te verwerk. Dis ’n vorm van selfterapie (hoewel hierdie selfterapie nie noodwendig suksesvol is nie). Digters is nostalgiese individue wat die lewe uiters intens ervaar en ’n behoefte het om ’n stem aan hulle sielsverdriet te gee. Ek het ook daardie pad geloop en het vir jare gedigte geskryf waarin ek myself bejammer het en geteem het oor die onregverdigheid van die lewe en die onbereikbaarheid van ewige liefde. Ek het aanhou skryf en myself as’t ware déúr hierdie fase geskryf totdat ek eendag besef het dat as ek rondom my kyk, daar soveel belangriker sake is om oor te skryf as my eie geykte (en vervelige) ervarings. Ek het besef dat ek ’n vaardigheid ontwikkel het, maar dat ek heeltemal anders moes dink oor tematiek. Ek het geleer om te soek na tematiek wat nog nie voorheen verdig is nie, maar ek het steeds ’n reservoir emosie waarby ek kan intap (binne hierdie nuwe konteks) ten einde ’n reaksie op te wek by lesers.

Vandag skryf ek omdat ek nie volledig myself kan wees as ek nie gedigte skryf nie. Die groter prentjie van digterskap het vir my belangrik geword: dat ek nooit wil ophou groei in my digvaardighede nie; dat ek gehalte-werk probeer lewer; maar dat ek bo alles die tradisie van poësie met verantwoordelikheid wil dien en ’n positiewe bydrae wil lewer tot die nalatenskap van ons generasie tot die Afrikaanse taal.

Werk jy reeds weer aan ’n volgende manuskrip?

Ja. Ek het tydens die voltooiing van my vorige manuskripte baie gefokus op ruimtelikheid en die volhoubaarheid van die planeet. Dus het ek besluit ek wil ’n volledige studie maak van ekopoësie en ’n bundel saamstel wat die mensdom se verhouding met die aarde verwoord. As ingenieur beskik ek oor wetenskaplike kennis wat ek graag wil ontgin as bron van idees vir so ’n bundel. Terugskouend het ek agtergekom dat water ’n belangrike rolspeler in my vorige bundels is en dat dit die skilderdoek moet vorm vir die gedigte wat in wording is. Ek wil die bundel Waterdig noem.

Watter digters lees jy graag?

Vir my is die belangrikste digter van ons tyd die Sweedse digter Tomas Tranströmer. Die wyse waarop hy die desolate witgrys Nordiese landskap as agtergrond gebruik vir sy gedigte, is vir my besonder treffend, daarom hou ek daarvan om woordspelings met intertekste van hom te doen. Hierdie landskap vorm vir my ook ’n aanknopingspunt met ekopoësie.

In die Afrikaanse literêre geskiedenis staan twee name vir my bo die res uit: NP Van Wyk Louw en Breyten Breytenbach. Beide is vir my belangrike rigtingwysers, hoewel hulle digstyle uiteenlopend is. Louw simboliseer die besinnende aard van die digter. Sy werk het ’n strukturele gehalte wat min hom kan nadoen – ’n balans wat uniek en tydloos is. Breytenbach se vrydenkendheid, sy vermoë om beelde op te roep wat tegelyk surrealisties én esteties is, en die neologismes wat hy langs die pad skep, is uniek en maak hom een van die belangrikste digters in die wêreld.

Daar is ook ander digters wie se werk (en voorbeeld) vir my ligtorings in die verte is: Tom Gouws, Marlene van Niekerk, Louis Esterhuizen en Alfred Schaffer. Ek dink die manier waarop Susan Smith nuwe akademiese grond verken, is ook baie belangrik, omdat dit nuwe poëtiese tematiek ontsluit.

Volg jy Poolshoogte? Wat sien jý, vanuit jou uitsig oor die Afrikaanse letterkunde, as jy terugkyk?

Ek dink die konsep om ’n virtuele gespreksruimte te skep waar deelnemers referate aan die belangstellendes lewer, is noodsaaklik in die groter diskoers.

Die stand van die taal is ’n barometer van die stand van die samelewing. Die Afrikaanse taal en die historiese ontvouing van die Afrikaanssprekende gemeenskap het nog altyd ’n simbiotiese verhouding gehad. Omdat die geskiedenis van die Afrikaanse taal verweef is met die politieke aspirasies en ekskursies van Afrikaanssprekendes, was die Afrikaanse taaldebat nog altyd plofbaar en emosioneel. Dit het oorgedra tot die literêre tradisie en het gelei tot baie groeperings en beskouings en dikwels baie venyn in die wyse waarop ons letterkunde beoordeel.

As jy omdraai en jy kyk vorentoe, hoe lyk die landskap nou?

In die huidige Zeitgeist vind ons dalk vandag vir die eerste keer ’n realisme in die beskouing en aspirasies van Afrikaanssprekendes en dalk depolitiseer die taal nou vir die eerste keer ooit. Dit het jare geneem om by hierdie punt te kom: die Afrikaanssprekendes het beweeg vanaf ’n amperse arrogansie in die ou Suid-Afrika na ’n bevrydingsfase waar almal graag uit die hangkas wou klim en die f-woord wou gebruik, na ’n fase van ontnugtering en identiteitloosheid in die moderne bedeling, tot waar ons vandag is en die besef dalk deurdring dat ons onsself moet aanvaar ten spyte van wie ons is of hoe ons hier gekom het. Ons is dalk nou vir die eerste keer volwasse.

Terselfdertyd bevind skrywers hulle dalk nog gedeeltelik in ’n vakuum, omdat die realiteite van die dag nuwe denke verg en veral vereis dat ons aanbeweeg van die geneigdheid tot sinisme of middeljarige neerslagtigheid as ons vooruit wil gaan.

Dit gee ons miskien vir die eerste keer die perspektief om in pas te kom met die res van die wêreld en op universele sake te fokus eerder as om altyd net die onmiddellike omgewing raak te sien. As bedryfsingenieur verstaan ek goed hoe industrieë van binne herskik om in ewewig met die makro-omgewing te bly. Vir my as digter hou dit ’n vryheid in wat nooit voorheen bestaan het nie.

Ek wens ek kon ’n Afrikaanse roman of digbundel uit die jaar 2050 in my hande vashou. Miskien sou ons almal verstom wees oor wat daarin sou staan.

Hier is 'n foto van Mellet Moll se werkspasie:

  • 4

Kommentaar

  • Baie geluk met puik onderhoud en 'n driekuns-debuut! Vir diegene wat belangstel: die bekendstellingsgeleentheid van "Heilige Meetkunde", "Swanesange" en "Nalewe" is eerskomende Vrydagaand, 31 Oktober om 19:00 by Somerbosch (R44, Stellenbosch). 

  • Graag wil ek hiermee baie geluk sê aan Mellet Moll met die bekendstelling van hierdie ongelooflike werke. Ek weet hoeveel deuresetting en toewyding hy deurgaans onder uiters moeilike omstandighede aan die dag moes lê om gestalte te kon gee aan hierdie driekuns van goud, mirre en wierook. Ek is trots op jou Mellet. Mag die 'Heilige meetkunde' in glorieryke, simfoniese 'Swanesange' vir ewig voortleef in 'n 'Nalewe' en ons sodoende herinner aan ons nietigheid as tydgenote. Beste wense. Mel Botes.      

  • Alice Hendriks-Boshoff

    Hartlik geluk met so 'n sinvolle, insiggewende en leersame onderhoud, Mellet Moll. So 'n driekuns-debuut is sonderling en die gedigte daarin vervat, is 'n sieraad en aanwins vir ons taal, Afrikaans.

  • Lieze Stassen

    Baie geluk met hierdie groot werk van jou, Mellet. Ek kan nie uitgelees raak nie. Dankie ook vir 'n heerlike onderhoud. Ek wens jou net alle sukses toe. Seënwense - Lieze

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top