Tien vrae: Fanie Viljoen oor Prooi

  • 0

Prooi
Fanie Viljoen
LAPA-Uitgewers
ISBN: 9780799375169

Skrywers oor hul nuwe boeke: Fanie Viljoen oor Prooi

Fanie, jy het al so baie in verskillende genres geskryf, maar Prooi is jou eerste boek vir volwassenes. Vertel my asseblief hiervan.

Prooi was aanvanklik bedoel vir ouer tieners, maar veral die finale tonele waarop die verhaal afstuur, het gevra vir ’n ouer leser. Ek het daarom op advies van my jeugverhaaluitgewer die boek verander vir die volwassenemark. Die karakters is ook ouer gemaak en die storielyn sterker.

In kort is daar die klassieke driehoekverhouding: Cody Young is die rokjagter wat op soek is na sin in sy lewe; Owen Jooste is die hokvegter wat wil wegbreek van sy verlede en sy toekomsdrome wil najaag; en tussen hulle is die sensuele Lauren Cooper, wat op ’n pad van selfvernietiging beland.

Die bestaan, al dan nie, van ‘n boheemse nagklub, Black Valentine, dryf die spanning tot ’n klimaks.

Was dit moeiliker of makliker om vir volwassenes te skryf, en hoekom?

Ek dink nie dit gaan oor makliker of moeiliker nie. Jy kan ’n meer verwikkelde verhaal vir volwassenes skryf en jy het die vryheid om meer te waag met die roman, veral met die sensuele.

Is jou perspektief uit dié van die prooi, of die van die jagter/predator?

Die perspektief het iets van albei. Die jagter weet natuurlik hy jag, maar die prooi weet nie of hy of sy gejag word nie. Dit help om die spanning snaarstyf te span.

Het jy, nadat die manuskrip aanvaar is, in alle opsigte na jou redigeerder geluister?

Redigeerders is verskriklik belangrik. Ek het die meeste voorstelle aanvaar en gebruik. Maar uiteindelik is dit jou boek en moet jy tevrede wees met wat op die bladsy beland.

Dink jy kinders, tieners of volwassenes is die mees kritiese lesers?

Ek het ’n vermoede volwassenes sal meer kritiese lesers wees, veral as hulle baie belese is. Ek sien uit na die reaksie.

Werk jy reeds weer aan ’n volgende manuskrip (en vir wie)?

Daar is alreeds drie jeugverhale in verskillende stadiums van voltooiing. En ek dink ook aan die volgende twee wat ek nog wil skryf.

Watter onlangse flieks het jy geniet?

Whiplash was ’n briljante fliek oor deursettingsvermoë, mag en die soeke na die grense van talent.

Wat is die lekkerste ding vir jou in die lewe - en die lekkerste ding vir jou storie se hoofkarakter? En die moeilikste (vir julle albei)?

Musiek, skryf en koffie is vreeslik lekker. Die moeilikste is om af te skakel terwyl soveel idees nog in jou kop dwaal. Vir Prooi se Cody sou seks seker die lekkerste wees, en die verlorenheid daarna die slegste. Owen leef vir Lauren, maar voel verpletter wanneer die liefde wankel. En Lauren ... lees die boek en sien.

Ons weet nou Prooi is gemik op volwassenes, maar dis nogal 'n groot groep uiteenlopende mense ... Wie's jou ideale leser?

Enige leser wat hou van spanningsverhale met ’n donker kant.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top