Thom met een “Tei” en een “Ha”

  • 0

“Ik ben Thom Postma, met een 'Tei' en een 'Ha'!”, het Thom homself aan Pa voorgestel. Dit was in die middel vyftigerjare waar Pa as 'n jong meganiese ingenieur by die Spoorweg begin werk het.

Thom was 'n meganiese tekenaar vars uit Holland gewees. Hy verduidelik sy teenwoordigheid in Suid-Afrika op Engels: “And I said to Mr Emsley, Mr Emsley, I joined the Railways because I'm interesting!”

Die kort mannetjie se humeur en kleurvolle uitbarstings het tot gevolg gehad dat hy telkemale die slagoffer van een of ander poets was wat sy kollegas hom gebak het. Pa het natuurlik die voortou daarmee geneem.

Die details van die poetse kan ek nie onthou nie, maar Thom se woorde het Pa so baie vir ons vertel dat ek dit nooit sal vergeet nie.

“Jan!” skree Thom eendag verontwaardig, “Ik zal je slaan dat je tanden twee-twee op de maat van de Wilhelm mars in je keelgat afmarjeer en je ziel door de traliewerken van je ribbekast koekeloer!”

Pa en sy kollegas het op die vloer rondgekruip soos hulle gelag het.

'n Jong vakleerling maak eendag droog, en Thom sug moedeloos: “Mag een zwarte, harige hond in je keelgat afkruip en op je hart gaat zitten dat je ziel in de eeuwige verdoemenis blaffen!”

Thom was 'n harde werker, en kon luiheid nie verdra nie. As iemand rondgestaan het met niks om te doen nie het hy hom gou aangepor: “Voor wat sta je daar met je vinger in je neus snot te vreten? Je bent net zo een donderse grote loafer als het Statue of Liberty!”

Jare later was Pa al afgetree en op sy plaas. Ons het nooit weer iets van Thom gehoor nie, behalwe Pa se vertellinge.

Hier in die 1990's loop my broer Adam in Burnettstraat af verby Hatfield Galleries. Hy sien 'n kort mannetjie peil reg op hom af. Eers wou hy links verby, maar die mannetjie mik ook soontoe. Draai hy regs, dan draai die mannetjie ook. Toe hy by hom kom steek die mannetjie sy hand uit om te groet: “Hallo Jan!”

“U moet Meneer Thom Postma wees. U verwar my seker met my pa, Jan Barnard?” sê Adam.

“Ik wilde zeggen de postuur is iets anders, maar het gezicht is helemaal hetzelfde!” antwoord hy.

Alhoewel dit die eerste keer was wat hulle ontmoet het, kon hulle soos ou bekendes gesels. Suid-Afrika se immigrante uit die jare 50 en 60 het gehelp om dit 'n kleurvolle plek te maak.

Sandvelder

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top