Terugdink

  • 0

Het maar innie week gelas vir my klong se PSP. Is self lankal nie meer verbaas oor hoe klein die tegnologie geword het. Die eerste drie sekondes van "God of War" is tien teen een veel meer as die tegnologie wat ek in my eerste 20 jaar beleef het gesamentlik. Toe stuur Rita vir my hierdie terugblik-e-pos en ek wonder of ons vorentoe of half skuins al glyende al awwer beweeg?

Want ek moes lank met my twee voete loop voor ek my eerste fiets kon bekostig. So 'n swart dikwiel gevaarte. Met terug handsvatsels wat jy moes terug trap as jy wou rem. Televisie was daar doodgewoon nie en ek beduie vir my klogoete dit en hulle kyk my oopbek aan asof ek lieg. Want nou het elke vertrek 'n televisie met die keuse tussen Top TV en DStv en die gemors wat SABC en e-TV probeer opdis aan die malende massas.

Melk het nie in karton aangekom nie maar in glasbottels. Saans is die koeponne in die bottel gesit en vroegoggend het jy die komberse stywer om jou getrek as jy die melkman op die stoep hoor. Nou skiet jy of ADT as enigiets buiten insekte op jou stoep roer.

Rita praat van "take-away's" en "fast food". Ons het die Griek op die hoek se slaptjips geken, en as jy genoeg kon afknyp kon jy nog boonop een van daai olierige Russians bekostig en 'n tien sent oorhê vir die pinballmasjien wat alte gereeld tilt. Daar was wel Kentucky Fried Chicken maar dit was te ver buite loopafstand en net bestem vir speiale dae. Buitendien, dit was toe hulle nog Chicken bedien het. Ek wonder lankal oor die naamsverandering maar wonder nie meer nie, want die arme goed wat deesdae geslag word kan mens mossie Hoender noem nie?

Sure, politici het gelieg en bedrieg, en is nooit, soos vandag so maklik uitgevang nie. Sure, Mike's Kitchen se plestiek tafeldoeke is nou lelike soort van kitch en die Spur is nie regtig meer 'n plek waar pa sy familie eenkeer in ses maande kan treat met 'n steak nie. Sure, dinge het oornag sommer in 'n gedagte verander en sekerlik verbeter. Sure die dae van boeke en rondsnuffel vir kennis is vervang deur die Magiese en alwetende Google. Sure, elke ou is deesdae 'n ekspert op elke gebied as hy sy Blackberry byderhand het. Soos ons annerdag sit en gesels en soos dinge mos maar gaan aan die stry raak oor iets. En die lekker stryery met die druk van 'n paar knoppies uit die weg geruim word want wie kan dan nou stry met 'n konglomeraat soos Google?

Ek beduie vir my klong toe ons uit die CNA uitstap dat hy sal moet tyd insit vir die paar honderd rand wat hy ekstra gekry het. Hy beduie vir my dat hy dit mos in elk geval doen en ek beduie vir hom oor arbeid wat nie net edel is nie maar wat jou arms sterk maak ingeval jy dit dalk nodig het. Dat harde werk jou darem genoeg tyd bedags gun om te dink en te probeer ontsyfer. Wat jou laat dink hoe om iets beter en makliker en vinniger te doen en dis toe hy die logika vorendag bring: Maar dis dan presies wat ons deesdae het, pa: Ons het mos nou die vinnige maniere sodat ons nie so hard hoef te werk nie. Ek moes dink voor ek kon antwoord want ek weet dat die standaard designer horlosie aan die armste drenkeling se arm tien teen een meer in die mikroskyfie iewers in die werke weggesteek het as die totale tegnologie wat bestaan het om die eerste man op die maan te plaas.

Tog: dit is 'n paar dekades later en steeds is die nuutste planne om 'n man daar te laat loop bloot net planne en sal vir alle praktiese doeleindes vir nog 'n paar dekades so bly.

Hy kla oor die blase op sy hanne en ek ys as die magiese "Staat" eendag op my moet neerkom dat ek 'n kind laat werk. Ek kyk na sy skouers en sien die bulte op sy arms en ek besef dat ek en hy darem op Virgin Active sal bespaar eendag.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top