Terug weens populêre navraag: Shaleen Surtie-Richards as Shirley Valentine

  • 0
Shaleen Surtey-Richards (Foto: dieboer.com)

Kan daar 'n meer perfekte Shirley Valentine as Shaleen Surtie-Richards wees? Sy vertel vir Naomi Meyer van identiteitskrisisse en van die bietjie Shirley in ons almal.

Hallo Shaleen. As aktrise ken mense jou as Fiela; hulle ken jou as aktrise van Egoli. En voel jy nou al soos Shirley Valentine?

Jong, mens kry soms ’n identiteitskrisis met elke rol wat jy vertolk. Mense het my al op dieselfde dag gegroet as Fiela Nenna Shirley en Fran, to name but ’n few. Shirley is al soos ’n suster.

Shirley Valentine is in Liverpool gebore, en sy woon in ’n werkersklasomgewing. Sy’s moeg daarvoor om haar vir haar man af te sloof. Wie’s jóú Shirley Valentine?

Baie, baie vroue wat ek ken is Shirleys. Soms kom vroue backstage huilend en sê ek’t hulle lewens so pas uitgespeel.

Ek dink daar’s ’n bietjie Shirley in elkeen van ons.

Wat is vir jou lekker van die karakter en wat is vir jou moeilik van die rol?

Om Shirley te kan speel is ’n belewenis, ’n uitdaging. Ek wórd Shirley. Ek ken haar pyn, haar eerlikheid, haar hele lewe. Dis ’n fees en voorreg om Shirley te kan wees. Niks omtrent haar is vir my moeilik nie.

Wat is vir jou raakpunte tussen jou karakters wat jy al gespeel het?

Raakpunte? Jong, ek weet nie, maar elke karakter wat ek speel, probeer ek so eerlik moontlik vertolk. Ek is bevoorreg om soveel fenomenale karakters te kon vertolk het. Solank die gehore iets kan saamneem en met iets kan identifiseer, dan is ek happy. Sjoe, dis te baie om op te noem.

Laat ek byvoeg ek het al toekennings ontvang vir die meeste van hulle wat ek al vertolk het.

Wat is die slegste ding daarvan om ’n aktrise te wees?

Mens se lewe is nie meer jou eie nie. Soms verkoop jy amper jou siel vir jou werk. Jou privaatheid is min. Soms verbrokkel huwelike en die teater word jou life partner.

Mens werk jou disnis – byvoorbeeld ek het Sondag 22 Julie klaargemaak met 29 vertonings van die Cape Town Funny Festival. Toe vlieg ek die Maandag Knysna toe vir ’n movie en stap daai selle dag nog op stel. Roeptyd amper elke oggend.

Gisteraand het ek teruggevlieg vir Inniebos. Sondag terug Johannesburg toe om vandag Nelspruit toe. Need I say more?

Die Boer Teaterrestaurant
Shirley Valentine met Shaleen Surtie-Richards
2 Augustus 2014
Prys: R140
20h30
Hier is nog inligting.


 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top