Teaterresensie: Vanya and Sonia and Masha and Spike

  • 0

Vanya and Sonia and Masha and Spike

deur Christopher Durang
Met Michael Richard, Louise Saint-Claire, Bo Petersen, Richard Gau, Emilie Owen en Kensiwe Tshabalala.
Regie: Bobby Heaney
’n Pieter Toerien-produksie in The Theatre On The Bay. Tot 6 September.

In die huis langs die sogenaamde kersieboord  met ’n uitsig op die paddadam klink woeste klanke op. As dit nie koffiebekers is wat flenters gegooi word deur ’n dalk bipolêre ouerige dame (Bo Petersen) nie,  is dit  huishulp Cassandra (Kensiwe Tshabalala) wat wild en geanimeerd doemprofesieë bulder. Later span sy ’n voedoepop in om ’n gekreun in die slaapkamer te veroorsaak – nie meer van seksuele genot nie. (Tshabalala se energieke speelstyl sit woema in die opvoering. Weens die aksent verstaan ’n mens ongelukkig nie elke woord nie.)

Anders as dié dreiging klink die reklametaal waarmee dié Amerikaanse komedie uit Johannesburg na Kampsbaai kom, sterk verleidelik. ’n Mens is dalk erg gespanne, oorhoops met allerlei probleme, en nou kan jy jou laat meevoer deur ’n hoogs ervare dramaturg se “swart komedie” uit 2012 wat verlede jaar al vyf keer bekroon is oorsee. Dis “a glorious treat”; “deliriously funny”, word verkondig. Daar’s ’n paar belangrike senior spelers in die rolbesetting en jeugdiges wat glo sorg vir wellus. Tegnies goed versorg.

Iets dan oor die inhoud, omdat dit nog ’n betreklik nuwe werk is.

Liewe Vanya (Michael Richard) het nie ’n besonder lekker oggend saam met sus Sonia (Bo Petersen) nie.


Vanya en Sonia vroegoggend

Hulle is nie rêrig familie nie. Die professorale ouers het haar aangeneem. Ons hoor dit her-haal-de-lik. Dis sy wat so koffiebekers gooi. Sy bekla haar lewenslot. Sy’s ’n wildekalkoen ... ja, ’n wildekalkoen. Sy gaan sit in ’n boom, maar dan val sy, die wildekalkoen, daar af.

Hulle twee is bedremmeldes met min vooruitsigte. Sonder werk, sonder liefde. Maar Vanya is ’n  gay wat mooi versigtig is, maar jy moet darem nie te erg op sy tone trap nie. Dan kan hy ’n lang tirade lewer oor kulturele agteruitgang.

Hulle het hulle lewens gewy aan die versorging van Vader en Moeder tot aan hulle dood. Ja, dié twee intellektuele was nou betrokke by amateurteater. Hulle het geglo dat allerlei klassieke werke opgevoer moet word. Hulle gee hulle kinders die name van Tsjechof-karakters. So heet die ware suster byvoorbeeld Masha (Louise Saint-Claire). En dis sy wat onverwags opdaag en nou’s dit drama-drama, soos Cassandra telkens aankondig. Masha is die eintlik clichéagtige rolprentster (seker aanvaarbaar in ’n komedie): selfgesentreerd, oordonderend; het vyf mislukte huwelike agter die blad. Haar roem is aan die taan. Sy kommandeer almal op vir ’n kostuumpartytjie by invloedryke bure. Almal moet háár ondersteun. Sy gaan Sneeuwitjie wees. Belangrik: soos in die Walt Disney-weergawe. Dit sal ook blyk dat sy die huis wil verkoop. Nog ’n tragedie in Vanya en Sonia se lewens. Maar ... was Masha nie tog al die jare van hulle opofferende versorging van die ouers nie húlle redding nie? Sy wat vir alles betaal het?

Die “almal” wat moet saamspeel, sluit in Spike (Richard Gau), Masha se katelknaap en nie juis ’n briljant suksesvolle akteur nie. Ja, maar hy’s knap met klere uittrek ... tot by sy onderbroek. Hy kan vir jou ’n agterstevoor ontkleedans onverbeterlik doen! Wat hy nie alles met ’n broekgordel tussen sy bene doen nie! Briljant is daardie toneel toe hy deinende golwe op sy maag maak voor Nina (Emilie Owen).

Nina is die jong skoonheid wat ook gehore wil meevoer. Sy bewonder en bewierook Masha. Voorlopig “behaal sy sukses” as Molekule in Vanya se simbolistiese drama. Sy het die oom aangemoedig om dit tog voor ’n groepie hopelik goedgesindes te laat lees. Soos Tsjechof self gedoen het. Die toneelstuk deur Konstantin, ’n karakter in Die seemeeu, was tematies verwant, maar in ’n meer gevorderde staat. Net wanneer ’n mens vir Nina as maar ook ’n stereotipe begin ervaar, kom sy in die simpatieke geselskap van oom Vanya met ’n paar goeie kwinkslae na vore. Veral onverwags oor Spike.

Louise Saint-Claire (Masha), Bo Petersen (Sonia) en Michael Richard (Vanya)

Die einde kom vinnig. Masha ontdek dat Spike nie te vertrou is nie. Tjoef-tjaf jaag sy hom weg. Dinge kan weer normaal raak. Die bloureier mag maar kom land by die paddadam.

Maar voor die einde, op die oggend ná die partytjie  waar Masha nié sukses behaal het as ’n nogal lywige herderin van ’n Sneeuwitjie nie, is daar ’n hoogtepunt. In die oorsese resensies word Sonia ook lof toegeswaai, eers vir haar nabootsing die vorige aand van Maggi Smith by ’n Oscar-geleentheid, maar nou ook vir die lewensegte voorstelling van ’n telefoongesprek met ’n onbekende man wat haar wil verlei tot ’n afspraak. Die wildekalkoen is raakgesien! Sy is so eerlik met hom, verduidelik dat hy sekerlik aangetrokke is tot Maggi Smith met haar lieftallige, hoge Engels. (Ek wonder hoe eg hierdie soet, kwinkelerende klanke vir Smith is; Sonia se eie donker tone is mos nader aan die meer gebruiklike spraak van Maggi? Maar die partytjiegangers sou dalk nie kenners gewees het nie en sou, soos Masha nydig verklaar, meer geval het vir die blinkers op die tabberd.)         

Heerlik die draaie en swaaie in die gesprek wat ’n mens net van haar kant aanhoor; jy sien en hoor hoe sy haar teësit, vermoed sy flikflooiery en hoe sy déúr dit sien. Bo Petersen se stilspel aan die einde van die monoloog wanneer sy soveel triomfgedagtes gekontroleerd oorsein, is die soort pragoomblikke wat ’n mens bybly.

Daar sal seker verskillende reaksies wees op Vanya se lang tirade met al die herhalings oor die moderne lewe met al die sosiale netwerke versus die langsamer kommunikasie in sý jeug, die jare vyftig van “seëls lek”. Vir sy tydgenote is dit bekende gegewens; hulle sal dalk saamstem, maar regtig geboei raak? En dié “skuldiges” van die internettyd – jonges én byderwetse oueres – wat  soos Spike aanhoudend meer as een ding tegelyk doen en blykbaar nie werklik aandagtig raak nie? (Ek skram weg van die gonswoord “multi-tasking”.) Sal hulle nie geïrriteerd raak nie? Die betigting van Spike het net aangehou!

Ek het gewonder hoekom ek nie juis meegevoer is deur hierdie vermenging van komedie en erns nie.

Die talle toespelings op Tsjechof se werk, die foutiewe aanhalings of meer noukeuriges – watter doel het dit? Om nogmaals ’n oorbekende gedagte in te hamer? Dat die mensdom al die eeue basies dieselfde bly? Soos DJ Opperman dit in “Blom en baaierd”stel: “Maar boos bly boos in Brakfontein of Neo-Baäl,/ en goed is goed by Golgota of Brussel;/ en deur die eeue is dit reeds bepaal:/ die plek en spelers sal voortdurend wissel/ maar die spel word telkens in die tyd herhaal.” Reza de Wet se aansluiting by Tsjechof in Drie susters twee, Yelena en On the lake is op ’n baie hoër vlak. In resensies (aangehaal in Wikipedia) word genoem dat jy nie die Russiese meester se werk hoef te ken om hierdie toneelstuk te waardeer nie. Sou ’n stuk sonder die bemoeienis  met Tsjechof nie gewoon oorspronkliker gewees het nie?

Die teks is verder vir my oorverduidelikend en met talle herseggings, asof dit veral bedoel is vir mense wat “gevoer” moet word. Die herhalings is seker bedoel as karakteriserend van die twee ouer personasies, maar sorg dit vir opwindende teater? Soms is dit asof die karakters ter wille van die gehoor dinge vir mekaar sê wat húlle al bitter lank weet. Toe lees ek Brian Scott Lipton op Theatremania.com (12.11.2012); hy beweer dat die stuk “quite funny” is, “but also belabored and ‘scattershot’”. Ben Brantley bevind in die New York Times die stuk is “blander and thinner (than)” Durang se ander meer absurde werk.

Met die aand van die derde opvoering was daar nie ’n oorweldigende ovasie nie;  seker drie, vier persone het opgestaan om applous te gee.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top