Taal is die sleutel tot die kennisekonomie

  • 0
Toespraak gelewer deur Christo van der Rheede tydens die ATR se Kokertoekennings aan persone wat ’n groot bydrae gelewer het tot bemagtiging deur, en bevordering en beskerming van, Afrikaans te Potchefstroom.

Werk en welvaart is sleuteluitdagings vir alle samelewings. Geen ontwikkeling is moontlik indien daar nie werk en welvaart is nie. Wat die stand van werk en welvaart in Suid-Afrika aanbetref, lyk die prentjie maar donker. In sy onlangse mediumtermynbegrotingstoespraak skets die minister van finansies, Nhlanhla Nene, ’n somber prentjie.

Die ekonomiese groeikoers vir die afgelope jaar word op 1,4% geraam. Aan die internasionale front is ekonomiese herstel nie te waffers nie en die vraag na en prys van Suid-Afrikaanse kommoditeite is besig om af te plat. Verder word ekonomiese groei plaaslik deur allerlei strukturele uitdagings aan bande gelê en die staatskas se vermoë om Suid-Afrika se omvattende sosiale en ekonomiese programme te finansier, kom toenemend in gedrang. Boonop loop ons die gevaar dat stygende skuldvlakke al hoe meer geld in die toekoms gaan absorbeer wat vir ontwikkeling geoormerk is.

Dit kan ons land nie bekostig nie, want dit is slegs ontwikkeling wat werk en welvaart meebring. In die afwesigheid van ontwikkeling floreer armoede, hongersnood, geweld, wanorde, sosiale onrus, kriminaliteit, allerlei epidemies, dwelmmisbruik en korrupsie. Met ’n pragmatiese en doelgerigte ontwikkelingsplan, en samewerking oor ’n breë spektrum heen om die plan te laat werk, kan enige land op ’n doelgerigte wyse ontwikkeling teweeg bring. Taiwan is ’n sprekende voorbeeld van wat ’n land kan vermag as dit ’n ontwikkelingsplan het en ’n gunstige omgewing daarstel waarin die sakesektor kan gedy.

Suid-Afrika se plan, bekend as die Nasionale Ontwikkelingsplan, bied ’n enorme geleentheid vir volhoubare ontwikkeling, werk en welvaart. Konsensus wat die doelwitte en uitvoering van hierdie plan deur die regering en alle ander rolspelers in die sake-, arbeid- asook gemeenskapsektor aanbetref, bly egter maar ’n tameletjie. Die belyning van die doelwitte van die mediumtermynbegroting met die uitkomste van die Nasionale Ontwikkelingsplan moet daarom verwelkom word.

Terwyl beide die noodsaaklikheid van investering en produktiwiteit teenoor verbruik en afhanklikheid van die staat beklemtoon word, omskryf die mediumtermynbegroting 14 uitkomste, elk met sy eie projekte en ’n begroting.

Van die belangrikste uitkomste behels gehalte-onderwys, ’n effektiewe, mededingende en responsiewe ekonomiese infrastruktuurnetwerk, ’n effektiewe en ontwikkelingsgerigte staatsmasjinerie, asook ’n gedeelde nasionale identiteit en ’n nasie verenig in hul diversiteit.

Ten einde laasgenoemde uitkoms te realiseer het minister Nene ’n bedrag van R30 miljard, sowat 6,2% van die totale mediumtermynbegroting, aan die kunste, sport, ontspanning en kultuur toegewys. Vir onderwys beloop die bedrag R640 miljard oor ’n periode van drie jaar, sowat 15% van die totale begroting.

Sal hierdie investerings in die kultuur en onderwys wel tot werk en welvaart bydra? Dit is die vraag op almal se lippe.

Om dit egter na behore te beantwoord, is dit belangrik om die rol van taal in die onderwys en op kultuurgebied na behore te verstaan. Dit is nie net ’n kommunikasiemedium nie, maar ook die hoof ekonomiese bestanddeel van ’n wye verskeidenheid taalkommoditeite of taalprodukte en -dienste wat deur velerlei sektore bemark word.

Onder andere behels dit die volgende sektore: kennisekonomie, kommunikasie, onderwys en opleiding, tweedetaalonderrig, publikasie, reklame, televisie, film, radio, musiek, toerisme, inheemse kruie, kunstefeeste, tradisionele drag en argitektuur, inheemse kookkuns, kommunikasiepatologie, versekering, kontaksentra, uitvoerende kunste, ontwerp, taalpraktisyns, sagteware, kunsvlyt, visuele kuns, kultuurgeriewe en erfenis. Die wye verskeidenheid dienste en produkte wat deur hierdie sektore na die mark gebring word, benut taal en kultuur óf as primêre hulpbronne óf as mediums van ontwikkeling, of as bronne van kreatiewe inspirasie.

Werk en welvaart word dus geskep deur die vraag na, en die produksie en ekonomiese waarde van, taal- en taalverwante kommoditeite wat deur verskeie kulturele sektore na die mark gebring word. Hierdie sektore dien ook as broeikas vir kreatiewe en nuwe idees wat neerslag in die kennisekonomie vind.

Die inslag van taal en kreatiewe denke op die kennisekonomie is duidelik waarneembaar in die ontwikkeling van nuwe tegnologiese produkte en daarmee saam die ontwikkeling van nuwe woorde om die nuutste tegnologie en tendense te beskryf. Dink maar aan Facebook en Twitter en vele ander woorde, soos muis en wolk, wat in die inligtingstegnologie nuwe betekenis kry. Adam Smith, die beroemde Skotse filosoof en ekonoom wat allerweë beskou word as die grondlegger van ekonomiese ontwikkeling in ’n omgewing waar handel vry en mededingend kan geskied, het reeds in die 18de eeu die ontstaan van taal in verband gebring met mense se ingebore strewe om in mekaar se behoeftes te voorsien en om sodoende werk en welvaart vir eiebelang te bekom.

Verder bied die filosofiese en markgerigte verband wat Adam Smith tussen taal, werk en welvaart veronderstel, baie moontlikhede vir groter integrasie tussen die kennisekonomie en die kultuurbedryf. ’n Studie van Unesco wat fokus op die meet van die ekonomiese bydrae van die kultuurbedryf, beskryf die verwantskap soos volg: “Cultural industries are increasingly becoming important components of the modern economy and knowledge-based society due to their impact on the enrichment of development.”

Hierdie nuwe ontwikkelingsparadigma vir ekonomiese en sosiale ontwikkeling vereis egter hoë vlakke van kennis, kreatiwiteit, oorspronklikheid en vaardighede. Meer nog vra dit omvattende investering deur die staat, optimale funksionering van staatsinstellings verantwoordelik vir beleid van toepassing op die kultuurbedryf en ’n ingeligte amptenary wat die potensiaal vir werk en welvaart deur taal en die kunste verstaan.

Hierdie potensiaal word duidelik uitgelig in die visie en missie van die Suid-Afrikaanse nasionale Departement van Kuns en Kultuur. Die visie beklemtoon die belangrikheid van die kultuurbedryf in terme van volhoubare ekonomiese ontwikkeling, terwyl die missie werkskepping teweeg wil bring. ’n Baie ambisieuse teiken van 150 000 werksgeleenthede in die kultuurbedryf word ook deur die Departement van Kuns en Kultuur in die vooruitsig gestel. Nie veel word egter in taal, die vernaamste boublok van die kultuurbedryf, geïnvesteer nie.

Die departement se “Mzansi’s Golden Economy”-strategie ontleed ook in besonderhede hoe werk en welvaart deur die kultuurbedryf geskep kan word. Waar staan Suid-Afrika vandag egter met hierdie strategie wat die kultuurbedryf vergelyk met ’n edelmetaal soos goud, maar die hoofbestanddeel, taal, onderbeklemtoon en die Talewet wat dit rugsteun nie na behore implementeer nie?

Nog ’n rolspeler wat die potensiaal vir werk en welvaart deur taal en die kunste verstaan, is die Departement van Handel en Nywerheid. Van die stappe wat reeds deur die betrokke departement gedoen is, behels navorsing in samewerking met die Wêreld Intellektuele-eiendomsregorganisasie (WIPO) en die subsidiëring van die film-, televisie-, musiek- en kunsvlytbedryf deur middel van hul industriëlebeleid-aksieplan (IPAP).

Wat laasgenoemde aanbetref, word heelwat finansieringsgeleenthede deur middel van die departement se industriëlebeleid-aksieplan aan die film-, televisie-, musiek- en kunsvlytbedryf verskaf. Die Suid-Afrikaanse filmbedryf het byvoorbeeld tussen 2008 en 2012 R8 miljard tot die ekonomie bygedra. Werkskepping en die ontwikkeling van die plaaslike ekonomie is van die kernoorwegings vir die toewysing van fondse deur die Departement Handel en Nywerheid.

Navorsing wat deur die departement rakende die ekonomiese bydrae van kopiereggebaseerde bedrywe in Suid-Afrika in 2012 vrygestel is, dui daarop dat dit ’n sterk bydrae tot die nasionale ekonomie lewer. Suid-Afrikaanse kopieregbedrywe se bydrae tot die bruto binnelandse produk (BBP) beloop sowat 4,11% en tot werkskepping 4,08%. Kopieregbedrywe sluit in alle aktiwiteite en bedrywe betrokke by die skep, produksie en vervaardiging, optrede, uitsaai, kommunikasie, uitstalling, verspreiding en verkoop van werke en ander beskermde inhoud.

Wat die kopieregbedryf aanbetref, speel taal ook ’n uiters belangrike rol. Die jaarlikse Pendoringtoekennings aan gehalte Afrikaanse advertensies is ’n sprekende voorbeeld van die vernuwende en skeppende aanwending van taal om ’n produk of diens te bemark.

Verder is daar ook ’n sterk korrelasie tussen Afrikaans se bydrae tot werk en welvaart en die stand van ontwikkeling in veral die Afrikaanssprekende gemeenskap. Dit is duidelik waarneembaar in die verskillende sektore waarin Afrikaans die kernaandrywer is. Indien enige van hierdie bedrywe sou moes afskaal vanweë ’n afname in vraag en aanbod, hou dit enorme implikasies vir werk en welvaart in die Afrikaanse gemeenskap in.

Die uitbou, handhawing en kreatiewe aanwending van Afrikaans is dus van kritieke belang, daarom moet almal wat werk en welvaart in Afrikaans skep, saamstaan vir die behoud van Afrikaans as ’n onderrigtaal op skool asook op naskoolse vlak. Sonder taal en ’n vraag na taalkommoditeite sal die kultuurbedryf, en daarmee saam die kopieregbedryf, nie kan voortbestaan nie. Erger nog in die afwesigheid van ’n broeikas waarin kreatiwiteit en nuwe denke neerslag vind, sal die kennisekonomie ook nie in Suid-Afrika kan gedy nie en sal ons net verbruikers bly, terwyl die geleenthede vir welvaartskepping in die kennisekonomie by ons verby glip.

Dink egter aan die ongelooflike geleenthede vir werk en welvaart indien elke taalgemeenskap sy taal as aandrywer sou aanwend om verskillende bedrywe te vestig. Dat dit nie op sigself ’n oplossing sou bied vir al die ekonomiese uitdagings, soos ’n lae groeikoers, werkloosheid, armoede en lae deelname aan die kennisekonomie nie, is gewis, maar kom ons benut die fondse wat die mediumtermynbegroting toewys vir die ontwikkeling van kultuurbedrywe optimaal en maak seker dat staatsinstellings soos die Departemente van Kuns en Kultuur en Handel en Nywerheid minder lippediens bewys en taalpluraliteit daadwerklik koester en bevorder.

Die bevordering van taalpluraliteit gaan egter hand aan hand met ’n toename in markwaarde óf ‘n gebrek aan markwaarde van ’n taal. Wyle Neville Alexander formuleer dit soos volg in ’n artikel getiteld “The power of language the language of power”:

(However) … unless African languages are given market value, ie unless their instrumentality for the process of production, exchange and distribution is enhanced, no amount of policy change at school level can guarantee their use in high status functions and, thus eventual escape from the hegemony of English. An articulated programme of job creation and employment on the basis of language proficiencies would, in the South African context, also serve as an organic affirmative action programme, one that would not have the unintended consequences of perpetuating and entrenching divisive racial identities inherited from the apartheid past.

As ’n ingeligte, oopkop, denkende Afrikaanse taalgemeenskap kan ons seer sekerlik met hierdie standpunt assosieer, want deur aan Afrikaans markwaarde te gee kon ons ’n wye verskeidenheid sektore vestig wat werk en welvaart vir sy sprekers teweeg bring. Kom ons wys aan die res van Suid-Afrika en Afrika dat armoede, werkloosheid en wanhoop oorkombaar is deur ons suksesse in Afrikaans met die res te deel en ons vaardighede en kennis van die kultuurbedryf met andere te deel.

Dalk is produktiwiteit en kreatiwiteit in en deur ons inheemse taal die antwoord op Suid-Afrika se lae groeikoers en die velerlei ekonomiese uitdagings wat ons in die gesig staar. Inderdaad ’n hoogs aanvegbare stelling, maar dalk steek daar waarheid in. Vra die Taiwannese. ?f nog beter, werk die Nasionale Ontwikkelingsplan by met ’n hoofstuk waarin die bevordering van ons inheemse tale vooropgestel word en ’n duidelike strategie uitgespel word om die markwaarde van inheemse tale uit te bou en werk en welvaart daardeur te skep.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top