Swanemeer by die Kunstekaap bekoor

  • 0

Foto: Cape Town City Ballet

Almal ken Swanemeer, of hoe? YouTube verpak een van die bekende werke hieruit as "Swan Lake famous song":

Ek het gedink ek's een van hulle, dié mense wat Swanemeer so goed ken. Maar Saterdagaand, by die opening van hierdie ballet in die Kunstekaap, het ek besef ek het nog baie om te leer.

Die gehoor

Die gehoor wat Swanemeer Saterdagaand bygewoon het, het gelyk of hulle die ballet inderdaad baie goed ken. Eerste leidraad: die meeste vroue het sulke hoë hakke gedra dat hulle voete vanself 'n natuurlike balletposisie ingeneem het. Hulle reaksie op die verskillende soorte balletpassies (-danse?) was die tweede leidraad. As die ballerina 'n sekere dansbeweging uitgevoer het, het die gehoor haar met applous beloon selfs voordat die musiek na die volgende beweging aanbeweeg het. Uit musikale oogpunt kan mens bevraagteken of daar so gereeld hande geklap behoort te word – normale teateretiket vereis stilte tussen bewegings met toejuiging ten slotte. Maar die fokus was hier beslis op die danskomponent. Weens die gehoor se geesdrif alleen, om van die stampvol teater nie eens te praat nie, is dit sinvol om ballet in Kaapstad op die planke te bring.

Die verhaal

Swanemeer is in 1875/1876 deur Tchaikovsky gekomponeer. Die verhaal is gebaseer op 'n mengsel Russiese volksvertellings. 'n Prinses met die naam Odette word deur 'n towenaar in 'n swaan verander. Haar menslike minnaar se hart is gebroke. Die towerspreuk wat haar in 'n swaan verander, verander ook ander meisies in swane. Wanneer die ballerinas saam op die swanemeer vergader, met hul arms en slap polse in die lug om die geboë nekke van swane te verpersoonlik, is dit een van die geleenthede wanneer mens die sogenaamde "Swan Lake famous song" hoor. Hierdie musiek is egter 'n prominente tema wat opduik as enigiets van belang gebeur – as die towenaar sy opwagting maak, of as die atmosfeer draai en 'n toneel dalk verander.

Die Kaapstadse Stadsballetgroep

Die Kaapstadse Stadsballetgroep word vanjaar 80 jaar oud en is, volgens die program, die oudste uitvoerendekunste-groep in die land. Daar was baie jong dogtertjies in die gehoor en mens wonder, as ouer wat in die kunste belang stel, en heel persoonlik, of daar vir hierdie kinders eendag 'n betalende toekoms in die kunste is. Wat word die ballerinas byvoorbeeld betaal?

Hul webwerf bied die antwoord. Lees hier: capetowncityballet.org.za.

'n Ballerina verdien minder as R10 000 per maand, as my berekeninge in die kol is. En die organisasie moet inderwaarheid vir elke lid van die geselskap fondse insamel. Elke ballerina kon Saterdagaand die genot smaak van 'n platform waar sy kon dans, en die gehoor se toejuiging. Maar hoe gemaak as sy 'n gesin moet onderhou? Boonop is haar rakleeftyd kort. Sy sal maar geld moet spaar soos wat 'n eekhoring neute vir die winter opgaar. Die kunste is geen plek vir sissies nie. Beslis is die lede van die orkes ook aan dieselfde finansiële onsekerhede uitgelewer – wat my by die musiek bring.

Die musiek en orkes

Die musiek van Swanemeer is inderdaad baie bekend. Maar nie ál die musiek nie – slegs gedeeltes hiervan.

Soos hierdie een, die Spaanse dans:

Ballet se musiek word seker nie as bewegings verpak nie, besef ek Saterdagaand, denkende soos 'n lid van 'n orkes wat inderdaad jare gelede onder in die orkesput uittreksels uit Swanemeer vertolk het. Waarskynlik is die hoofstukindelings van 'n ballet die tonele.

Die bekende bedrywe in Swanemeer is die Pas de Trois, Klein swane, Groot swane, Fiancées, Spaanse dans, Neapolitaanse dans, Czardas en Mazurka. Omtrent een toneel of uittreksel uit 'n bedryf is erg herkenbaar. Die res van die musiek veroorsaak die gom wat die hele verhaal aanmekaarsit. Swanemeer is glad nie eenvoudig om te speel nie, juis omdat gedeeltes van die musiek so bekend is en 'n fout maklik gehoor word.

En juis daarom 'n ekstragroot gelukwensing aan die Kaapstadse Filharmoniese Orkes vir die vertolking van dié balletmusiek. Die helder spel van die klarinetspeler kan in die besonder uitgelig word.

Die dans

Dis nie nodig om 'n kenner van die ballet te wees om te kan sien hoe moeilik die soorte balletdanspassies in Swanemeer is nie. Nie net stel die ritme van die musiek besliste sigbare eise nie (soms stadige en ritmiese spronge op die punte van die tone), maar ook beteken die aard van die verhaal dat die ballerinas se liggame 'n soort buigsame soepelheid daar moet stel omdat hulle menslike karakters in swane verander. Die manier van dans kan nie maklik wees nie. Die dansers het egter elkeen baie goed gedans, van die hofnar met sy koddige polse wat in die lug swaai tot die hoofdanser en -ballerina.

Die hoogtepunt

Die sogenaamde Grand Adagio, die Pas de Deux van die tweede bedryf, die liefdesduet tussen Odette en Prins Siegfried.

Die mees gevoelvolle spel tussen viool en tjello, wat die twee dansers wonderlik aangevul het, kan net geprys word. Die twee dansers, Thomas Thorne en Laura Bösenberg, lyk of hulle al jare lank saamdans. Die sinergie tussen orkes en dansers was reeds op die openingsaand opmerklik en gemaklik. As geheel slaag die hele produksie,  maar net ter wille van die paar minute waartydens hierdie toneel plaasvind, kan hierdie ballet ten sterkste aanbeveel word.

Swanemeer sal jou verryk. Hierdie balletgroep moet bly voortbestaan.

Besoek die webwerf van die Kaapstad Stadsballetgroep.

Dié ballet het ook Die Burger se resensent inspireer.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top