Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns: Bekronings 2014

  • 0

Die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het op die volgende bekronings vir 2014 besluit.

Die pryse sal na keuse van die bekroondes tydens bekroningsplegtighede, onderskeidelik op Stellenbosch (27 Junie) en Pretoria (5 September) oorhandig word.

Hierdie verklaring bevat die besonderhede van die bekronings vir 2014.  Die bekroondes is waar moontlik reeds mondeling oor die bekronings ingelig.

1.         HERTZOGPRYS VIR POëSIE
Die Hertzogprys is die vernaamste prestigeprys in die Afrikaanse letterkundige wêreld en heet na die groot kampvegter vir Afrikaans, genl. J.B.M. Hertzog. Die prys is beperk tot oorspronklike letterkundige werk in Afrikaans en word jaarliks om die beurt toegeken vir poësie, drama en verhalende prosa in dié volgorde. Die prys word toegeken op aanbeveling van die Akademie se Letterkundekommissie.

Die Hertzogprys word vanjaar toegeken aan prof. Marlene van Niekerk vir haar bundel Kaar.

Die prys van R50 000 word geborg deur Rapport. 

Lees 'n LitNet Akademies-resensie-essay van Kaar.

2.         EUGèNE MARAISPRYS
Die prys word toegeken vir 'n eerste of vroeë letterkundige werk en kan net een keer aan 'n persoon toegeken word.

Die prys word toegeken aan Dominique Botha vir Valsrivier.

Die prys word geborg deur Rapport en ABSA. 

Lees 'n resensie van Valsrivier.

3.         SA AKADEMIEPRYS VIR VERTAALDE WERK
Dieselfde genre-indeling (prosa, poësie, drama) as by die Hertzogprys word gevolg.  Die prys word toegeken vir vertaling in Afrikaans van bellettristiese werk uit enige ander taal.  By die beoordeling van die vertaling word gelet op die aansien wat die vertaalde werk binne sy eie taal se letterkunde geniet en op die juistheid en algemene geslaagdheid van die vertaling.

Die prys word toegeken aan Daniel Hugo vir Sprakeloos. 

4.         LOUIS HIEMSTRAPRYS VIR NIE-FIKSIE
Die toekenning van die prys word drie-jaarliks oorweeg vir 'n oorspronklike nie-fiksie werk in Afrikaans wat nie beperk is tot die vakspesialis nie.

Die prys word toegeken aan Albert Blake vir Boerekrygers.

Die prys word geborg deur die Louis Hiemstra Trust. 

5.         M.T. STEYNMEDALJE VIR NATUURWETENSKAPLIKE EN TEGNOLOGIESE PRESTASIE
Die medalje word toegeken aan 'n kandidaat vir sy skeppende bydraes tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van 'n vertakking(s) van die natuurwetenskap of die tegnologie. Dit moet as 'n wesenlike en belangrike bydrae tot die bevordering van die natuurwetenskap of die tegnologie beskou word, en moet suksesvol toegepas word in landsbelang. Die prys word beskou as die kroon op 'n lewenstaak en kan daarom slegs een maal aan 'n persoon toegeken word.

Die medalje word vanjaar toegeken aan prof. Harm Moraal, verbonde aan die Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus.

Prof. Moraal het as fisikus diep spore op nasionale en internasionale vlak getrap. Hy is nie net betrokke by Ruimtefisika nie, maar gee ook leiding in Reaktorfisika en Ingenieurswese.

Die prys van R50 000 word geborg deur Sanlam. Dit is die eerste jaar wat die prys ook 'n geldprys insluit wat dit die "Hertzogprys" van die Natuurwetenskappe maak.

6.         HAVENGAPRYS VIR LEWENSWETENSKAPPE
Die Havengaprys is 'n jaarlikse prestigeprys wat toegeken word vir oorspronklike navorsing op natuurwetenskaplike en/of tegnologiese gebied.  Die prys kan net een maal aan 'n persoon toegeken word.

Die prys word toegeken aan prof. T.J. Robinson, verbonde aan die Dept. Plant- en Dierkunde, Universiteit van Stellenbosch.

Prof. Robinson se bydrae tot die konstruksie van chromosomale filogenieë van 'n groot verskeidenheid Suid-Afrikaanse soogdiere en die ontrafeling van hulle historiese evolusionêre verwantskappe word wêreldwyd hoog aangeslaan. Sy werk sal nog in jare wat kom as 'n buitengewoon betekenisvolle bron van kennis dien, veral omdat dit 'n historiese perspektief van genetiese verwantskappe en veranderinge gee wat tot dusver grootliks ontbreek het.

7.         HAVENGAPRYS VIR TEGNOLOGIESE WETENSKAPPE
Die prys word toegeken aan prof. N.J. Beukes, verbonde aan die Departement Geologie, Universiteit Johannesburg.

Prof. Beukes word vereer vir sy uitstekende navorsing op gesteentes en ysterformasies. Hy word beskou as 'n deskundige op hierdie gebied, nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd.

8.         STALSPRYS
Die prys word toegeken vir 'n hoogstaande publikasie of 'n reeks van hoogstaande publikasies by voorkeur in Afrikaans, asook vir indiwiduele of gesamentlike produkte van hoogstaande gehalte waardeur buitengewone bydraes tot die wetenskaps­beoefening gemaak word.

8.1       Stalsprys vir Opvoedkunde
Die prys word toegeken aan prof. J.G. Maree, verbonde aan die Dept. Opvoedkunde, Universteit van Pretoria.

Prof. Maree is een van dié leiers op die gebied van emosionele intelligensie in Suid-Afrika. Hy lewer ook 'n groot bydrae op die gebied van beroepsbegeleiding, wiskunde-onderrig en as navorsingsmetodoloog.

8.2       Stalsprys vir Verpleegkunde
Die prys word toegeken aan prof. Minrie Greeff, verbonde aan die Fakulteit Gesondheidswetenskappe, Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus.

Prof. Greeff is 'n erkende navorser op nasionale sowel as internasionale vlak. Erkenning word gegee aan die omvangryke bydrae wat sy gemaak het tot verpleegkunde as vakgebied en navorsing binne die vakgebied.

8.3       Stalsprys vir Geografie
Die prys word toegeken aan prof. E.C. Liebenberg, emiritus professor van die Dept. Geografie en Omgewingstudies aan Unisa.

Prof. Liebenberg word vereer vir haar navorsing oor en boekstawing van die geskiedenis van die kartografie en opmeting van Suid-Afrika wat as fenomenaal beskou word.

9.         HUBERTE RUPERTPRYS VIR KLASSIEKE MUSIEK
Die prys word toegeken aan me. Cató Brink-Felsenstein, tans woonagtig in Rommersheim, Duitsland.

Me. Brink-Felsenstein word veral as liriese sopraan in verskeie operas in Suid-Afrika, Wene en Duitsland onthou. Sy het ook 'n groot bydrae gelewer tot die onderrig van sangers soos die vooraanstaande sangeres Minette du Toit-Pearce.

Die prys word deur die Rupert Stigting geborg.

10.       DELEEN BEKKERPRYS VIR DIE BESTE DOKUMENTêRE TV-DRAAIBOEK IN AFRIKAANS
Die prys word toegeken aan Pieter de Vos en Jan Groenewald vir Formidabele vroue – Emily Hobhouse. Die inhoud getuig van deeglike navorsing. Die materiaal word op 'n oorspronklike en sinvolle wyse in die storielyn geïntegreer en op boeiende wyse vertel. Die verskillende vertellers se bydraes word met vaardigheid in die storielyn verweef en dra by tot die hegtheid en spanningslyn van hierdie dokumentêre werk. Pieter de Vos is 'n kenner van Emily Hobhouse en dit het 'n invloed gehad op die uitstaande gehalte van die teks. Dit is 'n baie deeglike stuk werk.

Die prys van R50 000 en 'n goue medalje word vanjaar vir die eerste keer toegeken.

11.       EREPENNING VAN DIE AKADEMIE
Die Akademie se Erepenning gee erkenning vir besondere prestasie op verskeie terreine binne die doelstellings van die Akademie.

11.1     Erepenning vir die bevordering van Geskiedenis
Hierdie Erepenning gee erkenning aan 'n persoon vir 'n besonder hoogstaande bydrae tot die bevordering van die Geskiedenis as dissipline in Suid-Afrika.

Die Erepenning word vanjaar toegeken aan prof. Louis Changuion, emeritus professor in Geskiedenis, Universiteit van die Noorde.

Prof. Changuion het navorsingsterreine betree wat vroeër weinig aandag gekry of totaal onontgin gelê het, byvoorbeeld die rol wat die V.S.A. tydens die Anglo-Boereoorlog gespeel het. Die aansien wat hy as historikus geniet, word onderstreep deur die groot aantal maatskappye en organisasies wat opdrag aan hom gee om hulle geskiedenisse na te vors en te boek te stel.

11.2     Erepenning vir 'n dokumentêre televisieprogram in Afrikaans.
Die Erepenning word toegeken aan mnr. Herman Binge vir Song vir Emily.

Herman Binge was verantwoordelik vir uitstaande navorsing, teks en regie. Die dokumentêr vorm 'n verfrissende raamwerk vir die historiese en menslike feite oor Emily Hobhouse en die gebeure tydens die Anglo-Boereoorlog.

11.3     Erepenning vir Toneel- en verhoogkuns en die Gerhard Beukesprys
Die Erepenning word toegeken aan die egpaar Cobus Rossouw en Sandra Kotzé.

Die egpaar het oor die jare 'n legende geword op die gebied van die toneel- en voordragkuns in Suid-Afrika en elders in die wêreld. Hulle vertolkings getuig van jare se artistieke ondervinding, groei en uitsonderlike talent as teaterkunstenaars. Hul talent word al dekades lank op verhoë regoor die land en Namibië deur teatergangers waardeer.

11.4     Erepenning vir Radiohoorspele in Afrikaans
Die Erepenning word toegeken aan Charles J. Fourie vir sy radiohoorspel Offer.

Die skrywer slaag daarin om neutraal te bly ten opsigte van die storielyn. Alhoewel daar ooglopend sterk van simboliek gebruik gemaak word en die hoorspel van hoogstaande letterkundige waarde is, vervreem dit die luisteraar nooit nie. Die verhaal en die vindingryke struktuur en bou is boeiend en meesleurend en die afloop werklik ontroerend.

11.5     Erepenning vir Visuele Kunste
Die Erepenning vir Visuele Kunste (installasiekuns) word toegeken aan Jan van der Merwe.

Mnr. Van der Merwe se nederige dog vasberade vermoë om alles te gee vir die skeppingsproses as 'n blyk, nie net van sy eie menslikheid nie, maar ook in sy verhouding met God, is onmeetbaar. Met 'n sterk element in sy werke van sagte kommentaar op Suid-Afrikaners van alle tye, rassegroepe en oortuigings, kan hy beskryf word as 'n vindingryke kunstenaar met 'n skerp innerlike oog en voortreflike werksvermoë.

11.6     Erepenning vir Visuele Kunste
Die Erepenning vir Visuele Kunste (argitektuur) word toegeken aan prof. Hans Wegelin.

Prof. Wegelin word vereer vir sy bydrae tot die argitektoniese professie; tot die opleiding van studente in die tegniese argitektuur; en tot die konstruksie-industrie in die algemeen.

11.7     Erepenning van die Fakulteit Natuurwetenskap en Tegnologie
Hierdie Erepenning word toegeken vir prestasies en bydraes ten opsigte van die bevordering en ontwikkeling van die besondere vakgebied en kan net in uitsonderlike gevalle toegeken word.

Die prys word toegeken aan prof. Marena Manley, hoogleraar in Voedselwetenskap, Universiteit van Stellenbosch.

Prof. Manley is 'n nasionale leier in haar vakgebied. Sy word vereer vir haar wetenskaplik gebaseerde bydrae tot voedselwetenskap. Haar laboratoriumnavorsing lê die grondslag vir volhoubare voedselsekerheid.

12.       PROTEA BOEKHUISPRYS VIR DIE BESTE GESKIEDENISVERHANDELING IN    AFRIKAANS EN DIE GENERAAL CHRISTIAAN DE WET-BEURS
Die prys word toegeken aan mnr. Charl Blignaut, verbonde aan die Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus. Die prys word toegeken vir sy M.A.-verhandeling met die titel "Volksmoeders in die kollig: 'n histories-teoretiese verkenning van die rol van vroue in die Osseswa-Brandwag, 1938-1952".

Die Protea Boekhuisprys word geborg deur Protea Boekhuis.

13.       TOON VAN DEN HEEVERPRYS VIR REGSWETENSKAP
Die prys word toegeken vir oorspronklike regskundige werke in Afrikaans; en/of             vollengte artikels of 'n artikel van hoogstaande gehalte in Afrikaans wat in        geakkrediteerde regstydskrifte verskyn het; en/of baanbrekende regsuitsprake in         Afrikaans.

Die prys word vanjaar toegeken aan proff. J.E. du Plessis en G.F. Lubbe, verbonde aan die Unviersiteit Stellenbosch en redakteurs van en bydraers tot die werk 'n Man van beginsel: die lewe en nalatenskap van J.C. de Wet.

Die werk is 'n oorspronklike bydrae tot die intellektuele geskiedenis van Suid-Afrika op regsgebied.

14.       ALBERT STRATINGPRYS VIR VOORKOMENDE GENEESKUNDE
Die volgende geld by die keuse van 'n kandidaat: Voortreflike bydraes tot 'n vertakking of vertakkings van voorkomende geneeskunde wat as wesenlike bydrae tot die bevordering van die gesondheid van die gemeenskap en die voorkoming van siekte beskou kan word.

Die prys word toegeken aan prof. G.B. Theron, hoof van die Departement Verloskunde en Ginekologie, Universiteit van Stellenbosch.

Prof. Theron lewer 'n groot bydrae tot voorkomende geneeskunde op talle terreine, en in besonder tot voorkombare moederlike sterftes in Suid-Afrika. Sy werk word nasionaal, sowel as internasionaal erken.

15.       D.F. DU TOIT-MALHERBEPRYS VIR GENEALOGIESE NAVORSING
Die prys word toegeken aan prof. H.C. Viljoen van Stellenbosch vir die Viljoen Familieregister wat in vier dele verskyn het.

Dit is 'n hoogstaande publikasie en een van die mees omvattende genealogieë in Suid-Afrika. Hy word geloof, nie net vir hierdie monumentale werk nie, maar ook vir sy beduidende bydrae tot die erfenis van die Hugenote.

16.       BESONDERE EREPENNING

'n Besondere erepenning word toegeken aan me. Marie Louise (Marie-Lou) Roux, prominente Wes-Kaapse bewaringspersoonlikheid.

Sy word vereer vir haar lewenslange ywer en deursettingsvermoë om talryke projekte vir natuur- en omgewingsbewaring, wat die bewaring van historiese argitektuur insluit, aan te voor en met groot sukses deur te voer.

17.       JUNIOR KAPTEIN SCOTT-GEDENKMEDALJE (Dierkundige Wetenskappe)
Die medalje kan jaarliks toegeken word vir die beste verhandeling wat by 'n Suid-Afrikaanse universiteit vir die M.Sc.-graad ingedien is (om die beurt in die dierkundige of plantkundige wetenskappe).

Die medalje word toegeken aan me. Lobke Steyn, verbonde aan die Dept. van Landbou, Wes-Kaap, Elsenburg. Sy het haar studie uitgevoer op Outeniqua Navorsingsplaas George, Dept. van Landbou, Wes-Kaap, Elsenburg. 

Die titel van haar verhandeling is "Supplementation of high fibre concentrate to jersey cows on pasture to overcome winter roughage shortages".

18.       ELISABETH EYBERSBEURS
Die beurs word vanjaar toegeken aan prof. E.S. van der Westhuizen, 'n gevestigde akademikus in Suid-Afrika. Sy is verbonde aan die Skool vir Tale, Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus.

Haar navorsing behels 'n sisteemondersoek van Afrikaanse en Nederlandse films vir kleuters, kinders en adolessente.

19.       DOUW GREEFF-PRYS
Die prys word toegeken vir 'n navorsings- of oorsigartikel van hoogstaande wetenskaplike gehalte wat in die SA Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie gedurende die jaar wat die prys voorafgaan, gepubliseer is.

Die prys word toegeken aan Sanet Janse van Vuuren, Annelie Swanepoel, Germarie van Zyl vir die artikel "Rol van Lesotho-hooglandwater op Vaalrivieralge" in Die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie, vol. 32, no. 1 (2013).

20.       REDAKTEURSPRYS VAN DIE TYDSKRIF VIR GEESTESWETENSKAPPE
Die prys word vir 'n navorsings- of oorsigartikel van hoogstaande wetenskaplike gehalte wat in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe gepubliseer is, toegeken.

Die prys is pas ingestel en word vanjaar toegeken aan prof. Danie Goosen vir die artikel “Die teoretiese lewe. Perspektiewe vanuit die tradisie” in Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Jg. 51(4), Desember 2011.

21.       ERELIDMAATSKAP
Erelidmaatskap word toegeken aan prof. Theuns Erasmus, voormalige viserektor, Universiteit van Pretoria en oud-voorsitter van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns.

22.          ELIZABETH C. STEIJNMEDALJE
Hierdie medalje is ingestel om 'n onderwyser of onderwyseres te bekroon wat sy of haar opvoedingswerk deur medium van Afrikaans doen en wat hom of haar onderskei het op die gebied van praktiese onderwys en opvoeding binne, sowel as buite die klaskamer.  Dit is vernoem na mej. Elizabeth C. Steijn, wat vir baie jare die hoof van die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria was.

Die medalje word toegeken aan dr. Pierre Edwards, hoof van die Afrikaans Hoër Seunskool, Pretoria.

Dr. Edwards word beskou as 'n leier met 'n visionêre strategie, iemand wat nie skroom om op te staan vir goeie waardes nie, nederig, belese en berese. Sy bydraes op die breër onderwysterrein en in die gemeenskap het Afrikaanse onderwys in hoë mate help uitbou.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top