Stembrief deur Nini Bennett

  • 0

Alle karakters en gebeure is fiktief.

Hier kom ’n maag aan. Hy trap wiegend soos ’n malgas.

Eintlik is daar twee van hom: eers sy maag, en as hy om die draai kom, volg die res van sy lyf. Hy loop agter sy maag aan. Petrus Lotriet: die opsigter van Kortstraat-kompleks in Moreleta Park.

Hy sien my nie. Ek skuil agter ’n sipres. Ek wag; volg hom tot hy afdraai na ’n skadubekladde tuintjie tussen twee wooneenhede. Vir maande al sien ek die beserings: sy vrou se gekneuste wangbeen, toegeslaande oë en geswelde lippe. As opsigter is hy ook useless. In die kompleks woon daar oorwegend geskeide vrouens en weduwees: ’n matriargale mikrokosmos met sy eie gogos en jong meisies wat die tegniese sleurwerkies self verrig.

Hy buk by ’n bedding lelies.

Ek tree nader; trek die swart mus laer oor my voorkop en druk my sonbril in posisie.

Hy sien my nie.

Sy voete met die vet tone sprei soos webbe in die plakkies. (Hy het gister nog aan my agterdeur geklop en trots aangekondig: “Die dokter sê hy moet van my tone amfuteer oorlat ek sippilis het.” Ek het die voordeur toegeklap.

Hy buk laer. Die twee linkerbene vorm ’n Y. Sy tuisgemaakte short met die pap rek skuif af. Hy het nie ’n onderbroek aan nie.

Sy agterwêreld is ’n grondverskuiwing met ’n pothole binne-in.

Ek haal my pistool uit die holster en skuif die knaldemper oor die loop.

Dan skiet ek. Plop.

Pot shot.

Hy val massief vorentoe, sy gesig gefrommel in die bos lelies. Sy snor, ’n rooi jaartbesem, lig van die pyn. Ek kyk gefassineerd hoe die bloedkol in sy short groter kring.

Ek druk die 9-mil terug in die holster onder my dik baadjie en stap na my Tazz wat onder ’n afdak staan.

Iewers sal die tuinier, wat daagliks sy rassisme moet verduur, wel sy gekerm hoor.

Die kompleks is verlate: dis 18 Mei en die meeste mense het seker gaan stem.

In my kar haal ek ’n nuwe skryfblok uit en skryf in blokletters bo-aan: STEMBRIEF. En die volgende reël: PETRUS LOTRIET    X

Ek skakel die GPS aan en voer ’n adres in. Dalk kry ek die bliksem dáár.

Die bitsige, pedantiese stem van die GPS-vrou beveel: “Turn left. Turn right. Drive …”

Sal Petrus Lotriet dit oorleef? wonder ek terwyl ek nonchalant rook.

My gedagte is skaars koud, toe sien ek die Chrysler 300C. Wragtig! Steve Spogmeyer in die dubbelbaan langs my! Sy seun, Parmant, sit in die passasiersitplek.
Ek woel die 9-mil uit die holster en sit dit op my skoot; versnel om by te hou.

“…. hoe val ’n man van staal … hoe val ’n man van staal …” blêr dit oorverdowend en tot vervelens toe uit die Chrysler se speakers met die versterkte amp.

Spogmeyer het ’n Blou Bul-pet en sonbril op en sy kop wip ritmies op die maat van sy narsistiese lied.

Sal ons dit oorleef? wonder ek, en korrel.

Die skoot klap sy pet teen die truspieël vas. Sy kop plof teen die stuurwiel. Nou blêr die toeter saam met die man van staal; sinchroniseer.

Parmant ruk verskrik die stuurwiel in posisie. Die Chrysler se padhouvermoë is uitstekend.

Ek weet nie waar ek die blou bul getref het nie, maar hy brul onaards met sy kop teen die sketterende toeter. Daar is ’n bloedstreep teen sy wang. Sy toepee het gelig en lê losweg oor sy kroon. Hy het nou twee koppe.

Parmant het my gesien!

Ek druk my sonbril en mus reg en gee vet. My exhaust knal. In my verbeelding maai die exhaust se naskote al die ander bliksems ook af.

By ’n vulstasie hou ek stil, gooi petrol in en skryf in my skryfblok: STEVE SPOGMEYER    X.

Ek stel die GPS: die M1-Suid, Johannesburg-rigting. So ver ek ry, ruik ek braaivleisvure. Die mense stem nie, hulle braai!

My Tazz met die grinterige uitlaatpyp vibreer van die energie. Onder die swart mus raak my hare klam van die sweet. Sal Parmant my later herken?
Braamfontein-hotel is naby. Ek haal die klapper met die lang, dun lont wat ’n Chinees in die middestad onwettig aan my verkoop het, uit die paneelkissie. Ek ry stadig en versigtig. Die verkeer is rumoerig en besig en vol taxi’s.

Die hotel.

Ek druk die klapper in my baadjiesak en stap deur die voorportaal.

Bang, halfdronk mense staar my aan. Op klein, ronde tafeltjies wat na die kroeg lei, lê oopgeslaande Bybels vol donkie-ore gevou. En drankbottels. Saint Anna. Saint Vincent. Saint Morgand. Saint Claire. En sjerrie: The Naked Truth. Ook Allesverloren en Angel’s Tears.

’n Boks Carnival.

Dan die high spirit(s): Bell’s en Captain Morgan.

I am the master of my fateI am the captain of my own soul …

Die klapper ontplof oorverdowend – en skouspelagtig – tussen die tafels.

Ek vlug.

“Dis die eerste teken!” skree ’n vrou en down haar First Watch.

“O hel!” gil ’n ander. Dan is dit dawerend stil. Hulle volg die geheimsinnige, verskietende sparkles met oë styf van verbasing.

Die klapper skiet weer in naskokke. Gille en skrapnel van ontploffende bottels volg my. Die kroegman se selfoon lui dringend en hy druk by my verby.

Buite halt ek verlig; haal diep asem.

Waar is Johannes Coetzee?

Nugter: nugter weet waar is Johannes Coetzee.

“Yebo,” antwoord die kroegman eindelik sy selfoon.

Ek kry die leë blik Black Label (man-size), ineengeduik en beskroomd op die sypaadjie, skielik jammer.

In die kar skryf ek JOHANNES COETZEE  X in my skryfblok en stamp die Tazz in rat, terug Pretoria toe.

Nou gaan ek ’n gróót vark uithaal. Ek hou hom al twee jaar dop: Zakkie Bulsevech, onderwyser in lewensoriëntering by ’n spogskool in Pretoria-Oos. (Hy het ook ’n vals Facebook-profiel as jeugberader; ek het hom met ’n skynprofiel genader as “vriendin”, en hy wou dié dogtertjie beslis van nader leer ken. Korrespondensie het gevolg: my bewyslas. Ongelukkig het ’n kind wat ’n klag van seksuele aanranding teen hom ingedien het, dit weer laat vaar. Ek het besluit om nie polisie toe te gaan nie.

Nee, nie die polisie nie.

Ek stel die GPS in. Hy sal nou in die park wees waar hy elke naweek die duiwe voer (en kinders dophou). Hy sou nie gaan stem het nie.

Ek is op pad.

Sowat vyftig meter van die park in Garsfontein hou ek stil. Die straat is leeg. Meneer Bulsevech is, soos ek vermoed het, besig om die vet duiwe stuksgewys ’n halwe brood te voer. Hulle is mak en party lê met hulle vlerke oopgesprei in die son.

Ek beweeg geluidloos. ’n Ent verder, by die spruit, kekkel ’n paar eende.

Die waardige ou man sit op ’n betonbankie en klap sy tong vir ’n yslike ringnek wat verbete bly eet. Hy skrik toe my skaduwee skuins van agter oor hom val.

“Môre … dogter,” aarsel hy. “Lieflike dag, is dit nie?”

“Ja, stemdag,” sê ek, en hy kyk onbegrypend na my. Dan glimlag hy.

Ek sê niks, en sy glimlag word breër: hy lag dat ek al sy tande kan sien, ook die kiestande van sy wit, reëlmatige gebit. Hy lag soos ’n Pasella-aanbieder. Die lag kleef om sy mond, maar sy oë is nie in die lag nie.

Ek trek die 9-mil uit die holster en skuif die knaldemper om die bek: stom.

“Oi, dogter, oi,” sê hy asof hy ’n klein hondjie paai.

Sy mond stol in ’n geluidlose ronde vokaal.

Ek gee ’n tree nader en skiet hom tussen die oë.

Sy kop ruk agtertoe en sy kunsgebit skiet los. Natuurlik die dryfaksie van die koeël.

Die ringnek vlieg klingelend weg.

Die pedofiel val skuins vorentoe, maar konvulsies slinger hom teen die gras, op sy rug. Lug ontplof uit sy longe.

Sy spierwit klawerbord grinnik vir my. Uit die ronde koeëlgat syfer bloed. Dis ’n hol oog.  The evil eye.

My instrukteur sou trots op my gewees het.

Ek stap na my Tazz en skryf  ZAKKIE BULSEVECH   X  in my skryfblok.

Dan skeur ek die vel papier uit die blok en steek die boonste twee hoeke met my lighter aan die brand.

Ek kyk hoe my stembrief homself in ’n wapperende vlammevlag verteer.

* Johannes Coetzee voorspel dat die wêreld na die munisipale verkiesing van 18 Mei 2011 in Suid-Afrika op 21 Mei 2011 sal vergaan.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top