Splinternuwe produksies by ABSA KKNK 2015

  • 0

Feesgangers by die Absa KKNK kan vanjaar uitsien na die debute van sewe dramas, ses komedies, 20 musiekproduksies en 'n dansproduksie.  Dié fees vind vir die 21ste keer van 3 tot 11 April op Oudtshoorn plaas en begin gedurende Paasnaweek.

Onder die splinternuwe tekste op die program is Albert Maritz se eerste teks, Dirk Ligter, wat die fees se plekspesifieke drama is. Dit handel oor Dirk Ligter, een van die Tankwa Karoo se mees geliefde en gehate mense. Ian Roberts en Kim Cloete is onder meer hierin te sien.  

Nicola Hanekom, die bekroonde teatermaker, met onder andere Trippie  en Land van Skedels op haar kerfstok, is  die wenner van die 2015 Afrikaans Onbeperk-prys vir vernuwende denke. In glas, met onder andere Stian Bam en Tinarie van Wyk-Loots in die rolverdeling, ondersoek die uiterstes waartoe paartjies soms gaan om kinders te hê.

Al julle volke, ’n nuwe drama deur Wessel Pretorius, een van ons opwindendste jong teatermakers en die wenner van die 2015 Afrikaans Onbeperk-prys vir ’n jong stem, handel oor die Afrikaner se soeke na 'n leier.

Die program bevat twee vertalings van klassieke stukke met Moeder Moed en haar kinders, 'n vertaling van Bertolt Brecht se Mutter Courage und ihre Kinder deur Saartjie Botha met regie deur Jerry Mofokeng. Aletta Bezuidenhout vertolk Moeder Moed, wat alom bekend staan as sekerlik een van die mees uitdagende rolle vir ’n aktrise.  

Buite blaf die honde swart, die Afrikaanse verwerking van Combat de nègre et de chiens deur Bernard-Marie Koltès, is ’n eietydse klassieke drama wat op ’n konstruksieterrein in Afrika afspeel. Dit is vertaal deur Tertius Kapp en vervaardig deur die bekroonde Jaco Bouwer met Dawid Minnaar en Albert Pretorius in die rolverdeling.

Twee eenmanvertonings, Santa Gamka, gebaseer op ’n boek deur Eben Venter met Oudtshoorn-akteur Marlo Minnaar asook die Afrikaanse weergawe van Skierlik, ’n werk deur Phillip M. Dikotla wat in 2014 ’n Fleur du Cap-prys en die Olive Schreiner-prys vir drama ontvang het, word vir die eerste keer opgevoer. Mari Borstlap hanteer die Afrikaanse vertaling en regie van Skierlik.

Soos Maritz, waag Eric Nobbs vanjaar vir die eerste keer sy hand met die skryf van die komedie 'n Kat in die duiwehok. Nobbs speel saam met Francois Jacobs in die produksie, onder regie van Sandra Prinsloo. Skerpskerts kry 'n nuwe plek op die fees met Schalk Bezuidenhout se produksie Lewendig wat sy debuut maak. Ook onder die skerpskertsers is Marc Lottering, Rob van Vuuren en Nik Rabinowitz.

Ander debuut-komedies sluit in Marion Holm se Die Kaap is weer Holms, Shaleen Surtie-Richards wat in Die woema van ’n windgat wyfie te sien is, My boetie se boetie se boetie se baba, die opvolg op My Boetie se sussie se ou; asook Sandton City grootdoop, uit die pen van Wessel Pretorius.

Nóg ’n nuutjie op die program is die insluiting van gesprekke met skrywers, spelers en vervaardigers van vier van die debuutproduksies. Elke gesprek sal na afloop van een van die vertonings in die venue plaasvind en is ingesluit by die kaartjiepryse.

“Ons wil graag ons teatergehore die kans gee om vrae aan die rolverdeling van dié nuwe produksies te stel en hul opinies te lug deur direk na sommige vertonings aan ’n gesprek deel te neem. Dit sal natuurlik ook die rolverdeling die geleentheid gee om hul gehoor te ontmoet en eerstehands terugvoer te kry,” sê Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van die Absa KKNK.

Kaartjiebesprekings kan aanlyn by www.computicket.com gedoen word of landwyd by Computicket, Shoprite, Checkers en House & Home. Die volledige feesprogram kan by www.absakknk.co.za afgelaai word. Verblyfbesprekings kan ook aanlyn gedoen word.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top