SêNet-briewe | Letters

 
Sosiale vaardigheid
Ek lees die briewe van Adriaan en Jan Rap, en wil ook my mening oor die onderwerp lug.

Daar is geen alternatief vir goeie maniere of, soos ek dit noem, sosiale vaardighede nie. Dit word by moederskoot aangeleer. Jou pa kan jou baie ander goed leer, maar jou ma leer jou die fynere dinge in die lewe soos onder andere hoe om met meisietjinners om te gaan.

Tafelmaniere is nie onderhandelbaar nie. Jy word geleer hoe en met wat om te eet.

Persoonlike higiëne, netheid op jouself en omgewing (kamer). Respek vir ouer persone, of soos dit bekend was jou meerderes, wat dit ook al beteken het. Selfrespek is ’n vereiste. Jy kan nie vir ander respek openbaar as jy nie vir jouself respek het nie.

Ander kulture het ander gewoontes, maar daar is ook ’n mate van respek wat die jongeres aan die ouer persone bewys. Daar sal natuurlik ’n koortjie van weerstand opgaan oor wat ek wil sê, maar ek wil regtig nie in bekgevegte betrokke raak oor wat is aanvaarbaar en wat is nie.

Ek is ook al beskuldig dat ek "old school" is. As jy my die moer in wil maak, moet jy dit vir my sê. Ek sien dadelik rooi.

Ek sien die verval van etiket, goeie maniere gereeld. Hier in ons omgewing het ek al teruggestaan vir dames om voor my by ’n deur in te gaan. Ek doen dit nie meer nie. Ek het ook al die fout gemaak om iemand in die verkeer in te laat, sonder dat sy/hy poot lig of kop knik om net erkenning te gee. Ek het dit ook gestop.

Ek het motorfiets gery en die hoflikste van al die padgebruikers was die taximanne. Die gevaarlikstes hier by ons is mammie in haar Fortuner, Prado en Merc. Ek praat nie eens van Fatima wie net se oë jy kan sien nie.

’n Senior kennis van ons stop so rukkie terug by ’n winkelsentrum en wag vir ’n persoon om uit die parkering uit te ry voordat hy kan inry. Toe die persoon wegry glip mev Naidoo daar in. Vriend klim uit en verloor dit toe heeltemal. Hy spreek haar toe aan as ’n Indiese arbeider en berispe haar toe sommer ook. Vriend moes toe Tienduisend Rand opdok vir haatspraak en rassisme en ander derglike klagtes.

Ek maak nog die motordeur vir my huidige vrou oop. Ek hou ook die deur oop sodat sy die kruideniersakke kan indra. In ons getroude lewe het ons nooit ’n huishulp gehad nie. Elkeen van ons het bygedra tot die huishouding. Dit sluit in van kook, was, stryk, huis skoonmaak, gras sny (alhoewel ek die sambreel oor haar oopgehou het) tot selfs kar was. ’n Huishulp is in baie gevalle nie nodig nie. As die kinders nie so gemaksugtig is nie, sal huishulpe nie nodig wees nie. Dit maak die mense lui. Ek dink ons is een van die min lande in die wêreld wat die gerief van huishulpe kan bekostig.

Die dames sal nou wapens opneem, maar mevrou wat doen jou bloedjies as hy/sy in die middag by die huis kom? Wat doen pappie as hy by die huis kom? Ek weet. Kinnertjies speel videospeletjies en pappie sit op sy stert en blaf bevele uit. Die vrouens bederf hul kinders en mans in die afgrond in.

Ons eet of braai so nou en dan by skoonsus aan ’t huise. Daar is soms ander mense ook. Ek braai altyd of help met sekere ander take. Nog nie een keer het ’n man wat daar was enigsins aangebied om iets te doen nie. Swaer en hul bywoners doen niks. Dra nie eers die skottelgoed van die tafel af nie. Hy gooi nie eens ’n dop nie. Dis skoonsus se skuld. Sy het hulle bederf.

Ek kan ure aangaan maar wil nie te veel mense moerig maak nie.

Die verskoning is mos, groepsdruk. My flippen hel. Elke geslag het groepsdruk gehad. Dis hoe jy dit hanteer en bestuur. Moenie groepsdruk blameer vir jou tekortkominge nie. Jy is nie daar om jou kind op te voed nie. Nou moet ander dit doen. Hier naby Underberg is daar ’n jaarlikse "musiekfees". Ek ken toevallig ’n persoon wat gedurende die naweek daar werk. Hy sê dat ’n mens verbaas sal wees oor die kinders wat daar rondhang. So jonk soos tien jaar oud. Dik gerook en gedrink. Waar is die ouers?

Ek is bevrees ons sosiale weefsel is vinnig aan die verkrummel. Ek blameer die ouers van vandag vir die gedrag van hul kinders.

Reusedwerg

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address