Biebouw-resensies | Reviews

 
Soom: Die grens tussen vryheid en voorskrif
Titel: Soom
Skrywer:
Hennie van Coller
Uitgewer:
Griffel
ISBN:
9781920424459

Hoe langer die kritikus en literatuurwetenskaplike op intieme voet met die digter, sy literêre vergestalting van die wêreld, sy vorm, struktuur en tegnieke verkeer, hoe makliker ontstaan daar by hom ’n gevoel van familiêre verwantskap met die digters en hulle ambag: dis ’n beroepsgeheim onder literêre akademici dat die meeste van hulle al ’n tree of twee gewaag het op die heilige grond van die poësie. Gewoonlik beland die produk dan in die onderste laai, waar dit stadig  die stof van vergetelheid vergader.

Dan is daar egter ander – en in die Afrikaanse letterkunde is daar verbasend baie – wat die laai oopgemaak het, die verse afgestof, dit gebundel en gepubliseer het om dit aan die skerp oog van hulle kollegas en die guns van die poësielesende publiek toe te vertrou. By diesulkes het Hennie van Coller pas aangesluit. Van Coller is ’n gerespekteerde kritikus wat nou al by die 40 jaar betrokke is by die literatuurwetenskap. Soom is sy eerste digbundel en dit dra swaar aan die verwagtings en ambisies van die digtende akademikus.

Die bundel is mooi uitgegee, met ’n pragtige omslag, ’n Vrystaatse skemerlandskap geskilder deur Pauline Gutter (daar is ’n verdere drie afbeeldings van haar werk in die bundel). Die titel verwys na “’n grensgebied: van skeiding, binding, maar ook van afronding”, soos die flapteks dit stel. Dit is egter ook ’n raak, maar seker onbedoelde, beskrywing van die randgebied waarop die kritikus-as-digter hom bevind.

Die bundel bestaan uit nege afdelings van wisselende lengte, met altesaam 90 gedigte, waarvan 19 vertalings uit die Nederlands is. Al die Nederlandse gedigte is sonnette, terwyl die digter self 33 sonnette van sy eie bydra.

Met sy streng bouvorm, voorgeskrewe metrum en rympatroon, wat variasies binne sekere perke toelaat, en die tematiese spel van spanning en ontspanning, was die sonnet een van die gunsteling-digvorme in vormbewuste periodes soos die Renaissance of die 17de eeu; en van die grootste name in die kanon, van Dante en Petrarca oor Shakespeare en PC Hooft tot by Rilke, het hierdie vorm tot groot hoogtes gevoer.1 Dis Jacques Perk met sy huldiging “Aan de sonnetten” (Soom, 120) wat die dialektiek tussen vryheid en voorskrif  as die wesenselement van die sonnet uitlig: “De ware vrijheid luistert naar de wetten.” Hoe ironies (en ook ’n bietjie embarrasserend)  dat Van Coller se vertaling hierdie kernstelling presies omkeer waar hy sê: “Die ware vryheid gehoorsaam nie die wette” (“Aan die sonnette”, 121).

Die keuse van hierdie (sub-)genre, asook die insluiting van so baie vertalings, sinjaleer dat die digter hom by die tradisie wil aansluit en hom aan die verlangde dissipline gaan onderwerp op die spoor van die grotes voor hom. Natuurlik kan ’n mens ook probeer afwyk van die reëls, om die tradisiegebondenheid van die establishment te bespot. ’n Groot aantal van Van Coller se sonnette slaag egter nóg in die een, nóg in die ander opsig. Neem byvoorbeeld die twaalf stuks onder die titel “Diereriem” (31–42). Daar is wel ’n groot variasie in die gebruik van die strofes, maar sonder enige oënskynlike verband met ’n innerlike of onderliggende tematiese aspek. Die eindryme wil alte dikwels net nie mooi tot ’n patroon saamval nie (en telkens kry ’n mens die ongemaklike indruk van rymdwang, wat deur hinderlike enjambemente vererger word); die gebruik van binnerym vergoed egter wel in ’n mate daarvoor.

Grové (1992: 499) noem die feit dat die sonnet in Germaanse tale ook as “klinkgedig” bekend was vanweë sy hegte klankpatrone. By Van Coller pla beide die rym en klank én die ritme egter. Selde het ek die egalige en soepel vloei van die jambes gevoel; dikwels is die ritme stomp en stamperig. Kyk byvoorbeeld dié twee reëls:

’n Leeu het min erg aan dinge wat bly stilstaan
selfs ’n goed geykte weegskaal en ’n tuinkraan (“Leeu (24 Julie – 23 Augustus)”, 35).

Die gedagtes klink geforseerd, die taal is darem erg onpoëties. In die volgende verse gaan dit byvoorbeeld oor die kreef:

Want al lyk dit asof sy periskoopoë
alles van ver kan sien en sy swart reuseskêre
almal van sy lyf kan hou – altyd bedroë
kom hy daarvan af; gevaarlik slegs van ver af (“Kreef (22 Julie – 23 Julie)”, 34).

Soortgelyke vormprobleme tree in die vertaalde gedigte duidelik na vore.

Waar Van Coller effe vryer en minder serebraal skryf en die keurslyf van die voorgeskrewe vorm laat vaar, klink hy ook oortuigender. Ek het byvoorbeeld gehou van die ligte toonaard in “Louvain-la-Neuve”:

Bruingeel berke drom dig langs mekaar,
hand in die sy.
’n Skraal Novemberwindjie vertel –
skynbaar net aan my –
van dolende digters,
behoedsame markkramers, begyntjies
wat bly wol was, en toe, plots
ry goue ridders klingelend verby (17).

Die bundel sou beslis kon baat gevind het by meer speelse en skalkse humor, soos in “Tilburg” (19) en “Windpomp” (23), of die ironie in “O, om in die groen skadu” (60), “Opdraand” (79) of “JCS” (84).

Daar is ongelukkig ’n aantal gevalle van redaksionele slordigheid of swak proeflees wat ’n mens nie in ’n bundel van hierdie aard verwag nie. Die woord “regsgesinde” (32) moet seker eerder “reggesinde” wees. Is ’n gedig van 13 reëls nog ’n sonnet? In die een van Hooft (106) is dit kennelik ’n drukfout, maar wat van “Graveyard shift” (56) of “Na aanleiding van ’n lesing [...]” (62)?

’n Digter het seker die reg om homself te herhaal, maar wanneer ’n frase soos “twee hande hoog” (met verwysing na brood) in twee opeenvolgende gedigte voorkom (81 en 82), die metafoor “water trap in wolke” ook twee keer (55 en 59), en die woord “lepellê” selfs vier keer (47, 56, 82 en 88; vgl ook “rys en anys [wat] knus lê in verbroedering”, 77)), ontstaan daar ongemaklike vrae. (Vgl ook “woorde vol/ van wysheid” in één gedig, 20). Verder klink frases soos “Watervalle, stede, strate herdenk stug/ nog wel vet, ledige Engelse monarge” (45), “die sebras/ met skoon WP-truie” (50) of “whisky word g’nnie verdunnie” (74) onbeholpe of sommer laf, en die studentikose “stout” verse in die afdeling “Vernuftighede” (veral 64–68) moes liewer weggelaat gewees het.


1 Ek volg hier wesenlik die artikel “Sonnet” deur AP Grové in TT Cloete (red), Literêre terme en teorieë, Pretoria: HAUM-Literêr (1992:498 ev).
 

Lees Hennie van Coller se reaksie op hierdie resensie
.
Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address