Sondag/Sestig/Satori

  • 1

 


Koos Kombuis (foto: Chrizane van Zyl)

Een van my gunsteling-uithangplekke in Johannesburg is Linden. Toe die ou Blou Hond nog bestaan het en ek gereeld daar gespeel het, het ek altyd seker gemaak daarvan dat ek die aand voordat ek op die verhoog moet gaan, die reëls van my dieet verbreek met ’n Meksikaanse pizza by Satori’s.

In Satori’s los mense jou uit. Niemand dink dis snaaks as jy alleen by ’n tafel sit, alleen ’n glas van hulle aaklige rooi huiswyn drink, en alleen sit en uitstaar in die skemeruur oor die straat na buite nie.

Linden is een van daardie ou dele van die Goudstad waar die ou en die nuwe vermeng en vreemd gemaklik langs mekaar bestaan. Langs die hoek waar hawelose mense luidkeels redekawel en papsakke vir mekaar aangee, sal jy hier en daar semi-trendy koffiewinkeltjies of uitheemse restaurantjies aantref. Goed-aangetrekte gesinne stap sonder vrees of aggressie verby bedelende fooitjiesoekers in goiingklere.

Die feit dat die Big Brother-huis nou in dieselfde straat in Linden geleë is as Satori’s en Paputzi’s (die nuwe venue waar ek deesdae speel vandat die Blou Hond verhuis het Pretoria toe), het niks verander aan die gemaklike sjarme van hierdie dorp binne-in ’n stad nie.

Dit was op juis so ’n Sondagoggend dat ek, ’n klein bietjie babelaas en heel pap na ’n konsert die vorige aand, ’n koffieplek gaan soek. Ek eindig in ’n aantreklike bistroagtige plekkie skuins oorkant Satori’s. Daar is geen sitplek binne-in die restaurant nie, en slegs een beskikbare enkelsitplek-tafeltjie buite op die straat. Ek moet letterlik inskuifel onder ’n vrou se elmboog in om die enigste oop stoel te betrek. Terwyl ek ’n cappuccino bestel, blaai ek deur die skinderkoerante.

Alles gaan goed, en my bui is uitstekend, totdat ek bewus word van ’n irriterende skel klankie in die lug. En ’n reuk wat my neusvleuels seermaak. Ek draai halflyf om.

Een van die vroue wat by die tafel agter my sit, het ’n sigaret aangesteek.

Bron: wikipedia

Ek wil nie moeilikheid maak nie, dus wag ek vir haar om klaar te rook. Dis nie lekker nie – ek het self jare gelede al die gewoonte gestaak – maar hoe lank kan een sigaret nou neem om te voltooi? Drie, vier minute? Hopelik het ek daarna kans met my koerant en my koffie in vrede en te verkas voordat sy dalk nog een aansteek.

Omdat die Sondagkoerante my verveel, dwaal my gedagtes na die opdrag van ek van LitNet gekry het: om ’n terugskouing te skryf oor my verlede, of ons generasie se gedeelde verlede. Dis veronderstel om saam te val, min of meer, met my sestigste verjaarsdag. Goeiste. Het ek nie al in my lewe genoeg outobiografieë en persoonlike vertellings gepubliseer nie – wat is daar nog om te vertel?

My gedagtegang word skielik weer onderbreek. Feitlik onmiddellik na die sigaret kry ek weer ’n reuk. Die tweede vrou het ook nou ’n sigaret aangesteek. Agge nee! Is hulle verslaaf aan hulle kankerstokkies?

Is daar ’n lessie hierin?

Ek dink terug oor ’n lewe wat deur verskeie verslawings gedefinieer kan word.

Oor die dwelmmiddels wil ek nie eens praat nie; daardie verslawings was ten minste straightforward.

Dis die dieper verslawings wat meer subtiel was, omdat ek dit nie altyd as verslawings gesien het nie, maar soveel daarvan vanuit my eie perspektief as persoonlike regte, as vryheid, as morele keuses geparadeer het. Al die mense vir wie ek ooit kwaad was, met of sonder redes. Al die griewe wat nesgemaak het in my baard. Die toksiese verhoudings van my jeug. Dekades van rock ’n roll, rymdwang en … rook, rook, nogmaals rook .

Was dit ek? Was ek so?

Soos die mensdom se siening van sigaretrook verander het die afgelope paar jaar, so het die kollektiewe siening van vele gewoontes en opvattings wat vroeër normaal was, verander. Vyftig jaar gelede was daar nie iets soos gay mense nie, daar was net moffies. Skaars twee weke gelede was Steve nog cool. Die aarde draai.

Skielik onthou ek hoe dit voel om ’n roker te wees. Om ’n nikotienstokkie in jou mond in te druk, is nie ’n normale behoefte, soos die behoefte na ’n glas water of ’n wandeling om die blok met jou hond nie. Dis nie werklik ’n keuse nie. Dis ’n dwang.

Vir mense wat verslaaf is aan sigarette is die aksie van rook hulle default mode. Dit is die liggaamstaal waarheen hulle telkens terugkeer. Sonder ’n sigaret in die hand voel hulle onklaar, in ’n ongemaklike verposing. Hulle snak na hulle asem, want vars lug is vir hulle om die een of ander rede nie genoeg nie.

So laasjaar. So twintigste-eeus.

Ek probeer my stoel ’n entjie verder wegskuif. Ek doen dit so luidrugtig as moontlik. Ek wil hê die twee tannies moet besef hoe ek voel oor hulle rokery. Miskien blaas hulle dan ten minste die rook in ’n ander rigting as reguit na my toe?

Maar nou gebeur daar gelukkig iets. Die eienaar van die restaurant kom uitgestap op pad na hul tafel toe. Hy gaan hulle seker vra om binne in die rookafdeling – as daar so ’n plek is – te gaan sit. Intussen het my cappuccino nog nie opgedaag nie, al het ek al twee maal daarvoor gevra. My ongerief word akuut.

Tot my opperste verbasing spreek die eienaar nie die rokende vroue aan oor hul brandende sigarette nie. Inteendeel, hy ken hulle blykbaar. Hy kry iewers nog ’n leë stoel en gaan sit by hulle en gesels. Hulle rook rustig voort.

Die vrou wat eerste gerook het, steek ook weer ’n sigaret aan, al het sy die vorige een so pas doodgemaak.

My cappuccino het nog nie opgedaag nie.

Ek kom tot ’n besluit.

Ek tel my koerant op met al die skindernuus van die afgelope week, vou dit op in ’n netjiese bondel, en stap weg.

Oorkant die straat sien ek hoe die eienaars van Satori’s hul stoele regskuif vir die eerste middagete-gaste. ’n Meksikaanse pizza sal dalk lekker wees?

Bron: http://tesseraguild.com

Ek begin loop in daardie rigting. Niemand rook daar nie. En hulle sal ook cappuccino hê …

Nog een keer kyk ek om na die drie mense by die tafeltjie wat my lewe vir byna ’n halfuur lank so onaangenaam gemaak het. Die mense wat, selfs nou, skaars van my bestaan bewus is. Hulle is nog steeds besig om hulself dood te maak. Hulle kan net sowel daar sit en gelaaide rewolwers op hulleself mik.

Dan verwyder ek myself finaal uit hul dampkring, stap vry uit oor die vriendelike straat, op hierdie pragtige, heuglike Sondag in Linden, weg van my verlede, weg van al die woede en die verslawings en die onnodige kak waarmee mense hulleself gedurig besig hou.

Ek skuld niemand enige verduidelikings nie. Ek hoef nie meer kwaad te wees nie.

Ek is fokken sestig. Ek is nou mooi fokken groot. Al wat ek fokken nodig het, is ’n fokken pizza.

Ek haal diep, diep asem, en gooi die opgevoude Sondagkoerant, sommer so in die verbystap, in die naaste vullisblik.

Waar dit land met ’n oorverdowende knal.

Bron: http://blog.thecelebrationshoppe.com

  • 1

Kommentaar

  • Johann de Lange

    Koos, ek dink álmal wat nie rook nie sal jou nou in die straat wou voorkeer & bedank. Deel van die probleem met rook (& alkohol) is dat dit só deel van menslike gedrag geword het dat dit nie as verslawings registreer nie, ten spyte van oorvloedige getuienis oral om mens. 

     
    Geluk met jou 60ste. Ek staan sélf op die punt om 55 te word, & wat ek wil weet is: hoe de fok het dit gebeur?!  Hoe het ons so vinnig hier uitgekom? Ek onthou soos gister die dae toe ek jou by geleentheid in Sunnyside raakgeloop het. 
     
    Tyd is kosbaar, & gaan so vinnig verby. Maar binne in mens se kop talm dit, & is gister & vandag nie so ver uitmekaar nie. 
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top