Skade en skande

  • 0

Tot my skande moet ek bieg. Ja, dit is alles die waarheid. Daardie skande. Wat die skade betref – dit was hoofsaaklik my waardigheid, selfbeeld of iets dergeliks wat skade gely het. Ewe erg.

Dit was in die jare toe die Transkei nog nie ‘voormalig’ genoem is nie, maar net Transkei en nog meer ongerep as vandag. Veral langs die Wildekus. Waar daar slegs ‘n paar hotelletjies was wat
ryk mense, seker die suksesvolle oud-Setlaars se nageslag, of oorsese toeriste gereeld besoek het.

Die res was gehuggies waar mense vakansieplekkies saamgeflans het en wat meestal toe gestaan het, elkeen met sy watertenk langsaan, die kraan met ‘n slot gegrendel.

Dís waar ek telkens langs die kuslyn gaan voetslaan het na ‘n busrit vanaf Transvaal, ekskuus, Gauteng. Op slaggate vir paaie (wat klein seuntjies gou met sand opvul as hul ons hoor aankom en dan Rand! Rand! roep), of modderige bergpasse wat ‘n mens maar net verby bid.

Wegbly? Nog nooit as te nimmer – ‘n reis is tog immers ‘n avontuur na die vreemde, die onontdekte. Is almal dan nie?

Oom Marnus had ‘n passie vir Transkei. Gebore en grootgeword op Ugie, het hy die wêreld geken soos die palm van sy hand. Die mooiste plekke. Sy enigste verwysing was ‘n
gehawende padkaart waarop hy daagliks die afstand tussen twee bestemmings op ons nie-bestaande staproete met sy duim afmeet. Tien kilometers per (mense) duim. Van ‘n amptelike staproete was daar nog geen sprake nie. Die busbestuurder het ons bagasie padlangs deur slote en dongas gemaneuvreer tot by die bestemming, met die opdrag om daar vir ons ‘n geskikte slaapplek te vind.

Die ‘geskikte slaapplek’ kon enigiets tussen die blote hemel of ‘n vakansiehuis se stoep beteken.Groot stoepe was volop, die huisies gewoonlik almal leeg, rivierwater genoeg. Nie altyd
drinkbaar nie, maar daarvoor had ons pilletjies saam. Ons het niemand gepla of enige skade aangedoen nie.

So is ons eendag kuslangs op pad na Hole in the Wall. Nou, iemand wat nog nie daardie rotswonder gesien het nie, weet nie wat asemrowend mooi is nie. Dit lyk kompleet soos ‘n huisie
met ‘n groen grasdak en ‘n groot, oop ‘deur’ wat in die see staan regoor die riviermond. Met laagwater kan jy rondom hom loop.

Miskien het Oom Marnus se duim die vorige aand gegly met die meet van die afstand, want die stap soontoe was baie langer as beplan en so dus ons aankomstyd later. Marnus was egter nie een wat deur die horlosie aangejaag is nie. “Ons vul die dag,” was sy leuse, dus kon ons maar rustig skulpe, rotse, plante en beeste bewonder langs die pad.

Ja, beeste. Sulke bont Nguni-beeste. Dis net in die Transkei waar beeste die hele dag op die strand loop of lê en herkou om eers láát smiddags terug te keer huis toe, op die rye beespaadjies
langs lowergroen heuwels. Soms moes hulle deur riviere swem, met die wagtertjies wat soos nete aan hul sterte vasklou vir ‘n gratis vaart.

Ons is verras deur die aantal riviere wat ons self moes oorsteek (sonder die hulp van ‘n beesstert, ongelukkig!) By die eerste rivier moes ons besluit. Swem met swemklere aan (en loop nat-nat
verder), of trek droog aan aan die oorkant. Niemand het kans gesien vir die eerste opsie nie, dus kies ons die tweede.

Eers moes ons ‘n ‘kleedkamer’ kry. Maklik. Manne agter daardie bos, vroue agter dié een. Aan die oorkant, ditto. By die tweede rivier was dit ietwat moeiliker, die bosse verder. Ook aan die ander kant. Met elke rivier is die bosse minder en verder weg. Ons raak uitgeput. Toe ons by ‘n rivier kom met géén bosse in sig nie, is die enigste oplossing: manne kyk see toe, dames binneland toe.

Naderhand begin dit donker word. Ons volg Oom Marnus met één flitsliggie oor die laaste heuwel, reg langs ‘n afgrond. Boonop begin dit reën.

Uiteindelik bereik ons die laaste riviermond. Dis so donker dat ons nie eens weet watter rigting ons moet swem nie – en ons moes natuurlik eers weer uit- en aantrek. Met net een flitsie tussen ons kan ons nie nou weg van mekaar nie, dus – noodgeval! Ons staan toe maar in ‘n kring en doen die nodige terwyl ons wonder hoeveel haaie wag daar in die mond. Dis ‘n werklike gevaar by ‘n riviermond met springgety en hoogwater – haaie is dan volop.

Teen daardie tyd is daar reeds ‘n sterk band tussen ons. Ons is al soos familie, saam in die verdrukking. Niemand kla oor die ongerief nie. Voetslaners is die wonderlikste mense. Méér behulpsaam kan jy nie kry nie. Almal kom veilig oor.

Aan die anderkant is dit weer sulke tyd. Ons staan in ‘n wye kring. Maar nou is ons haastig. Die hongerpyne knaag, dis koud, dit reën, ons is nat, moeg, en wil nou net so gou as moontlik by
die bestemming kom. In die stikdonker hoop mens net jy kry die regte kledingstukke in die hande.

Nog is het einde niet. Ons moet eers nog ons moeë lywe teen ‘n steil opdraend uitsleep op ‘n verskoning van ‘n paadjie van glibberige klei – ‘n regte moddernes. Waar iemand sukkel, help die
een agter deur ‘n stootjie te gee. Eindelik is ons almal bo.

Dáár is geen teken van die bus of sy bestuurder nie. Dis reeds tienuur en ons moet nog kos maak. Oom Marnus vind solank ‘n stoep en ons gooi die dagsakkies daar neer. ‘n Paar gaan saam met hom om die bus te soek. Al ons goed is in daardie bus!

Die bure langsaan kry ons groepie bedremmeldes jammer en nooi ons in vir koffie. Rondom die lang tafel in die eenvoudige kombuisie smaak dit soos nektar van die gode! Ek hoor die ander se
stemme buite en gaan hang oor die onderdeur om hulle te roep.

Dis toe dat ek ‘n (geskokte?) stilte voel neerdaal agter my. Skielik selfbewus, gaan sit ek weer en loer benoud na my bene.

Daar’s geen teken van my kortbroek nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top