Siedaar, vyftien jaar – Dorothea van Zyl gesels oor US Woordfees 2014

  • 0

Dit is nog 2013, maar US Woordfees 2014 se program is reeds bekendgestel. Naomi Meyer gesels met Dorothea van Zyl, feesdirekteur vanaf die fees se begin, oor die magiese fees wat sal wees.

Hallo Dorothea, baie dankie dat jy tyd maak om te gesels terwyl die hitte in die kombuis toeneem. En baie geluk met die heerlike feesprogram van 2014. Skop alle reëlings ten opsigte van die US Woordfees van 2014 vanjaar vroeër af?

Hallo Naomi, baie dankie vir LitNet se uitstekende vennootskap met die US Woordfees oor baie jare – ons praat altyd graag met julle. Ons is self nogal in ons skik met die feesprogram noudat al die verskillende koördineerders (en uiteraard die Woordfeesspan) se harde werk die afgelope maande byeengebring is. Almal het werklik met iets besonders vorendag gekom vir die US Woordfees se 15de jaar.

In vergelyking met vorige jare, toe die program eers teen 20 Januarie bekendgestel is, is ons inderdaad veel vroeër. Dit het ’n geweldige spanpoging gekos, met baie laat nagte, maar ons het dit gelukkig gehaal – wat uitstekend is, want ons moet die afgelope maande klaarkom sonder Melt Myburgh, wat altyd baie gedoen het, én die program is ekstra groot vir die 15de fees, ook my laaste as feesdirekteur. Ook die kontrakte en vlugbesprekings is byvoorbeeld vroeër. Dit is danksy Jana Hattingh, ons voortreflike projekbestuurder se baie harde werk en die feit dat sy ons so goed aangepor het! Die US Woordfees raak te omvattend om by vorige jare se skedule te bly, maar nog ’n groot rede is dat ons feesgangers graag meer tyd wil gee om die program behoorlik te bekyk en nou reeds plekke vas te knoop vir gewilde aanbiedings.

’n Tema waarmee mens so baie kan doen: die towerfees van volgende jaar. Vertel asseblief vir ons lesers waar het hierdie idee vandaan gekom?

’n Hele paar mense het help dink aan ’n goeie feestema. ’n Ander voorstel was bv my kollega Ronel Foster se idee van die "veer" van veertien, waarmee ’n mens ook lekker sou kon speel. Uiteindelik het my dogter Janienke, wat hierdie jaar ook die pragtige programuitleg as geskenk aan die US Woordfees gedoen het, na ’n slapelose nag opgewonde gebel met hierdie idee, waarvan ons toe baie gehou het.

Na aanleiding van die kulkunstenaar Martino se "Kul jou hier, kul jou daar – en siedaar”! sê ons (soos baie mense al weet) in 2014: "Kuns hier, kultuur daar – siedaar 15 jaar!" Ons speel dus met die magiese towerkrag van woorde en pluk allerlei hase – en husse – uit ons feeskeil! Dit gaan tog ook om die wonder van die US Woordfees, wat van ’n klein fesie in 2000 uitgegroei het tot ’n enorme nasionale kunstefees met ongeveer 500 items (herhalings ingesluit) op die feesprogram.

Ek sien produksies op die Woordfeesprogram wat hierby aansluit – gesprekke oor kulkuns en towerkuns. Noem vir my die items op die program wat jy as sodanig wil uitsonder, die moet-sien-vertonings.

Ek is bevrees hierdie vraag is vir my te moeilik - daar is soveel dinge op die program wat ek self sou wou bywoon, dat ek wens ek kan myself in verskillende gedaantes omtower sodat ek self soos hase in verskillende rigtings kan spring! Jy weet, towenaars praat mos altyd in uitroeptekens – vanjaar is die jaar van die uitroepteken!

Besonders is wel altyd ons profiele: in 2014 vir Corlia Fourie, Dan Sleigh, Lina Spies en Engela van Rooyen. Die huldiging van Gerrit Brand, wat dikwels by die US Woordfees betrokke was, is ook spesiaal, soos Adam Small (aan wie ons eerste profiel destyds gewy is) se eerste optrede by die fees en TT Cloete (ook ’n voorheen vereerde) se deelname in sy negentigste jaar! André P Brink, Etienne van Heerden, Deon Meyer, Dana Snyman, Johan Bakkes, Elias Nel – ag, daar is te veel wonderlike skrywers om te noem.

Dieselfde geld die hoogstaande musiekprogram, met Nataniël, Laurika Rauch, Elvis Blue, David Kramer, Stef Bos en Koos Kombuis, Heuwels Fantasties en die spesiale US Woordfeesproduksie 15 Vroue, met 15 topsangeresse. Of die keur van wonderlike dramas met die beste akteurs. Daar is ook wonderlike etes en gesprekke met vooraanstaandes. Heel besonders is die groot uitstalling van die TV-poppe wat sterre in eie reg geword het, soos Liewe Heksie en Blommie Kabouter, Sarel Seemonster, Bennie Boekwurm en talle ander. Daar is inderdaad heerlike hoogtepunte in al die verskillende aanbiedings. Ter afsluiting stem ek absoluut saam oor die verdwyning van die kunstenaar agter die kuns – ’n mooi gedagte en beslis geen kulspul nie!

Ek is aanhanger van die US Woordfees. Maar wat onderskei die US Woordfees van die ander kunstefeeste van die land?

Dit is ’n fees met ’n spesifieke fokus, naamlik woorde in die wydste betekenis van dié woord. Die spel-element is vir ons baie belangrik – ons speel graag met woorde en met idees. Daarom het ons ook elke jaar ’n ander feestema, waarby die program, plakkaat en ’n hele aantal items op die program aansluit. Sommige jare sluit selfs ons kleredrag daarby aan, soos by die tema "Groen", of die blou klere wat met 2013 se "Hemels" gepaar is. Dit skep die idee van eenheid binne die verskeidenheid. Alles is daarop gerig om dit vir ons feesgangers so lekker – en in 2014 so magies – as moontlik te maak. Terloops: vanjaar is dit ’n kwessie van hoe bonter hoe beter, maar pers en skakerings daarvan is (soos blyk uit die kleur van die wolk wat uit feeskunstenaar Diek Grobler se Magritte-keil kom op die US Woordfeesplakkaat) wel altyd die kleur wat ek met die magiese assosieer.

Wat is vir jou die lekkerste aspek van die fees?

Die kontak met entoesiastiese feesgangers en al die mense wat ek vanweë die Woordfees leer ken het. Elke jaar kom mense die hele tyd na my toe om te vertel hoe hulle dit geniet en hoe besonders hulle die fees vind. Die feit dat ons gemiddelde bywoningsyfer in 2013 ’n ongelooflike 74% was (teenoor sommige ander feeste wat bly is ook 45-50%) staaf ons indruk dat mense hou van wat ons doen. Daardie spesiale warmte van die Woordfeesgangers sal ek baie mis. Weet jy dat daar mense is wat al veertien feeste tot dusver bygewoon het? Dit is vir my een van die grootste komplimente denkbaar.

En die mees uitdagende?

Die feesomgewing stel geweldige uitdagings, soos finansies, spertye, min mense wat baie uiteenlopende take moet hanteer, moeilike mense (van die universiteitsomgewing en ander instansies tot einste feesgangers), ens. Wium (my man) sê altyd ’n mens kan van een ding seker wees – daar gaan probleme wees. Jy weet net nooit wat dit gaan wees en van watter kant dit jou gaan tref nie (soos 2013 se Die Kerkbode-debakel waarvan die stof nou nog nie gaan lê het nie)! Dit bewerkstellig baie spanning, maar as ’n mens dan tog ten spyte van alles ’n haas uit die hoed gepluk kry, is die gevoel van voldoening des te groter. ’n Mens moet jou wel versoen daarmee dat sommige sake meer as ’n mens se eie towerstaffie nodig het om te werk. Dit moet ’n mens maar agter jou laat en net voortgaan. Dit sal ek minder mis!

Verlede jaar was daar ’n pendeldiens wat ’n nuwigheid was. Is daar enigiets wat  verander het ten opsigte van reëlings op 2014 se program?

Ek is bly jy noem die pendeldiens, want baie mense besef nog nie dat hulle spotgoedkoop parkering met toesig kan kry by Hoërskool Stellenbosch en dan kan pendel na die ander Woordfeesplekke nie. Met die verkeer op Stellenbosch kan jy jouself baie spanning spaar. Wat plek betref: Ons wy vir die eerste keer die voortuin van ons nuwe tuiste, Erfurthuis, in as die Erfurtkafee, in die plek van die Plataankafee en sal ook Woordfeeskaartjies in Erfurthuis verkoop vanaf 3 Februarie 2014. Die Neerlandistiekdag is ook daar, op die eerste Saterdag, en Aan de Braak het mos nou ook verskuif na Erfurthuis. Hulle bied ’n spoggerige program aan om dit te vier.

Daar het baie skuiwe by die US Woordfees plaasgevind. Julle kantoor is nou in die mooi Erfurthuis in Stellenbosch. En, amper nog meer radikaal: Ons verneem dat 2014 jou laaste jaar as feesdirekteur is, omdat jy aftree. Wat was vir jou hoogtepunte tot dusver die afgelope vyftien jaar?

Dit is my laaste US Woordfees as feesdirekteur, maar ek tree darem eers aan die einde van 2014 af. En gelukkig voel ek nog nie veel anders as toe ek (saam met Ronel Foster in my departement en die drie by die Departement Drama) 15 jaar gelede met die Woordfees begin het en 10 jaar gelede met die WOW-projek nie – dalk pluk ek in die toekoms nog ’n haas of hus uit my hoed! Een van die mees magiese momente is nog altyd vir my met die heel eerste Nag van Passie, toe ek om sewe-uur die oggend na ’n nag van hoogtepunte op die verhoog staan en besef: ons het dit gehaal en dit was wonderlik! Dit is my nis hierdie. Buiten vir die twee daaropvolgende Woordfeeste wat my om verskillende redes met ’n harde klap aarde toe gebring het, en dinge soos die Dan Roodt-debakel van 2005 wat besondere uitdagings gestel het, het elke Woordfees nog vir my betowerende ure besorg – soms oor die fenomenale kunstenaars en skrywers se optredes wat ek kon meemaak, soms weens klein menslike gebeure agter die skerms, dikwels as daar begrip en erkenning is vir wat die Woordfees en sy WOW-projek wil bereik.

Alhoewel jy nie aanbly nie, was die US Woordfees jou breinkind. Wat is jou visie vir hoe hierdie kind nog groter en groter in die toekoms sal word?

Die Woordfees sal versigtig bestuur moet word sodat dit groei en nie kwyn nie – dit is ’n delikate proses, maar gelukkig het die fees al ’n eie plek verwerf, met baie lojale ondersteuners. Veral gelukkig is dat my wonderlike Woordfeesspan voortgaan. As my (nog onbekende) opvolger voldoende ruimte laat vir hulle inisiatiewe en kreatiwiteit, sal dit goed bly gaan en sal die fees in ’n nog groter mate nasionaal én internasionaal as ’n impakspeler op kunstegebied beskou word.

Aftree beteken sekerlik nie vir jou dat jy nie sal besig wees nie. Wil jy enige van jou planne vir die toekoms verklap?

Ek is (helaas) nie die tipe mens wat maklik kan terugsit nie. My boek oor die Woordfees sal eerstens afgerond kan word (dalk opgevolg deur ’n memoir as ek nie te veel vergeet met die ouderdom nie!) en verder sal ek graag weer self iets kunstigs wil aanpak. Ons beplan ook ’n lekker lang reis waarna ek baie uitsien. Die ander idees gis voorlopig in die hoed – dit hang van verskillende faktore af.

Hier is die volledige program van US Woordfees 2014


Sign up for LitNet’s free weekly newsletter. | Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief.


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top