Seks, siepsop en braaiboud

  • 0

Die aktrise Yvonne van den Bergh se onthulling op Facebook dat sy BDSM (sadomasochisme en gebondenheid) as haar “tweede beroep en groot liefde” beoefen, het die tonge behoorlik los. Baie mense is skynbaar heeltemal onbewus van wat hierdie alternatiewe seksuele lewenstyl behels of weet bitter min daarvan af. Jean Oosthuizen het by die seksuoloog Johann Lemmer gaan kers opsteek om meer daaroor uit te vind.

Kan jy kortliks verduidelik presies wat BDSM is en waar dit vandaan kom?

Johann Lemmer

Jean Oosthuizen

BDSM is so oud soos die mensdom self en verreweg die hoogste vorm van veilige seksuele/sensuele aktiwiteit wat bestaan, maar dit word ook die meeste misverstaan en verwar met kriminele en patologiese sadomasochisme, terwyl dit presies die teenoorgestelde is.

Die letters BDSM staan onderskeidelik vir die Engelse woorde bondage, discipline/dominant, submissive/slave/sadism en masochism/master. BDSM is egter veel meer as dit waarvoor die letters staan. Dit is sluit alle fetisj en alle kink in en maak deel uit van een van tien onderafdelings van seksuologie (die wetenskaplike bestudering van seksualiteit), naamlik alternatiewe seksualiteit (LGBT: lesbies, gay, biseksueel, transseksueel en ander, en dan ook BDSM). Sedert 1972 is daar ’n nou band tussen LGBT en BDSM, maar nie alle LGBT-mense beoefen BDSM nie en omgekeerd. http://en.wikipedia.org/wiki/Leather_subculture#Association_with_BDSM

Sonder dat hulle dit noodwendig weet, beoefen verreweg die meeste mense BDSM of het hulle minstens BDSM-fantasieë. Navorsing deur dr Brett Kahr 10 jaar gelede onder 19 000 Britte het gedui op soveel as 40 persent, en dit was lank voor 50 Shades of Grey.

BDSM word beskryf as “an activity in which the participants eroticize sensations or emotions that would be unpleasant in a non-erotic context. … [T]he participants have one another's well-being as their paramount goal” (The Topping Book).

“The knowing use of psychological dominance and submission, and/or physical bondage, and/or pain, and/or related practices in a safe, legal, consensual manner in order for the participants to experience erotic arousal and/or personal growth” (SM 101).

Die kern waarom BDSM draai, is:

  • Die omskakeling van emosionele en/of fisieke pyn in innerlike genesing en/of fisieke genot.
  • Die ongeëwenaarde bevrediging deur vir iemand anders soveel kwaliteit-plesier te verskaf.
  • Ongekende emosionele en/of seksuele en/of fisieke ontlading.
  • Die hoogste vorm van sensualiteit en orgasmes.
  • Magspeletjies en die omruil van magsrolle. Die swakkere is by BDSM in beheer.
  • Geen diskriminasie van enige aard nie. Mans en vrouens is gelyk. Vrye assosiasie/disassosiasie.

BDSM bied letterlik duisende opsies om van te kies en elke mens het sy of haar eie voorkeure en afkere. Dit wissel tussen om met ’n veertjie gekielie/gestreel te word tot erge lyfstraf – die ingeligte keuse berus by elke individu.

Ononderhandelbare beginsels van BDSM is: SSC, wat safe, sane, informed consent between adults aandui, en RACK, vir risk awareness consensual kink.

BDSM is die afgelope paar jaar sterk bemark by Sexpo en het groot aftrek by derduisende mense gekry. Daar is ook veilige BDSM-klubs regoor Suid-Afrika (met duisende lede) wat deur die internet bereik kan word.

Vir my en die meeste mense is dit ’n vreemde verskynsel en talle beskou dit as ’n seksuele afwyking. Wat is jou kommentaar hierop?

The Diagnostic and Statistical Manual (DSM) bepaal wetenskaplik wat seksuele afwykings is en wat nie. Tot onlangs was beide homoseksualiteit en BDSM “seksuele afwykinge” volgens DSM. Beide is egter nou verwyder, omdat dit op geen manier klinies-wetenskaplik as seksuele afwykinge beskou kan word nie. My kollega prof Charles Moser het ’n groot rol gespeel om dit op te klaar. Net ’n oningeligte mens wat nie ’n “clue” het waaroor BDSM gaan nie, sal dink dis ’n “seksuele afwyking”.

Cross en Matheson (2006) het empiriese navorsing onder ’n niekliniese bevolking van BDSM-verskaffers onderneem en “found no support for the view that sadomasochism is an illness – [their] measures of mental illness did not differentiate sadomasochists from non-sadomasochists”.

Connolly (2003) skryf:“Indeed, if anything, our findings suggested that members of the BDSM community are less likely than others to present with major disorders […] Moreover, BDSM players had no greater levels of psychological sadism or masochism, disorders in which the sufferer either derives pleasure out of genuine cruelty (not the play-acting kind) or compulsively seeks out harmful levels of pain.”

Jy sê BDSM het niks met geweld te doen nie, maar tog gaan dit gepaard met erge lyfstraf. Daar word onder meer gebruik gemaak van verskillende implemente, onder andere swepe en sambokke. Dit kan tog sekerlik nie gesond wees om jou liggaam aan sulke pyn te onderwerp nie?

Slegs ongeveer vyf persent van almal wat BDSM beoefen, het ’n behoefte aan lyfstraf en slegs ongeveer 20 persent van almal wat BDSM beoefen, het enigiets met pyn te doen. Dit is uiters onbillik teenoor 75 persent van almal wat BDSM beoefen om dit aan pyn te koppel. Verder moet die keuses van die 25 persent wat wel behoefte daaraan het, respekteer word. En ironies genoeg: die pyn wat hulle kies, is vir hulle veel meer psigies en/of selfs fisiek gesond as om aan boks of rofstoei deel te neem en veel minder gevaarlik en skadelik as verskeie sportsoorte en/of stokperdjies. Een goue reël in BDSM is “no permanent bodily harm” en dit gebeur uiters selde (indien ooit) dat hierdie reël oortree word. Daarvoor bestaan daar net te veel veiligheidsmaatreëls. Sommige mense voel veel beter na ’n pak slae as na die trek van ’n seer tand. Maar ... “different strokes for different folks”.

Amateurs kan beslis skade aanrig en opdoen as hulle nie weet presies waaroor BDSM gaan en hoe om dit veilig te beoefen nie.

Kopergravering, omtrent 1780 (Bron: Wikipedia)

Verskoon my onkunde, maar hoe kan dit ’n “kuns” wees om ’n naakte persoon vas te bind en met ’n rottang of sweep by te kom? Is dit nie barbaars nie?

Touwerk is regtig ’n kunsvorm en jy moet dit sien om dit te waardeer. Voortrekkerknope kan gaan slaap! En dan moet jy sien hoe netjies parallel die houe is. Yvonne van den Bergh is regtig ’n kunstenaar op hierdie gebied. Niks van onbeheerste kruis en dwars se gemoerdery nie. En baie belangrik: net op die sagte vleisies waar daar nie permanente skade kan wees nie.

Enigiemand wat nou lus kry om dit vir die eerste keer te wil waag, moet eers by ’n ervare persoon die kuns leer en oefen – of dit nou ontvang of uitdeel is. Hier is ten minste emosionele en fisieke ontlading. Weer eens: Boks en rofstoei is vir my veel meer barbaars ... en valskermspring en talle ander voorbeelde – veel meer gevaarlik.

Is daar enige ander tipe implemente wat gebruik word om straf uit te deel?

Sjoe, jy fokus baie op straf! Dis Yvonne se afdeling en sy het reeds die meeste strafimplemente genoem met haar bekentenis op haar Facebook-blad. Daar is ook nog die “birch”, wat bestaan uit ’n klomp dun saamgebinde latjies en na bewering die seerste maak. Die rottang is egter hier die mees bekende (en die mees gevreeste-geliefde onder die vyf persent wat van slae hou), met verskillende variasies in dikte en soorte.

Verskillende implemente verskaf verskillende sensasies. Verreweg die meeste BDSM-beoefenaars verkies die “flogger” (talle repies leer), wat baie minder pynlik is, maar ’n ongelooflik sensasionele uitwerking op die hele lyf kan hê en ook die grootste verskeidenheid van sensasies kan verskaf met een implement. Dit het natuurlik niks met straf te doen nie en alles met sensasie en magspeletjies, wat die kern van BDSM uitmaak.

Die beoefenaars van BDSM sê dit is nie gevaarlik nie. Maar watter versekering is daar dat dit wel die geval is? Watse kontrolemaatreëls is daar om te sorg dat dinge in die “strafkamer” nie handuit ruk nie?

Niks in die lewe is 100 persent veilig nie. Onkunde en gebrek aan ervaring is die grootste gevare as dit by BDSM kom. Die dominante persoon is elke oomblik van die proses in voeling met die emosionele en fisieke toestand van die ontvanger. Ononderbroke kommunikasie geskied verbaal en/of nie verbaal nie, soos vooraf ooreengekom. Deur die stopwoord (bv “rooi”) te gebruik word die proses onmiddellik gestaak en die ontvanger vinnig losgemaak. Die woord “groen” is weer ’n aanduiding vir die strafmeesteres dat sy te sag slaan. So is daar talle en talle veiligheidsmeganismes. Selfs in die manier waarop die toue geknoop word sodat dit binne sekondes losgemaak kan word.

Niks gebeur in BDSM wat nie ten minste in beginsel vooraf bespreek en oor ooreengekom is nie. Niks gebeur wat nie dadelik deur die ontvanger gestop kan word nie. Anders is dit nie BDSM nie.

'n Muurskilery in die Etruscan-graftombe, vyfde eeu vC. (Bron: Wikipedia)

Kan dit nie aanleiding gee tot gesinsgeweld nie?

Allermins. Die teendeel is ongetwyfeld waar. BDSM voorkom gesinsgeweld. Aggressie, emosionele en seksuele frustrasies word deur BDSM ontlont. Navorsing deur dr G Hoff het gewys dat die meeste paartjies wat BDSM beoefen, ’n baie diep gelukkige en vervulde verhouding en seksuele lewe het. Die duisende gelukkige paartjies op die fetlife-webblad bevestig dit.

Ek het reeds herhaaldelik gemeld dat straf (slaan) baie min voorkom (vyf persent) by alle beoefenaars van BDSM. En selfs dan geskied dit nooit sonder die wense van die een wat gestraf of geslaan word nie.

Daar is dus baie verskillende tipes BDSM. Dit kom ook sterk na vore in die boek 50 Shades of Grey. Is daar al enige navorsing gedoen oor hoe wyd hierdie verskynsel is en onder wie dit voorkom?

Studies wat 15 tot 20 jaar oud is, het reeds daarop gedui dat 25 persent van die populasie betrokke is by BDSM-aktiwiteite (Richters ea 2003; Wiseman 1996),terwyl nog baie meer aangedui het dat hulle belangstel. Navorsing deur dr Brett Kahr 10 jaar gelede onder 19 000 Britte het gedui op soveel as 40 persent en dit was lank voor 50 Shades of Grey. Tans is die persentasie nader aan 60.

Ek doen self die afgelope 14 jaar intensiewe navorsing oor BDSM en het ook lesings by ’n groot wêreldkongres in 2011 in Glasgow vir meer as duisend professionele kollegas hieroor gegee. Baie van my nagraadse studente spesialiseer ook in alternatiewe seksualiteite by my Akademie. Prof Charles Moser is egter tans die man aan die stuur van BDSM-navorsing in die wêreld en het verskeie boeke hieroor publiseer. Kyk gerus vir verdere akademiese inligting na www.tashra.org, https://carasresearch.org en www.sexology.co.za.

Koop 50 Shades of Grey by Kalahari.com

Het die boek 50 Shades of Grey daartoe bygedra om BDSM meer aanvaarbaar en selfs meer hoofstroom te maak?

Ongetwyfeld. Tog moet ons onthou dat 50 Shades of Grey fiksie is en dat die skrywer maar ’n beperkte insig toon in BDSM. Dit is gevaarlik om BDSM te beoefen as 50 Shades jou enigste bron van inligting is.

Sommige beoefenaars van BDSM beweer hulle beoefen geen seksuele aktiwiteite in die strafkamer nie, maar baie mense vind dit moeilik om te glo. Is dit so?

Maklik 20 persent (en selfs meer) van alle beoefenaars van BDSM skei BDSM en seks en beoefen dit inderdaad aseksueel. In Suid-Afrika is die persentasie aseksuele BDSM-mense baie hoër en in die VSA baie laer.

Daar is ook ’n sogenaamde kuns genaamd Bastinado/Falaka. Dit verwys na wanneer die voete met 'n rottang geslaan word. Waar kom dit vandaan en wat behels dit?

Bastinado is veral bekend in die Midde-Ooste, maar het reeds in 960 nC in China voorgekom. Vandag is dit hoofsaaklik gewild omdat die slaanmerke nie so opsigtelik is nie en die ontvanger minder (of niks nie) het om te verduidelik.

Jy was self al in die nuus oor jou uitsprake ten opsigte van BDSM. Sommige mense verwys na jou as ’n kwaksalwer met bedenklike kwalifikasies. Wie is Johann Lemmer en waarom is jy so omstrede is sommige kringe?

Jean, ek is bevoorreg om nasionaal en internasionaal ’n erkende bydrae te kon (en steeds te kan) lewer om seksologie as wetenskap te bevorder en om op groot skaal daartoe te kon bydra om mense se seksuele geluk te verdiep. Dwarsoor die wêreld ontvang ek steeds erkenning van akademiese kollegas en nuwe uitnodigings na hoog aangeskrewe wêreldkongresse.

Die Afrikaanse Sondagkoerante publiseer reeds sedert 2010 sensasionele berigte wat ek voel baie ver verwyderd is van die waarheid. Daarop kon ek hulle nie soos Yvonne voorspring en met die waarheid vorendag kom nie.

So is daar byvoorbeeld berig dat ek oor die Barbie-hofsaak sou gesê het dat Dirk Prinsloo en Cezanne maar net onskuldige BDSM beoefen het. Die teendeel is waar. Mense kan maar net lees wat ek geskryf het in my boek Advokaat Barbie – wat regtig gebeur het, waar ek juis skryf oor die verskil tussen BDSM en patologiese seksuele sadisme, en kyk na die lesings wat ek by die WAS-wêreldkongres in 2011 hieroor gegee het.

Ek is nog altyd konsekwent in wie ek is en wat ek sê. Ek lieg nie op my CV met al my baie kwalifikasies, beroepservaring in seksuologie en nasionale en internasionale erkenning nie.

Die negatiewe teen my word gedryf deur beide ekstremes van moralisme en oppervlakkige perversies asook professionele jaloesie. Mense moet my maar Google en dan glo wat hulle wil.

Waar kom jou belangstelling in BDSM vandaan en beoefen jy dit self ook?

Die wetenskaplike bestudering van seksualiteit is reeds vir 15 jaar die fokuspunt van my lewe, my passie en my daaglikse beroep. BDSM (en nou praat ek van die 75 persent sensuele BDSM) is vir my die kersie op die koek van seksualiteit. Niks meer en niks minder nie. Ek kan ook maklik die koek geniet sonder die kersie. Akademies is ek voortdurend daarmee besig – persoonlik selde. BDSM vorm ongeveer tien persent van die akademiese leerplan wat ek al jare lank doseer.

Wat is die grootste wanpersepsie wat mense van BDSM het?

Die wanpersepsie om te dink dat BDSM om geweld, slaan, “abuse” en seermaak gaan.

Illustrasie in Fanny Hill deur Édouard-Henri Avril. (Bron: Wikipedia)

Jy is iemand met ’n teologiese agtergrond en tog is jy baie simpatiekgesind teenoor diegene wat BDSM beoefen. Is dit nie ’n teenstrydigheid wat met morele waardes bots nie?

Hoegenaamd nie. Praktiese (pastorale) teologie en seksuologie is albei empiriese handelingswetenskappe wat baie gemeen het. Science describes – science does not prescribe. Die etiek van die wetenskap geld vir teologie, seksuologie en BDSM. Etiese beroepskodes met die oog op die beoefening van die praktyk geld ook vir almal: teologie, seksuologie en BDSM. Volgens my verstaan van BDSM speel die belang en geluk van die ander die bepalende rol. Ek glo nie mens kan hoër morele waardes as dit kry nie.

Is dit dus verkeerd om ’n verband te trek tussen beoefenaars van BDSM en ’n onetiese of beginsellose lewenstyl?

Beslis. Die wetenskap en die teorie van BDSM bewys dit is nie waar nie. Beoefenaars van BDSM, soos Yvonne van den Bergh en letterlik honderde ander oor die wêreld wat ek baie goed ken, is mense met hoë etiese waardes. BDSM-etiek en die beginsels van SSC en RACK waarna hier bo verwys is, is ononderhandelbaar vir almal wat die naam BDSM wil gebruik. Anders is dit “abuse” en krimineel.

Natuurlik kom seksuele losbandigheid ook voor onder baie beoefenaars van BDSM, maar dit maak hulle nie oneties en beginselloos nie. Different strokes for different folks.

Is daar enige verband tussen BDSM en sogenaamde swinger-klubs, waar paartjies seksmaats uitruil?

Nee, nie noodwendig nie. Daar mag toevallige oorvleueling wees. So bied ’n swinger-klub in Midrand ook een maal ’n maand ’n BDSM-aand aan, maar dit is meestal ander mense wat nie noodwendig “swingers” is nie.

Het jy enige raad vir mense wat wel in hierdie tipe lewenstyl belangstel?

Moenie oningelig in BDSM instorm nie. Maak eers jou eie deeglike studie van dit waarvan jy hou en praat met mense wat die leefstyl ken. BDSM-klubs is ’n veilige beginpunt. Jy kan eers net waarneem, en almal is vriendelik en ordentlik, anders word hul uitgegooi. Privaat “kenners” kan gevaarlik wees en is beslis nie aan te beveel vir beginners nie.

Daar is letterlik honderde moontlikhede wat BDSM bied. Waarskynlik sal daar net ’n paar “kinky” dinge wees waarvan jy hou. Die meeste beoefenaars van BDSM hou nie van 80 persent van dit wat BDSM alles bied nie, maar hulle geniet hul unieke 20 persent ten volle en is nie veroordelend teenoor die ander nie. Miskien is daar dinge waarvan jou maat hou en jy nie – probeer dit ter wille van jou maat een keer, maar slegs as jy neutraal daaroor is, maar onder geen omstandighede as jy sterk negatief daaroor voel nie.

Hier is twee skakels wat kan help.
www.fetlife.com
www.collarme.co.za.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top