Sandra se laaste reis

  • 4

Sandra val-sit op haar dun matrasbed met die lakens en krap-krap grys kombers, en vir ’n paar sekondes maak sy haar oë toe. Sy sweer sy kan die sonbesies hoor terwyl sy op die plaas se klipmuur sit wat hulle en die Van Rensburgs se plaas skei. Sy voel groter as wat sy is, terwyl sy oor die karooveld uitkyk en die warmte van die muur teen haar eie lyf kan voel. Dan klop iemand doelbewus hard aan die tronksel se deur, en sy skrik wakker uit haar eie gedagtes.

“Maak u self maar reg juffroutjie, jou laaste ete word oor ’n paar minute bedien.”

Die wit polisieman met sy oorbodige groot snor, kan sy sien het ’n grynslag op sy lippe, terwyl hy die sweet van sy voorkop afvee. Dit is al lankal winter, maar die bedompigheid in Pretoria laat Sandra voel hoe haar eie sweet die wit sonrokpakkie aan haar borste laat klou. Sy vat senuagtig aan haar rokpakkie, dieselfde sonrokpakkie wat sy 3 jaar gelede gedra het toe sy tot die dood veroordeel was, mag sy vandag weer dra. Net vir ’n ruk. Haar laaste dag. Die son is nog nie op nie.

Rustig Sandra, rustig, sê sy vir haarself. Haar gedagtes spring na die kinders, en na Phillip. Phillip met sy stink asem en vingers wat altyd na vis geruik het. Maar dit is by Yassiem wat haar kop ronddans-reis. Sy dink aan die eerste keer toe sy hom gesien het, en dadelik geweet het dat hy met sy donker blou hemp en swart broek, haar lewe interessant sal maak.

Dan klop haar hart vinniger en sy dink aan Yassiem se woorde wat weg gewaai was deur die suidooster op Muizenberg se strand.

“Ons gaan nog ryk wees ek en jy!”

“Wat?” probeer Sandra die woorde wat wegwaai te hoor.

“Ek sê ons ga nog rol in die moola!” Dan vat Yassiem aan haar hand en glimlag breed vir haar.

Sy het geweet van die eerste dag dat Yassiem lief is vir ’n paar dinge in die lewe; vrouens met mooi borste, Oros-koeldrank met baie ys, om tik te rook, en groot te droom. Sandra onthou haar buurvrou se woorde: “Nie ons dam se eend nie Sandratjie, hy is ‘n armgat met ’n millionaire se droom.” Maar dit maak nie saak nie, dink Sandra, ek moet net dink aan die karooveld vandag.

Die ete wat bedien word is wit roosterbrood met mieliepap en baie suiker met botter. Sy stoot die papbordjie weg. Wat maak dit tog saak? Dis net-nou alles verby. Sandra konsentreer nou hard aan die karooveld. Sy probeer die name van al die plante wat haar pa vir haar geleer het op te noem in haar gedagtes. Bergpatat. Kankerbossie. Jakkelsbos. Wynruit. Lukwart-boom. Kruitjie-roer-my-niet. Hoekom kan sy nie die ander se name onthou nie?

Sy dink aan Mitchells Plein. Highlands Drive. Met die uitkyk oor die Lentegeur-malhuis. Oor die tuin waar niks wou groei nie. Die reuk van die see wat haar altyd tuis laat voel het. Sy maak haar oë styf toe. Wolfgat-natuurreservaat, dit is waar sy nou sou wees. Sy sou soek na die vetplant met die helder pienk blommetjie, na die skilpaaie. En dan die see! Haar geheime duin in Wolfgat waar sy die uitsig kan sien op die berg en die gedruis van die golwe haar rustig kon maak. Sy kan die swart mosselvanger met sy helder oranje bek sien loop op die strand. Hoe sy die mosselvanger wegjaag deur ’n klip na sy kant te gooi.

Sy kyk stip na Yassiem, wat haar kyk vermy.

“Kyk na my jou bliksem,” prewel sy. “Jy het my belowe Yassiem!”

Dan voel Sandra hoe die trane vir die eerste keer oor haar wang stroom. Sy sien die wit kamer met die son wat net-net besig is om die kamer helderder te maak as wat nodig is. So helder soos daglig, dink sy. Dit is die eerste keer dat sy Yassiem sien in amper twee en ‘n halwe jaar.

Dit was dieselfde buurvrou wat altyd so jaloers was soos die duiwel op ’n siel wat haar aan Phillip loop verklap het. Sandra se gedagtes hardloop nou vinnig. Yassiem kyk nie meer vir Sandra nie, sy kop is net vooroor gebuig terwyl hy ’n gebed prewel. Vark, dink Sandra.

Wildeals, salie, roosmaryn, tiemie, koljander, sitroenkruid.

Sandra voel die tou wat haar hande agter haar rug vasmaak. Die vyf toue wat oor die balk hang, is nou in volle sonlig. Daar is die klomp polisiemanne en paar mans in gewone pakke wat senuagtig op en af stap.

Skotse gousblom, koorskruid, laventel, krimpvarkie.

“Kan dit nie net nou klaarkom nie!” prewel Sandra.

Die polisieman wat haar vra of sy enige laaste woorde het. Sandra frons en wonder wat dit tog saak maak. Sy skud haar kop nee. Die trane vloei nou onbeheerd oor haar wange. Sy snuif hard.
Die swart sak word oor haar kop gesit en Sandra ruik Old Spice-naskeermiddel aan die polisieman. Nou bewe sy verskriklik. Sy voel koud.

Jakobregop, Kamille, Soetdoring. Sy kan die geskarrel van voete om haar hoor.

Dit is die sonbesies wat haar gedagtes wegvat. Sy is terug by die klipmuur en kyk op. Daar is nie ’n wolk in sig nie, die karoo-blou se lig het ’n wit skynsel. Iewers hoor sy duidelik die geroep van ’n valk. Wat sal ’n valk tog hier op die barre grond vind? Die sweetdruppels wat oor haar borste hardloop. Vuurwarm. Sy kan die droë grond met sy ysterklip ruik. In die verte sien sy die basterdonkies staan onder die enigste boom in haar sig. Die windpomp lyk of dit wil-wil beginne draai en gaan staan dan stil. Die water in die klein dam is donkergroen en lyk vir Sandra baie aanloklik.

Dan.

Niks.
____________________________________________________________________________________________________________

Opgedra aan Sandra Smith, die laaste vrou wat op 2 Junie 1989 in Suid-Afrika gehang is.

  • 4

Kommentaar

  • Baie mooi geskryf. Ek kon my inleef in haar gevoelens en wat sy deurgemaak het, sien wat sy gesien het en die kruie ruik.

  • Danie Joubert

    Dis vol emosies en reuke wat die storie baie mooi vertel, mens laat in leef in die arme vrou se laaste oomblike. Pragtig.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top