SA-illustreerders: Alex van Houwelingen

  • 0

Naam
: Alex van Houwelingen

'n Skrikkel, deur
Alex van Houwelingen

 

Wat is jou "day job"?

My beroep is vryskut-illustreerder. Dit is boonop ook my passie. Ek bied tussendeur ook ’n bietjie kuns aan by ’n klein skool.

 

Is jou werk al gepubliseer?

Baie handboeke en ook die Zackie Mostert-reeks (Jaco Jacobs, Lapa Uitgewers), Grappe van A-Z (Maritha Snyman, Lapa Uitgewers) en ook Visa se Financial Football en African Cities Guide (aangebied deur Visa en MojaNation). Ek doen ook gereeld werk vir onder andere Macmillan SA, Oxford University Press en Cambridge University Press.

 

 

Hoe het die illustrasie-gogga jou gehap? 

Ek het nog altyd geteken en toe ek in die laerskool was, het ek ’n comic strip geteken, genaamd Johan en sy stad. Die kwaliteit was twyfelagtig. Ek het mettertyd gelukkig beter geraak en dit meer as ’n loopbaan beskou.

In watter medium werk jy, en waarom verkies jy dié spesifieke medium? 

Ek werk in enige medium. Ek besluit meestal wat ek gaan doen as die projek begin. Meestal kies ek om my illustrasies op die rekenaar in te kleur. Mens kan baie eksperimenteer en ’n pentablet laat dit nog steeds voel asof mens op papier werk.

Is daar spesifieke genres of tipes tekste wat jy die graagste illustreer?

Dis lekker om ’n boek met baie verskillende karakters te illustreer. Dis goeie afwisseling.

Lees jy graag, en indien wel, wie is jou gunsteling-skrywers? 

Ja, en as ek lees, lees ek die boek meestal in een dag klaar. My gunsteling-skrywers is Khaled Hosseini en Simon Carmiggelt. Ek hou die meeste van kortverhale met goeie karakters.


Wie is jou illustrasiehelde? Is daar ander illustreerders wat jou ontwikkeling as illustreerder en jou styl beïnvloed het?

Ek dink ek word beïnvloed deur enigiemand wat goed is. Op universiteit het ek die meeste geleer deur saam met my vriende (Theo Krynauw en Gerhard Cruywagen) te teken in ons kampus-koffiewinkel. Maar ek kry ook idees en inspirasie deur byvoorbeeld na kinderkuns te kyk of na die kuns van die leerlinge by die skool. Verder is een van my helde Fiep Westendorp, ’n Nederlandse illustreerder, al dink ek nie my werk is baie soos haar illustrasies nie.

Saam met watter skrywer, lewend of dood, sou jy die graagste wou werk, en waaroor sou die fiksionele boek handel waaraan julle werk?

Annie MG Schmidt of Simon Carmiggelt. Die boek moet gaan oor oumense wat sleg behandel word in ’n ouetehuis en ’n kind wat hulle lei in die revolusie teen die egoïstiese bestuurder van die ouetehuis. Ek hou daarvan om oumense te teken. Helaas is daar nie ’n groot mark vir kinderboeke wat gaan oor oumense nie (dink ek).

Wat is die een bestaande teks wat jy die heel graagste sou wou illustreer?
 
Ek dink ek sou graag Spud (van John van de Ruit) wou illustreer. Enige boeke met stories oor eiesinnige karakters klink ook goed. Onlangs het ek Riaan Cruywagen se Wat’s Nuus? gelees en dit het my ook lus gemaak om dit te illustreer, veral omdat dit elke mens se droom behoort te wees om Riaan Cruywagen te teken.

Het jy ’n ideale leser/gehoor in gedagte wanneer jy ’n illustrasie maak?

Nee, die gehoor moet net daarvan hou en hopelik maak ek die lees-ervaring net effens beter met my illustrasies.

Is daar een illustrasie/illustrasieprojek uit jou loopbaan wat uitstaan as absolute gunsteling?
 
Die Zackie Mostert-reeks staan uit, want ek kom agter dis nogal populêr onder die lesers en ek het self ook baie van die stories gehou. Dit was ook lekker om die projekte vir Visa (Financial Football en African Cities Guide) te doen, want die ontwerpers by MojaNation het die illustrasies goed geïntegreer by hul ontwerpkonsep.

Vir meer inligting oor Alex en sy werk, besoek sy webwerf.

Keer terug na die SA-illustreerders indeksblad.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top