Kuns-onderhoude | Art Interviews

 
SA-illustreerders: Aletta Dorfling

Naam
: Aletta Dorfling


'n Skrikkel, deur
Aletta Dorfling 

Wat is jou "day job"?

Ek gee visuele kuns vir graad 8’s tot 12’s by die Hoërskool DF Malan. Skoolhou is ’n ideale plek waar inspirasie vir uitlandse karakters die heeltyd tot jou beskikking is.


 

Is jou werk al gepubliseer?

Nee, ek werk tans vryskut aan kleiner projekte en ontwerpe wanneer die rooi pen my nie besig hou nie.

Aletta Dorfling is die ontwerper van die ikoon van LitNet Akademies Kuberklas se Wetenskapfiksie-kompetisie wat tans aangebied word.

LitNet Akademies Kuberklas nooi leerders in gr 10 tot 12 uit om hul verbeelding vrye teuels te gee en ’n Afrikaanse wetenskapfiksie-kortverhaal van 700 tot 1000 woorde te skryf.

Lees nog oor hierdie kompetisie.

 

Hoe het die illustrasie-gogga jou gehap? 

Cora Coetzee se illustrasies in Belladonna Primadona (Philip de Vos) het my as kind gefassineer. Dit was wonderlik om te dink dat daar ’n prente-“deur” is waardeur jy die karakters as’t ware kan ontmoet. Wanneer die logge operasangeres in die doodsnikke van Tosca haar sprong maak, is dit die vlieënde poffervoetjies wat die storie vertel.

In watter medium werk jy, en waarom verkies jy dié spesifieke medium? 

Pen en ink. Dit is ’n baie veelsydige medium wat ewe veel trefkrag aan senuagtige krabbels en sterk lyne gee.

Is daar spesifieke genres of tipes tekste wat jy die graagste illustreer?

My werk neig dikwels tot die makabere, maar oor die algemeen geniet ek enige genre. Illustrasies wat met potsierlike kinders of diere te make het, is ’n voorliefde.

Lees jy graag, en indien wel, wie is jou gunsteling-skrywers? 

Ja, Thomas Hardy, die Brontë-susters en Daphne du Maurier se kortverhale is veral ideaal vir wroegende wintermaande .


Wie is jou illustrasiehelde? Is daar ander illustreerders wat jou ontwikkeling as illustreerder en jou styl beïnvloed het?

Edward Gorey se onverwagse humor word meesterlik in sy werk uitgebeeld. Twee stokmaer figure in ’n koekepan vorder met moeite op ’n treinspoor. Hulle gaan onderdeur ’n brug en dan kom niemand anderkant uit nie ... Ander helde sluit in Thomas Ott (veral sy lyngebruik). Ook EH Shepard se tekeninge vir The Wind in the Willows wat deur ’n paar lyne ’n karakter se hele persoonlikheid kan raakvat en Lynd Ward se kragtige houtsnee-illustrasies.

Saam met watter skrywer, lewend of dood, sou jy die graagste wou werk, en waaroor sou die fiksionele boek handel waaraan julle werk?

Minnie Postma het inheemse verhale in haar bundel Legendes uit die misrook oorvertel. Die storie van Hlankanyana wat net na sy geboorte na die kraal toe stap en sê: “Pa van my, gee vir my vleis” is ’n toneel wat altyd in my kop vasgesteek het.
Wat is die een bestaande teks wat jy die heel graagste sou wou illustreer?
 
Oskar Prozesky het ’n wonderlike boek, Grobbelaartjie van Velskoendorp, geskryf en self geïllustreer. Dit sou ’n heerlike uitdaging wees om as ’n opvolg Grobbelaartjie se nasate die einste stofpad na Oudtshoorn en Mazawattee se teewinkel te laat stap. ’n Bosvarkie met velskoene is immers ’n karakter wat vra om geteken te word.

Het jy ’n ideale leser/gehoor in gedagte wanneer jy ’n illustrasie maak?

’n Illustrasie het somtyds die vermoë om teikenmarkte te oorskry. Dus volg ek maar die raad van juffrou Vorster (my skoolkunsonderwyser) en vra myself heeltyd af of die prent al sing. Ek teken maar verder totdat dit gebeur.

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address