Roadtripping

  • 1

Hoe gemaak as jy 1 634,9 kilometer of 15 ure en 48 minute agter 'n partytjie en vriende aanry?

Trek jy 'n Oupa Viljoen op jouself en ry reguit deur, RSG-radiostories en 'n bottel Sprite as geselskap. Ouma Viljoen lê klein opgekrul in die sonnetjie op die agtersitplek saggies en snork.
Of is jy soos my neef Juan, wat ry tot sy oë skrefies trek en hy op die grootpad aftrek vir 'n vinnige “forty winks”. Dan ’n Red Bull drink en verder ry tot die reguit Karoo-pad en die einde van die Red Bull die beste van hom kry en hy noodgedwonge op die Nasionale pad se geel streep aftrek vir nog 'n vinnige uiltjie knip. Om later weer doodmoeg aan te ploeter.

Dalk is jy soos my Italiaanse oom en Afrikaanse tannie wat SAA-kaartjies koop en hoop 'n familielid sal hul tyd opoffer om hulle by die lughawe te gaan haal en rond te karwei. My vriende is gaaf genoeg, ek erken dit, maar hulle sal definitief gatvol raak as ek na dag twee se versoek na Tannie so-en-so se tee-afspraak en Oom so-en-so se snoekbraai na lifts vra.

Oupa Viljoen is doeltreffend. Hy ry 15 uur, 45 minute plus 'n sekonde of twee vir Ouma Viljoen se piepie langs die pad. Neef Juan doen die trip op sy eie trant, sy eie tyd, sy biologiese anatomie sy rigting-aanwyser. En Tante Genie en Oom Carlo, wel hulle verontrief almal en die familie hoop in stilte dat dit hulle heel laaste trip is.

So hoe doen jy amper 16 ure in 'n motor sonder om aan die slaap te raak of 'n ongeluk te maak of mense te verontrief?

Jy vat 'n road-trip.

'n Road-trip is mos ‘n chill affair. Jy ry 'n bietjie, klim uit die kar, neem 'n foto, eet 'n kafee-paai, drink 'n louwarm Coke, rook 'n halwe sigaret en ry verder. As jy moeg is, stop jy by die eerste karavaanpark, slaap oor, eet 'n Wimpy-breakfast en ry weer 'n bietjie verder. Stop weer langs die pad om 'n geweefde mandjie vir Tannie Mona daar ver in Winburg se ouetehuis te koop, want shym, die antie kom nooit eintlik uit nie.

En so piekel 'n mens rustig voort as jy 'n road-trip vat. Lekker musiek op die cd system, die padkaart so halfpad oop op die agtersitplek saam met die slaapsakke van gisteraand se oorslaap en die nat handdoeke van vanoggend se skinny-dip in die lagoon.

So onderneem ek en my man toe 'n road-trip agter pelle aan vanaf Durban na Kaapstad vir 'n Nuwejaarspartytjie.

Enigiemand wat my man ken weet hy is nie die mees stiptelike persoon nie. Wat ’n agtuur vroegoggend-afspraak sou moes wees, draai meestal na 'n “Jammer ek is laat, maar blah, blah, blah” negeuurverskoning uit.

“Lovey, maak jouself klaar vir tienuur, ek sal definitief by die kantoor kan wegkom teen nege-dertig, al wat ons dan hoef te doen is pak. Ek sal die kar voor die tyd met diesel volmaak. By the way, het jy Thinus laat wees ons sal moremiddag in die Kaap wees?”

Tussen hakies: vrou pak alles, koop alles, maak seker die tent is opgeslaan, afgeslaan, afgespuit en afgestof; die slaapsakke gewas en dat ons gas het vir kookwater vir 'n koffietjie tydens breakfast. Ja, ek ken my man ...

Ek weet ook dat daar nie 'n manier is wat ons enigsins voor ten minste twee uur namiddag uit Durban ry nie, let alone Thinus bel en hom laat weet dat hy ons die volgende middag kan verwag!
My sesde sintuig was soos gewoontelik reg; my man verlaat die kantoor eers twaalfuur, ry verby Makro en besluit hy het plakkies nodig vir die vakansie. Terwyl hy daar is, vang sy oog die nuwe tweemantentjies, asook die special op die gazebo's. Hy tob oor 'n nuwe tennisraket en pas sommer terwyl hy daar is 'n paar tennistekkies aan. ’n Uur of wat later dwaal hy doodrustig met plakkies en 'n paar pamflette uit Makro.

Nou raak hy haastig, wil diesel ingooi, olie check, ruite skoonmaak en koeldrank koop vir die langpad, maar waar is die verdomde kredietkaart? ’n Swetsende woord en 'n vuishou in die lug ry hy terug KFC toe waar hy die vorige aand burgers gekoop het. Bliksem! Nie daar nie, terug Makro toe, ook nie daar nie, bel vir Lovey: “Sorry ek is laat, maar blah, blah, blah ... en by the way, waar is die credit card? O ja, my pa het dit, nou onthou ek ... oukei, ek's oppad.”

Net na halfvyf agtermiddag is als gepak en die son sak al effens. Dit lyk na reën, maar die luim is lig.

Ons ry verby Toti en by Margate se Wimpy eet ons 'n vinnige burger. Buite die restaurant dreig donderwolke direk bo ons, dit is pikgietdonker, maar my man oortuig my ons sal definitief more-middag in die Kaap wees.

Die hoofweg is stil, duskant Port Edward draai ons Kokstad toe en binne-in swart-grys wolke in. Sekondes later val groot plasse druppels en skielik is alles spierwit. Mis het ons stadig en stilletjies van voor bekruip. Die pad is steil en nou, en sigbaarheid raak al hoe minder. Dit pla my man min. Hy het “Fast en Furous” te veel gekyk en wil in die Kaap kom; 120 km/h is te stadig vir hom.

Stilletjies gryp ek na my “comfort” kussing en tas verward rond na die verlore bottel Merlot wat ek dankbaar skuins onder my sitplek raakvat. Ek vat ongemerk 'n groot sluk. Dit gaan 'n lang nag wees weet ek sommer. Hierdie is 'n ernstige road-trip, vriende verwag ons, die weer is onheilspellend en my man is op 'n “Vin Diesel” mission. Ek neem nog 'n gulsige sluk Merlot, sak terug teen my kussing en begin 'n liedjie neurie uit my studentedae ... “Roadtripping” van die Red Hot Chilli Peppers.

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top