Richtersveld, klipwoestyn

  • 1

Die voertuie is tot dakhoogte gelaai met tent en proviand. Alles vir ons sesdaagse oorlewing op die oewer van die Oranjerivier tussen die Richtersveld se klipgebergte. Die familie se kommerkyke in my rigting gaan nie ongemerk verby nie. Wetende dat ek te midde van klippe en niks wat kniehoogte groei, klokslag ? metamorfose ondergaan. Iewers tussen die leegheid verloor ek gewoonlik my positiewe gees en die swart hond kom vind sy lêplek.

Hierdie is ? wilsbesluit om al my voorbehoude te kruisig terwille van my mede- natuurmal gesinslede. Ek gaan die Richtersveld Nasionale Park verken, al kou ek spreekwoordeliks klippe.

Reeds aan die begin van die pad tussen Alexanderbaai en die Richtersveld raak die plantegroei minder en my moed plof saam met my skoene in die stofpad neer. Die middagson tooi die berge in purperblou toe ons die park binnery. Ek is dankbaar vir die olie veilig in my sak om die muskiete mee te verdryf. Die idee dat daar net kaal grond en klippe op my wag, is erg genoeg.

Ons stop vir ? wyle en bewonder die kleurespel op die klipkoppe voor ons. Hier verloor ek my hart tussen purper en graniet. Die pad kronkel tussen die berge deur, baster- en nooienskokerbome asook halfmense salueer ons. Dit word my eie ontdekkingsreis.

Die voertuie kruipend oor die rotsomringde slingerpad deur Bruintjiehoogte. Later klim ons te voet teen een van die hoogtes uit en staar in verwondering na al die berge oral rondom ons. Laag na laag volg hulle mekaar op. Pokkiespram, Penkop, Rooiberg en Vyfsusters. Wisselend van donkerblou tot mistige grys kleure. Rustig. Geanker, rotsvas in moederaarde. Dit laat my dink aan die Bybelteks “U omsluit my van alle kante” en ek sluk swaar aan die knop in my keel. Op hierdie oomblik besef ek opnuut my eie nietigheid.

Ons slaan kamp op, kort teen die oewer van die Oranjerivier. Die De Hoopkamp, aan die voete van Rooiberg, sal ons tuiste wees vir die duur van ons ekskursie. Aan die oorkant, dans die laaste sonlig geelwarm teen die Namibiese berge. Die rivier sing vrolik sy lied oor die klipbanke. Nimmereindigend. Dit word ons wiegelied tot die eerste sonstraal fluks by die tentdeur inloer.

Vandag vat ons die pad, dieper die park in. Ons bestemming, Tatasbergkamp. Versigtig, aangesien nie een van ons twee voertuie vier-trek is nie. Sand is nie geduldig met groentjies nie. Ek vergaap my aan die Boesmansgif wat teen die rotse groei. Ongenaakbare gasheer. Die Karoo-douvygies met hulle pers blomme, dankbaar vir die vog op die klippe. Rotse wat wissel in vorm en kleur. Sommige glad, ander ru, rooi gevlek. Getand, gesaag, uitgehol tot skuilplekkies vir moontlike besoekers wat rusplek soek.

Ons ry oor die eerste hoogte en slaan verstom remme aan. Die Richtersveld het weke tevore reën gehad en die spore lê duidelik in koraalvygiebosse wat welig in kringe groei. Pronkend met hulle wit en geel poeierkwassies. In my verbeelding sien ek die feëtjies ligvoets oor hulle dans.

Witgatbome steek sterk af teen die rooi rotse agter hulle. Jou oë loop al langs die hange tot daar waar dit in die horison verdwyn. Wyd uitgestrekte vlakte tussen berg en dal. Die tweespoorpad kruis menige kere die rivierloop. Moeilik om te glo dat hierdie sandrivier in ? brullende monster kan verander.

Tussen die diep sand steek ? horing en stuk skedel uit. Een van die minder gelukkiges wat nie die woestyn kon oorleef nie.  ? Ent verder tog lewe in die weerlose vorm van ? bossie jakkalsblom digby dryfhout. Altyd hoop op ? nuwe môre. Die dag word onuithoubaar warm en ons gaan soek die koelte van ? doringbos by die kamp op. Ten spyte van steekvlieë en muggies wat vog by jou ooghoeke soek, sorg die rivier vir die nodige lafenis teen die middaghitte.

Laatmiddag kom groet ? vriendelike bokwagter. Hy is deel van die Namabevolking wat ? nomadiese bestaan in die omgewing voer. Met hulle kuddes, word daar agter weiding aan getrek. Sy gesig getuig van die velheid van die son. Net so genadeloos soos hierdie klipwoestyn.

Dag vier. Die son breek die hemel oop oor die Oranjerivier. Ek drink die prentjiemooi toneel voor my in en bêre dit diep in my hart. Dit word my persoonlike skildery waarna ek nog maande lank in geestesoog staar en onthou …

Later stap ons al langs die rivier af en bekyk die spoelklippe van naderby. Die sandbank neem my al verder totdat ek teen die middag in die koelte onder ? rotshang rusplek vind. Rondom my reik die rotse weerskante na die blou hemel. Klipgesigte uit soliede rots gebeitel. Blou, geel en roesgekleure rotse met berggousblom, skotteloor en gansogies in ewige simbiose saamgesnoer. Kontras tussen klip en weerlose plante opsigtelik.

Dit laat my aan die gedig van Antjie Krog dink. “Narritief van Klip” en ek weet op daardie oomblik wat sy ervaar het. Haar soeke na woorde.

… dè, ek is klip sê dit …

… ek’s ding, hoor jy …

… ek verweer brutaal …
 

Onsmeebaar, onoplosbaar, onbepaald, onversetlik klip, word my eie refrein. Solied geanker in tyd. Deur eeue verweer en gevorm. Volmaak wagtend op die môres wat kom.

Sluiers van karmosyn sak oor my woestyn. Ek lig my kop na die hemelboog. My siel ontknoop. Die vraag rol sag oor my lippe. “God het U dit alles gemaak? Spesiaal vir wesens soos ek, ? sandkorrel wat in U Skepping staan? Waar het U Goddelikheid van die Skepping, die wetenskaplikes se evolusie geword?”

Op die asem van ? ligte bries ontvang ek my antwoord. “Sal jy nog twyfel My kind, as jy My Hand in die rots kom vind?”

Dag nommer ses breek eenvoudig te vinnig aan. Die moeilikste groet ooit. As die Richtersberge langs my stadig verdwyn, rol ? hartseer traan oor my wang. My gees sweef vir oulaas oor Rooiberg en talm vir ? oomblik op die oewer van die Oranjerivier. Iewers tussen rots en sand het ek my voetspore agtergelaat. Met tyd sal dit vervaag. Net die herinneringe bly.

Veilig ingepak vir my lewensreis vorentoe.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top