Riana Nel: "Om die balans te hou tussen wat mense wil luister en wie jy is, dis die trick"

  • 0

Riana Nel het pas ’n nuwe album, Die regte tyd, vrygestel. Sy beantwoord ’n paar vrae.

Goeiedag, Riana. Hoe's dinge?

Rustig dankie!

Geluk met die vrystelling van jou jongste album, Die regte tyd. Hoe voel jy oor die album noudat hy daar buite is, en hoe is die terugvoer wat jy ontvang? 

Ek is natuurlik baie trots op die album en tevrede met wat ons geskep het! Noudat dit op die rakke is, kry mens gelukkig boodskappe van ver en wyd van mense wat hul ervarings met jou deel oor hoe die album hul geraak het. Dis my grootste prys en ek hoop dat my musiek deel van mense se lewens sal word. So ek voel oorweldig deur die terugvoer!

Hoe het die konseptualisering-, skryf- en opnameproses van hierdie album verskil van dié van jou voriges?

Ek was deel van elke knoppie wat gedruk is en elke noot wat gespeel is. Dit was baie lang ure en baie koffie. Die album se tema was vir seker oor God se tydsberekening en hoe Hy weet wanneer. Die moeite werd was meer oor die wag- en vertrouproses! 

Met die luister van net die eerste twee snitte, "Die regte tyd" en "Tweede kans", is dit reeds duidelik dat hoewel jou meer bekende geestelike inslag nie weg is nie, daar ’n groter fokus op liefdesliedere is. Beskou jy die album as ’n voortsetting van (soos dit op jou webwerf beskryf word) ’n oorslaan van die gospelmark na die sekulêre mark wat begin is met die album Die moeite werd? In watter mate is die markgedrewe element betrokke as jy op jou eie sit en nuwe musiek skryf?

Soos vir enige prediker help dit nie jy preek bo-oor mense se koppe nie. Vir my is God net soveel in liefdesliedjies as die huwelik en vir my is God deel van my alledaagse lewe! En ek skryf meestal oor my ervarings en God se hand daarin. Ek weet dat as ek eg bly, sal mense kan identifiseer. 

Wat uitstaan by die luister van die album, is natuurlik jou sangvermoëns, asook die strukturering van die liedjies – dis allermins generies. Hoe voel jy het jou sang oor die afgelope klomp jare ontwikkel en verander? Dieselfde geld vir hoe jy liedjies skryf - in watter opsigte het jy in dié verband gegroei en verander oor die jare?

Mens verander geweldig van jou 20’s na jou 30’s! My musiek het dalk meer kommersieel geraak, want dis vir my sinloos om musiek te maak wat niemand wil luister nie. Veral nie as jy eintlik ’n boodskap wil oordra nie. Tog, om die balans te hou tussen wat mense wil luister en wie jy is, dis die trick

My vorige gospelalbums was meer gemik op ’n Engelse mark, omdat ek baie oorsee gesing het, maar toe raak ek verlief op die Afrikaanse volk! So ek wou in ’n taal en styl praat wat hulle verstaan en heimwee mee kan kry! Herinneringe mee kan maak. 

Gepraat van die liedjieskryf-element: jy skryf ook dikwels liedjies vir ander kunstenaars om uit te voer. Die lys is lank: onder meer Bobby van Jaarsveld en Lianie May. Hoe besluit jy met die skep van ’n liedjie of jy dit self sal wil opneem en uitvoer, en of jy dit eerder vir ’n ander kunstenaar gaan aanbied? Of is dit ’n geval dat jy gevra word om vir kunstenaars liedjies te skryf? Indien wel, wanneer sê ’n mens "ja" en wanneer sê ’n mens "nee"? Hoe voel jy wanneer ’n lied wat jy geskryf het, maar wat deur iemand anders opgeneem is, op die radio speel?

Ek geniet elke uitdaging! Liedjieskryf vir ander is soos om jouself in iemand anders se skoene te sit. Daarom is dit makliker om die liedjie te laat gaan. Want dis nie regtig jy nie. Dis hulle. 

Heimlik kry ek so ’n tevrede gevoel as ek dit hoor by feeste of op radio, want vir my is dit huge om vir ander te kan skryf! ’n Raar voorreg. 

Die album bevat heelwat sterk popliedjies wat saamgesels met die kragtoer-“hooks” van internasionale treffermakers - "Alles val" is ’n goeie voorbeeld. In watter mate verskil die Afrikaanse musiektoneel en -bedryf van dit wat ’n mens byvoorbeeld in Amerika of Europa aantref? Dit is natuurlik ’n baie breë vraag - dalk kan jy fokus op die soort snitte wat treffers word, die soort liriekinhoud wat aanklank vind by radiospeellyskeurders en so meer. (Veral liriekinhoud, sou ek raai, verskil effens in terme van wat plaaslik die grense toets en dit wat internasionaal as dapper beskou word?)

Die internasionale mark tussen Europa en die VSA verskil reeds so baie! Om dit te vergelyk met plaaslik sou eenvoudig net tyd in terme van tyd wees. Ons beweeg maar stadig en daarom moet ons as kunstenaars geduldig wees in ons skepping, want tyd is bietjie teen ons. 

Dit wat nou werk in die VSA, sal seker oor tien jaar hier dalk werk. My eerste album was te progressief vir SA, maar is verwelkom in Europa en die VSA. Tog, nou, tien jaar later koop mense weer daardie albums. 

Wat die internasionale mark betref: jy is geen vreemdeling daarvoor nie en het volgens jou webwerf al heelwat baie suksesvolle toere in die buiteland gehad. Het jy dit ooit oorweeg om uitsluitlik op die buiteland te konsentreer wat die verspreiding van jou musiek en jou toerprogram betref? Is daar iets spesifieks aan die plaaslike toneel wat aanloklik genoeg bly dat ’n mens eerder hier sal wil werk?

Die buiteland is net ’n groter hier, as ek dit so kan stel. Vir my is wêreldbekendheid nie die doel nie. Ek voel wel geroep vir  hier en nou en vir hierdie land op hierdie tyd. Ek sal nooit ’n loopbaan kies bo my mense, ’n man en gesin nie. En SA gun my alles. 

Jy het nog altyd musiek in Afrikaans en Engels uitgereik, en op Die regte tyd is dit weer die geval. In watter taal is jy meer gemaklik, en in watter taal voel jy druk jy jou beter uit? Hoe besluit jy of ’n sekere tema, oor ’n sekere akkoordstruktuur en met ’n sekere melodie, beter as ’n Afrikaanse of ’n Engelse liedjie sal werk?

Dit hang af. Ek het myself langer geleer om in Engels te skryf, so ek dink vinniger in Engels. Was op skool in Engels en in ’n Engelse kerk en mens leer vinnig om te improviseer in Engels. So dit kom natuurlik. Die kuns is om melodie in Afrikaans te laat sing, omdat dit ’n plofklanktaal is. En mens wil nie net “ek” en “jy” en “bly” en “ry” gebruik om jou koor te laat sing nie. Maar weer eens is dit die uitdaging en dit maak dit meer lonend as jy dit regkry. 

Soos genoem, is jy al baie jare doenig op die plaaslike en internasionale musiektoneel. Enige spesifieke hoogtepunte wat uitstaan? Enige voorvalle, optredes of venues wat jy eerder sal wil vergeet?

Die gehoor en klank maak die venue, vir seker. As daardie twee elemente saamspeel, dan werk ’n optrede! Ek verkies nie groot bo klein optredes nie, maar ek geniet ’n lewendige crowd. 

Dronk werk beslis nie, alhoewel ek al ’n menigte liedjies opgemaak het op die verhoog daaroor. Soos mense hul eie toestand verklap en dinge vir my uitskree. 

Wat hou die nabye en verre toekoms vir Riana Nel in?

Mens weet nooit! Vir nou vakansie vir ’n rukkie! As die Here wil! Skryf, skep en sing. 

Wat is die sin van die lewe?

Vir my is dit om Jesus en die Heilige Gees toe te laat om elke dingetjie, groot en klein, in my lewe te deel. Want as ek Hom kan ervaar in skottelgoed was en op ’n groot stage dan voel ek meer vervuld in my lewe as wat ek net groot oomblikke najaag. Hy is in alles! Hy maak sin van my lewe!

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top